Skip navigation

Ek het so sewe jaar gelede ons ervarings beskryf toe Chené deur die proses moes gaan om haar bestuurslisensie te kry. Ons is nou weer daar met Emile.

Ek was vol verwagting dat die administratiewe rompslomp na bykans ‘n dekade, merkbare verbeterings sou toon, maar rompslomp laat hom nie so maklik onderkry nie. Na ‘n paar weke se wag vir ‘n afspraak, het Emile sy leerlinglisensie gekry en kon ons begin oefen. Hy was maar soos almal erg onseker aan die begin, maar het gou sy voete gevind en bestuur sederdien met redelike selfvertroue. Die bestuurskool het later by my oorgeneem om al die vereiste kyke, inspeksies en metodes wat deesdae vereis word, in te dril.

Die instrukteur het gereken die mannetjie is gereed vir die groot toets en Emile en ma het afgesit verkeersafdeling toe om die afspraak te maak. Dis net foto’s, groen vorms, afskrifte en identiteitsdokumente waar jy kyk. Hulle kry toe ‘n afspraak vir so vyf weke later.

Die oggend van die toets is hy maar bleek om die kiewe by die huis weg. Hy het alles min of meer reg gedoen wat die toetsbeampte by die verkeersdepartement wou hê, maar het toe ‘n kyk of twee gemis en vergeet om ‘n flikkerlig aan te sit toe hy verby ‘n stilstaande motor, wat langs die sypaadjie in ’n straat geparkeer was, gery het. Dis die eerste keer dat ek ook daarvan hoor. Hy het met ‘n lang gesig by die huis aangekom en ons het maar aangemoedig en vertel dat dit nie einde van die wêreld is nie en dat die meeste mense nie die lisensie met hul eerste poging kry nie.

Izelle het nogal die vermoë om werk te skep en voordat ek my oë kon uitvee, is dit reeds gereël dat ek vir Emile by die skool moet oplaai , so 60 km heen en weer, en dan sommer direk na die verkeersdepartement moet ry om weer ‘n afspraak te maak. So gemaak, kom ons met groot verwagting by die departement aan. Ek het sy leerlinglisensie, sy identiteitsdokument, my identiteitsdokument, foto’s, die groen vorms, geld en my lisensie gereed (ek het dit selfs oorweeg om ‘n CV saam te vat, net vir ingeval). Ons was slaggereed.

Ek het moed geskep toe ek sien ons is derde in die tou. So tien minute later toe is ons voor. Al die vorms is oorhandig en toe vra die vrou agter die toonbank ‘n vraag waarvoor ons nie gereed was nie. ‘n Bewys van adres. Ek is deur die hele flipfile van voor na agter en toe weer van agter na voor, maar nêrens was so iets te vinde nie. Emile moet ‘n rekening, bankstaat of iets dergliks voorlê as bewys van adres. Die feit dat hy nog ‘n skolier is tel nie punte nie. Sy ruk toe ‘n nuwe vorm uit, ‘n affidavit, wat ek moet laat waarmerk by ‘n kommissaris van ede met een van my bewyse van adres, wat dan sal bewys dat hy ook daar bly.

Dit was nou ‘n gawe halfuur uit my lewe gemors. By die huis is ek omgesukkeld en wou by Izelle weet hoekom sy ons nie gewaarsku het oor die adres storie nie. Sy het nie, want hulle het dit nie die vorige keer gevra nie. Dit maak 100% sin, as jy met burokrasie te doen kry.

‘n Paar dae later het ons die polisie besig gehou met die onsinnige vorm, asof hulle nie genoeg misdaad het om te bekamp nie.

Ek het my vernuftig uit die volgende rondte gewerk en Emile en ma is weer deur dieselfde prosedure om hom by die skool op te laai, in plaas van sy normale busrit, en maar weer deur die pyniging te gaan. By die departement aangekom, is al die papierwerk weer oorhandig en toe soek hulle die munisipale rekening wat moet ooreenstem met die gewaarmerkte vorm. Nodeloos om te sê, die rekening is by die huis, want die water en ligte is die vorige dag oor die internet betaal. Gelukkig onthou ma sy het ‘n bankstaat in die motor en piekel hulle terug na die parkeerterrein, wat op sy eie seker vir ten minste twee ongelukke per dag in die besige hoofstraat verantwoordelik is. ‘n Redelike mens sou reken dis tog ‘n verkeersafdeling se parkeerterrein, maar die redelike mens toets het al dekades gelede hier gesneuwel. Swak ontwerp, te min parkeerplekke, teen ‘n hoofpad, geen draaiplek …… ag los maar, dis ‘n gesprek vir ‘n ander dag.

Gewapen met die bankstaat val hulle weer in die tou in. Net vir interessantheid, as hulle nie toevallig die bankstaat gehad het nie en die volgende dag moes terugkom, begin jy weer voor af. ‘n Nuwe groen vorm, nuwe foto’s en weer ‘n oogtoets (want sy oë kon seker oornag dramaties verswak het). Vervolgens word kopieë van alles gemaak, foto’s word geplak en dinge op die rekenaar ingevoer.

Nou het hy ‘n afspraak vir amper oor ‘n maand.

Ek sal net graag wil weet. Ons leef in die kommunikasie era. Die era van rekenaars en stelsels. Die era waar slim mense daarin slaag om vuurpyle te lanseer en weer op dieselfde plek laat land. Waar die internet en papierlose organisasies die toon aangee. Ek bestel byvoorbeeld ‘n boek by Amazon of Take-a-lot. Ek betaal oor die internet en voltooi my bestelling ook daar. Ek kry onmiddelik ‘n e-mail en sms wat my bedank vir die bestelling en waarin al die detail bevestig word, insluitend ‘n bewys van betaling. Hulle hou my op hoogte met wanneer ek die aflewering kan verwag. Die volgende dag sê hulle vir my hoe laat die aflewering gaan plaasvind en glo dit as jy wil, die aflewering is mooi op tyd. Ek het skaars geteken vir die pakkie, toe word ek weer per mail en sms ingelig dat die proses voltooi is en die boek nou afgelewer is.

Soomloos en effektief.

Nou hoekom kan die lisensieproses nie tred hou met wat in die nuwe wêreld gebeur nie? Is dit onbevoegdheid op alle vlakke, insluitend die mense in beheer wat reuse salarisse kry (nie verdien nie)? Is dit die wil wat ontbreek? Kennis? Is dit werkskepping vir talle onnodige beamptes? Is dit hoe dit al vir 50 jaar gedoen word en hoekom sal ons dit verander? Of is dit maar net ons gee eenvoudig nie om nie?

Hoekom kan dit nie moontlik wees om al die nodige vorms elektronies in te vul en reeds vir hulle te stuur nie. Jou foto’s en vingerafdrukke op ‘n stelsel te kry sodat dit daar kan wees vir ewig nie. Hoekom elke keer ‘n oogtoets doen? Twee jaar later, ja. Twee dae later, nee. Gaan jou oë so dramaties verswak in ‘n paar dae? Dit is selfs moontlik om dit so effektief te maak, dat jy ‘n afspraak twee of drie dae later kan kry.

Ons as die gewone bevolking skud maar net ons koppe, kla op sosiale media en by braaivleisvure en aanvaar maar gedwee die middelmatigheid en hopelose administrasie.

Gaan dit ooit verander?

Ek sal geen geld daarop verwed nie. Maar wag, ek moet nou eers my motorlisensie laat hernu. Die lisensieowerhede stuur mos nie meer die hernuwingsvorms uit nie. En jy kan nie met ‘n debiet- of kredietkaart betaal, nie, maar wel met ‘n tjek.

Ek sal maar gou die wa uit die skuur trek en die osse inspan.

1836 hier kom ons.

Ek kry gister ‘n e-pos van ‘n ou mater van my, wat al amper twintig jaar in Engeland bly. Ons twee kom ‘n lang pad en verstaan mekaar se denke en kompleksiteite.

Hy skryf (en ek haal net ‘n stukkie van sy skrywe aan):

My goeie ou vriend,

Ek is verskeurd tussen my hart en verstand. Gelukkig wen my verstand gewoonlik.

Ek sit hier die dinge in SA van ‘n afstand af en beskou (en beleef!) en my hart bloei. Ek is van nature ‘n optimis en probeer positiewe gedagtes en boodskappe plant. Maar ek is ook ‘n realis en dis waar die stryd tussen my hart en verstand vandaan kom.

Vertel my asseblief wat jou gedagtes is, jy wat nader aan die vuur sit.

Hy verwys natuurlik na dit wat tans by die universiteite en in die land aan die gebeur is.

Ek gaan sit voor die rekenaar om hom gou te antwoord en ek besef ek kan nie. Daar is nie ‘n vinnige antwoord om alles wat binne my woed, net gou te verwoord nie.

En ek wonder. Hoekom voel ek anders oor wat tans gebeur, as oor al die ander gebeure van die afgelope twintig jaar? Ons het tog nog altyd betogings, optogte en oproer gehad. Dis nie iets wat nou skielik oornag begin posvat het nie. Wat is anders? Hoekom voel ek soos ek op die oomblik voel?

Hoe voel ek, wonder ek skielik?

Ek vang myself die afgelope paar weke dat ek baie meer kort van draad is. Daar is so bedonnerde wolk wat oor my hang. Ek hap na my arme vrou en is ongeduldig as Emile my iets oor huiswerk vra. Die honde se blaffery en die African Greys se gekras werk op my senuwees en ek storm gereeld in die TV kamer in om hulle stil te maak.

Daar bel ‘n tele-bemarker en ek sny hom onmiddelik af met ‘n “ek stel nie belang nie”. Vyf minute later bel daar nog een en ek verloor dit met die man. Toe ek aflui, skrik ek vir myself. Waar het dit vandaan gekom?

Ek ry gister in Tygervallei. ‘n (Swart)vrou staan langs die straat en wag om oor te stap. Sy drink die laaste bietjie van haar McDonalds melkskommel en gooi die houer met ‘n boog langs haar op die sypaadjie. Ek moes my bedwing om nie stil te hou en haar te konfronteer nie.

Wat gaan aan?

Ek beskou myself nog altyd as iemand met ‘n gesonde emosionele intelligensie, ‘n redelike mens met empatie, met ‘n koel kop wat emosies kan herken en gemaklik daarmee kan werk, wat gebalanseerd na enige situasie kan kyk en die meriete van albei kante kan insien. Ek is nog altyd diplomaties en taktvol. Ek oorreageer selde en kan kalm bly in krisis situasies.

Maar ek is nie myself die afgelope tyd nie. Ek is onrustig. Ek is moeilik. Ek is aggressief.

Ek kan nie my vinger presies daarop sit nie, maar ek vermoed ek het ‘n idee wat aangaan.

Ek sien wat op die oomblik by die universiteite gebeur. Universiteite waarvan ek oor jare deel van was. Waar ons klas gedraf het, geleer het, gegroei het en drooggemaak het. Universiteite wat besig is om te brand. Universiteite wat klasse onbepaald sluit. Universiteite wat duisende, onskuldige studente die reg ontneem om met hul studies voort te gaan.

Oral word eise gestel en wanneer ruggraatlose besture aan die eise voldoen word die eise verander en verhoog. Oral word geëis dat vise-rektore moet bedank, vise-rektore wat onlangs nog gespog het met hul slim planne om transformasie te verseker. Geboue, kunswerke en historiese standbeelde word vernietig en aan die brand gesteek. Menslike ontlasting word in kantore en lesinglokale uitgegooi. Polisiemanne staan en kyk hoe dié dinge gebeur met ‘n non-chalante houding. Wanneer “studente” wel gearresteer word, is dit R800 borgtog en twee weke later word die sake teruggetrek, omdat die eisers dreig om die instansie onregeerbaar te maak indien die sake nie laat vaar word nie.

Oral is politici besig met opruiende toesprake oor grond wat gesteel is en wetgewing word aanvaar wat die afneem van grond wettig maak. Toesprake en uitsprake wat opsweep, verdeel en polariseer. Nie alleen die groepe van wie jy dit in elk geval sou verwag nie, maar ook vanaf die president en sy kaders in verskillende ministeries.

Maar dit gebeur nog altyd. Wat is nou anders?

Ek vermoed dit gaan vir my daaroor dat die eise oor klasgelde, standbeelde wat moet val en Afrikaans as onderrigtaal wat moet verdwyn, alles net rookskerms is. Wat ons nou beleef is ‘n doelgerigte aksie teen my as blanke Afrikaner. ‘n Totale onverdraagsaamheid teenoor alles wat uit die verlede kom. ‘n Miskenning van wie ek is, my taal en my geskiedenis. ‘n Aksie wat skree: “Jy is nie welkom hier nie”. Dis wat my gemoed so omdolwe.

In die situasie sou ‘n mens goeie leierskap van verkose leiers verwag. Politieke-, sake-, gemeenskaps- en godsdiensleiers. Maar die stilte is oorverdowend. Ons is in ‘n totale leierskap vakuum. Almal is so besorg oor dit wat hulle kan verloor as hulle eerlike menings met integriteit sou lug. Ons moet tog net nie ‘n ding op sy naam noem of uitsprake maak wat nie polities korrek is nie. Ons sit dus met niksseggende uitsprake en veroordelings. En die politici wat die vuur aanblaas, verkeer onder die illusie dat hulle die haat en anargie kan beheer en gebruik soos dit hulle pas. As dié kruitvat ontplof gaan niemand wen nie.

Sosiale media blaas die vlamme nog hoër. Kyk ek na die kommentare oor elkeen van die berigte wat op Twitter verskyn, kom ek diep onder die indruk van die effek van ons skoolstelsel oor die afgelope twee dekades. Die vlak van redenasie en debatvoering is nie eens op graad 1 vlak nie. Daar is net onverdraagsaamheid, ons/hulle denke en beledigings. Beslis nie die plek waar oor die land se toekoms gepraat moet word nie. Daar is ook dié wat net wil oorlog maak. Dis diegene wat nog nooit ‘n oorlog beleef het nie. Hulle dink dis soos Playstation. Wat dink die mense sal die gevolg wees as ‘n burgeroorlog sou uitbreek? Wie gaan wen? Wie sal oorbly?

Ek het ‘n vermoede daar is ook ‘n element in van die politieke partye wat voel hulle is verneuk met die skikking wat in die vroeë 90’s bereik is. Hulle het nooit hulle rewolusie gehad soos in die res van Afrika nie. Daarom die doelbewuste poging tot polarisasie en verdeeldheid en om gemoedere op te sweep.

Die aanstigters van links en regs, moet ons altyd in gedagte hou, is die ekstremiste. Klein groepies wat die meeste geraas maak, die meeste media dekking kry (omdat dit sensasie veroorsaak wat koerante verkoop) en wat weet dat die massa in die middel gematig is. Al hoe jy hulle kan mobiliseer en aanhits, is met dit wat ons tans beleef.

Ek is een van daai massa in die middel wat net probeer om ‘n toekoms in hierdie land te bou. Ek is hier gebore, my voorgeslagte ook. Dis waar ek is en waar ek gaan bly. Dis my land. Ek mag hier wees en geen ekstremis sal dit verander nie. Daar is miljoene wat voel net soos ek. Mense soos die jongmense van alle rasse wat elke oggend by die universiteit se hek bymekaar kom en saam bid. Dis die stemme wat meer gehoor moet word.

My antwoord op die e-pos? Ek weet steeds nie. Ek leef maar elke dag met die wete dat God in beheer is van my lewe. Ek doen wat ek kan in my onmiddelike omgewing. Ek probeer goeie verhoudinge bou met almal in my werksomgewing, is vriendelik met almal wat oor my pad kom. Ek lees minder kommentare op sosiale media en verwyder persone van my profiele af wat ekstremisiese sienings preek.

Ek sien humor in meeste dinge wat gebeur. Ek weet ook dat ons nie ons vertroue in die regering, politici en belangrike mense moet plaas nie. Dis net die Here en gewone mense wat die land sal red. Die groot massa in die middel. Dis hulle wat moet saamstaan en die stemme links en regs moet stilmaak, ook by die stembus.

Ek hoop dit gaan goed daar in Engeland, ou maat.

Daar is op die oomblik ‘n paar videos op Facebook en YouTube wat op ‘n baie humoristiese manier die verskil tussen mans en vroue se breine beskryf. Mense soos Mark Gungor wys, net soos vroeër met die baie gewilde Defending the Caveman, dat daar besliste verskille is tussen hoe mans en vroue dink, kommunikeer en redeneer. Die bekende Men are from Mars and Women from Venus, het ook die tema in detail aangeraak.

Dit was vir my tot op hede maar meestal teorie, maar vanoggend het ek dit in al sy glorie in die praktyk beleef.

Ek beplan selde ‘n naweek. Wanneer ons wil gaan kamp of vriende oornooi, gaan daar bietjie beplanning in, maar dis gewoonlik die uitsondering. Ek staan op ‘n Saterdagoggend op, drink ‘n rustige koffie (en bring vir my wederhelfte ‘n koffie in die bed), kyk na die weer buitekant en besluit dan of ek iets dié dag wil vermag. As dit ‘n rowwe week was, is dit glad nie moeilik om te besluit om absoluut niks te doen nie. Sou ek wel so voel, sal ek klein takies om die huis aanpak, die tuin natspuit of as dit nodig raak, my kar weer ‘n slag was. Vanoggend was dit regtig nodig om my kar te was. Ek het die vorige week ongeveer 1800 kilometer se langpad gery en die kar was vol stof, modder en goggas.

Net daar skop die manlike brein in. Ek fokus, trek die kar uit die garage, sleep my ou metaal melkemmer nader, kry die tuinslang gereed en gaan haal die spuitkop wat lekker drukking gee. Alles is gereed om die kar te reining.

“Wil jy nie sommer die oprit en die paadjie na die voordeur afspuit terwyl jy nou besig is nie?” vra vroulief van die kombuis af.

Ek het gister die gras en rante gesny en daar lê nog so paar oorblyfsels op die plaveisel. Ja, ek weet ek het gesê ek sal dit een of ander tyd doen, maar ek nou op ‘n missie om die kar te was. Ek bewaar maar die vrede en onderneem om dit onverwyld te doen.

“Kan die honde maar saam met jou uitgaan, hulle kom nooit voor in die tuin nie?”

My vrou is ‘n toegewyde en ekstreme diere liefhebber en bedryf ‘n honde reddings organisasie in die Wes-Kaap. Gevolglik het ons tans sewe sogenaamde rescues by die huis, plus ‘n besoeker wat blykbaar reeds ‘n huis gekry het maar eers volgende week met die nuwe eienaar versoen sal word. ‘n Groot gros van hulle was ook veronderstel om net tydelike loseerders te wees, maar as hulle eers hier is, raak dit spoedig permanent.

“Hulle snuffel maar net bietjie in die voortuin rond en sal jou nie pla nie”, gaan sy voort.

Ek keer onmiddelik. Uit vorige ervaring weet ek dat dit alles behalwe ‘n rustige gesnuffel gaan wees. Die Golden Retriever sal dadelik aan die blaf gaan vir die bure oorkant se Jack Russell, wat in ‘n kettingreaksie weer die string Spanjoele aan die blaf gaan sit. Een of twee van hulle gaan die vars gesnyde gras beproef en ‘n aandenkinkie daar los. Uiteindelik sal ek die kar se was moet los, soos ‘n Cowboy ‘n round-up moet doen en almal eers terug in die agterplaas kry.

Deel van die vreugde van karwas en tuin natspuit is die feit dat jy glad nie jou brein hoef te gebruik nie. Soos die genoemde videos sê, het mans boksies vir elke ding in hul breine. Maar belangrik, elke boksie het niks met die ander te doen nie. Ons het ook ‘n boksie in ons breine wat absoluut niks in het nie. Dis ons gunsteling boksie. Wanneer ‘n vrou dan sou vra waaraan jy dink, is die antwoord “aan niks”. Hulle verstaan dit glad nie, want alles in ‘n vrou se brein is gekoppel aan alles anders.

Om dus my aandag weg te neem van die karwas, moet ek die niks boksie bêre en ‘n ander een oopmaak om die honde bymekaar te maak. Dis nie waarmee ek besig wil wees nie.

Ek keer dus met nog meer dringendheid, maar sy hoor my nie eens nie.

“Ek sal die kanthekkie vir hulle oopmaak, dan kan hulle in- en uitkom soos hulle wil”, vervolg sy, terwyl ek my emmer met warm water by die wasbak volmaak. Ek gooi wasseep by en loop deur die garage na die kar toe.

Die volgende oomblik lyk dit soos die jaarlike migrasie in die Serengeti toe al agt agter my losgelaat word. Hulle blaf en storm opgewonde hek toe. Die Goldie raak onmiddelik verstrengel in ‘n stuk van die tuinslang en in ‘n poging om los te kom, hardloop hy my emmer vol warm seepwater dat dit daar trek en jy net sponse sien spat. Die een Spaniel staan ook sommer nader om met ‘n spons weg te hardloop, maar kon seker aan my liggaamshouding sien dat dit nie nou ‘n goeie idee sou wees nie. Intussen blaf die res van die span dat hoor en sien vergaan vir ‘n fietsryer wat in die straat verby sukkel.

Om kalm en gesentreerd te bly, tel ek toe maar liewer net die leë emmer op, stap stadig en berekend die huis in en begin dit weer in die opwaskamer volmaak.

Vroulief beskou die uitrukking op my gesig en vra verbaas:

“Hoekom lyk jy so befoeterd?”

Ek wou die voor die hand liggende net begin uitwys, toe is sy al by die deur uit om die koor blaffers te gaan stilmaak. Ons loop mekaar weer in die deur raak wat die garage met die huis verbind. Haar volgende opmerking het die hele teorie pragtig in die praktyk gedemonstreer:

“Jy moet net sê as die honde moet inkom”

‘n Rukkie later is die orde herstel en ek was die kar dat die skuimbolle staan. Een van die spanjoele tjank by die deur om weer uit te kom en ek hoor hoe vroulief vir hom sê:

“Buddy, jy kan nie nou uitgaan nie. Pa is in ‘n bui en hy is lelik met julle”.

Ek kon vir die res van die dag nie weer in my niks boksie inkom nie.

Emile,

Jy word vandag ‘n man. Dit voel vir my heeltemal onwerklik. Kan dit al agtien jaar wees?

Op 1 Julie 1997, om presies 03:30 in die nag, het ek die oproep gekry wat ek die hele dag gevrees het:

“Jou seun is gebore. Hy weeg een kilogram. Hy het ‘n 50/50 kans om te oorleef. Ons bid almal dat hy die nag sal deursien. Daarna is dit net genade. Hy mag dalk sigprobleme hê. Sy longe mag dalk nie reg funksioneer nie. Ons moet maar sien wat gebeur ….”

“Dit gaan onder omstandighede goed met jou vrou. Haar bloeddruk was net te hoog. Die vrugwater het gelek. Ons het die geboorte probeer uitstel, maar dit het nie gehelp nie. Hy wou met alle geweld, op 28 weke, die wêreld sien”.

“Ons wens jy kon hier wees, maar jy moes vandag begin met jou nuwe werk, 1600 km van hier af. Dinge het net nie uitgewerk soos wat dit so noukeurig beplan is nie”.

Ek het jou vir die eerste keer gesien, eers vier dae later. So klein. So, so klein. Jy was deurskynend, asof jou vel nog nie kans gekry het om te vorm nie. Jy het vlak asemgehaal, gekoppel aan ‘n klomp pype. Daar was ‘n frons op jou gesig, asof jy toe reeds besluit het dat jy nie net gaan lê nie. Dat jy die moeilike begin nie maar net gaan aanvaar nie, maar met mening gaan aanvat.

Ek wou jou so graag optel, vasdruk en vir jou sê dat alles gaan uitwerk, dat jy ok gaan wees, dalk meer om myself te oortuig as enige iets anders. Maar ek kon nie aan jou raak nie. Jy het alleen daar in die broeikas gelê. Ek het my duim teen die glas langs jou gehou en gesien dis dikker as jou been. My pinkie was dikker as jou arm. Ek kon my emosies moeilik beheer.

Sewe weke later het ek vir jou en ouma by die lughawe gaan haal. Jy was by die huis! As ons vandag terugkyk was dit waarskynlik ‘n seën dat ons nie geweet het wat alles voorlê nie. Die realiteite van ‘n vroeggebore baba. Jou etes was met ‘n oordrupperjie elke halfuur vir jou gevoer. Jy kon nie meer as dit op ‘n slag eet nie. Die daaglikse refluks, wat later met ‘n operasie reggestel is. Vir die volgende ses jaar het ons byna niks geslaap nie. Jou dag en nag was omgeruil. Jy het toe reeds begin met fisio- en arbeidsterapie. Oogtoetse en gehoortoetse. Neuroloog besoeke. Gereelde besoeke aan ‘n wonderlike pediater, wat ‘n paar jaar later tragies aan kanker oorlede is. Jy het op jou rug begin kruip, iets wat ons gou moes aanspreek. Later het die spraakterapie ook bygekom. En gromits, dertien keer se gromits!

Maar jy was ‘n vegtertjie. Niks sou jou onderkry nie. En die Here was ons genadig. Jy het geen gesondheidsprobleme oorgehou nie.

Jy het met jou skoolloopbaan begin en ons elke dag verstom. Jou prestasies met jou skoolwerk en sport het ons baie trots gemaak en doen dit steeds. Maar alhoewel ons saam met jou dankbaar is vir al die prestasies en toekennings, was dit vir my nog nooit die belangrikste ding nie.

Ek is bo alles, die meeste trots op jou vir die mens wat jy geword het.

Vriendelik, hulpvaardig en liefdevol. Jy leef jou waardes elke dag en is nie skaam om dit, in die era waarin ons vandag lewe, te wys nie. Jy is gedissiplineerd, wat jou nog ver in die lewe gaan neem. Jou onderskeidingsvermoë tussen reg en verkeerd, goed en sleg, aanvaarbaar en nie-aanvaarbaar, is ontwikkel op ‘n vlak wat jou tydgenote jare vooruit is. Jy wys respek vir mense wat dit verdien. Jou gesin is vir jou belangrik en jy het vroeg reeds besef wat prioriteit in die lewe is. Jy pas jou gesondheid op en kyk na jouself. En met al jou prestasies, bly jy nederig, met albei voete stewig op die grond.

Jou toekoms lê oop voor jou. Jy het soveel talent. Glo in jouself. Glo in die feit dat jy tot enige iets instaat is. Dat jy ‘n sukses kan maak van alles wat jy aanpak. Ek en ma sal jou altyd ondersteun en aanmoedig. Bereik jou volle potensiaal. Moenie tevrede wees met enige iets minder nie. Moenie dat teleurstellings en mense wat oor jou pad kom, jou fassinering met die lewe en dinge om jou wegneem nie. Behou jou nuuskierigheid. Hou aan om ‘n individualis te wees; jy was nog nooit net een van die trop nie. Dit is nooit maklik om teen die stroom te dink nie, maar jy het die innerlike krag om dit te doen. Bo alles, behou jou geloof. Die Here het ‘n plan met jou gehad van jou eerste asemteug af.

Leer wat jy kan uit die verlede en droom oor die toekoms, maar moenie in een van die twee lewe nie. Leef in die hede. Waardeer ‘n mooi sonsondergang of ‘n goeie gesprek. Leer uit jou foute, maar moenie jouself heeltyd kasty daaroor nie. Beweeg aan. Streef daarna om wys te word, nie net om oud te word nie. Leef voluit, moenie net bestaan nie. Doen dinge wat jou opgewonde maak, wat jou siel aanraak. Droom groot, maak planne en doen dit dan. Sonder die aksie, is dit net drome.

Vermy negatiewe mense. Hulle steel jou passie en energie. Lag baie, ook vir jouself.

Dankie vir die tye wat ons saam spandeer. Sommer net see toe ry. Die onvergeetlike kampnaweke. Gim toe gaan. Tafelberg uitklim. Die kere wat ons die huis ontwrig met ons gejuig as die Stormers hulle ding doen. Ek ruil dit vir niks.

Nou is jy agtien. Sprei jou vlerke, maar weet daar is altyd ‘n plek vir jou by die huis.

Jy en sussie Chené het my lewe verryk en van my ‘n beter mens gemaak. Ek is julle ewig dankbaar daarvoor. Ek kon nie vir meer gevra het nie.

Liefde

Jou pa.

Ons telefoon het vanoggend uit die bloute begin probleme gee. Krap geluide wat enige poging om ‘n gesprek te voer, heeltemal onmoontlik maak. Dis nou die kere wat jy wel die oproep kan voltooi en die konneksie nie sonder waarskuwing weer ‘n skakeltoon gee nie. Erger nog, dit het ook die effek dat ons die ADSL lyn en WiFi verloor, wat e-pos en besigheids kommunikasie erg affekteer. Die rooter se liggies flikker soos ‘n disko uit die 70’s.

Ek het subtiel vir vroulief voorgestel of sy nie dalk die ou sakie met Telkom wil opneem nie, maar sy het regdeur my planne gesien (niks nuut hier nie) en die apie terstonds vir my teruggegee. Dit het my met geen ander keuse gelaat as om Telkom se hulpnommer te skakel nie. Hulpnommer …hie hie hie, bwaahaahaha.

Ek skakel 10210.

Die spookstem vra of ek ‘n nuwe kliënt of ‘n ou hand is. Druk 1 of 2. Maklik genoeg, ek is mos al jare ‘n slagoffer, skuus kliënt. Vervolgens kry ek keuses of dit oor tegniese sake gaan, rekening navrae is en waarskynlik ‘n hele paar ander keuses, waarna ek nie luister nie, want myne is mos nommer 1. Nou wil die stem weet of ek bel vanaf die nommer wat probleme gee of vanaf ‘n ander nommer. Ek wonder hoeveel mense opsie 1 kies, siende dat dié foon juis die probleemgewer is. Ek kies opsie 2. Nou wil sy weet wat die nege syfer nommer is wat ek wil rapporteer. Maklik genoeg. Ek voel of ek vordering maak.

Die spookstem raak skielik ernstig. Besef ek dat as ek voortgaan met die proses, daar ‘n waarskynlikheid bestaan dat sou dit nie Telkom se fout of probleem wees nie, dit my gaan laat met addisionele kostes? Sy wil verder weet of ek regtig wil voortgaan met die oproep. Sy is so oortuigend dat ek byna die foon neersit. Ek bedink my op die laaste oomblik en besluit om deur te druk. Nou wil sy weet waarheen hulle ‘n verwysingsnommer kan sms wanneer hulle aan die probleem sou aandag gee. Ek verskaf my selfoon nommer.

Net om die erns van die situasie onomwonde by my tuis te bring, waarsku sy my weer oor die moontlike addisionele kostes, sou ek voortgaan met die oproep.

Volgens die stem, met wie ek nou al ‘n goeie verhouding ontwikkel het, kan ek dit nou daar laat en hulle sal ondersoek instel of het ek die keuse om met ‘n konsultant te praat. My vertroue in die gesprek tot dusver is nie watwonders nie en ek kies om met die konsultant te praat. Na ‘n kort twintig minute is ek voor in die tou.

Die konsultant vra waarmee sy kan help. Natuurlik alles in Engels, want Afrikaans is lankal afgeskaf in Telkom. Ek verduidelik van die gekrap en oproepe wat sonder waarskuwing afgesny word en van die internet verbinding en WiFi wat weg is. Haar volgende woorde neem die wind so effens uit my seile: Besef ek dat sou ek voortgaan met die oproep dat daar addisionele kostes mag wees as dit nie hulle fout is nie. Ek besef dit is ‘n wonderlike tegniek om navrae en klagtes te halveer. Ek voel braaf en verklaar dat ek kans sien vir ‘n navraag. Ek voel soos ‘n deelnemer op Who wants to be a millionnaire. Is that your final answer?

Vervolgens wil sy weet wat die nommer van die foon is wat ek wil aanmeld. Uhm, hallo. Hoekom moes ek dit vroeër verskaf? Ek gee die nommer. Het ek ‘n nommer waarheen hulle ‘n sms kan stuur met ‘n verwysingsnommer? Daar is al ‘n waarneembare kaal kol aan die kant van my kop soos ek my hare een vir een uittrek, maar ek verskaf maar weer die nommer.

Sy vra dat ek moet aanhou, dan sal sy die nommer toets. Dit raak stil aan die ander kant, voordat ek kan reageer. En dit bly stil. Minute later praat ek, sê hallo, sing ‘n liedjie, maar geen reaksie. Ek weet nie of ek moet aanhou of van vooraf begin nie. Ek hou nog ‘n paar minute aan. Skielik is daar lewe. Sy rapporteer dat daar beslis fout is met die lyn en dat hulle aandag daaraan sal gee. “Hoe gou”, vra ek. Sy kan nie sê nie. Ek dink aan die Sasol advertensie van die kleintjie in die stootwaentjie, waar die ouma antwoord: “Ag seker nie ver nie”.

Sy wil weet of sy vir my nog iets kan beteken. Ek is nie eens seker of sy op dié versoek vir my iets beteken het nie en sê dis al.

Ons lui af.

Ek kry minute later ‘n sms.

“Dear customer. Fault xxxx has been created for service Id xxxx. Telkom wil endeavour to resolve this within 5 days. Apologies for the inconvenience. Please do not reply to this SMS. Telkom”.

Ek wonder of hulle die fout geskep het. Dis wat die sms beweer. Ek is dankbaar dat hulle gaan poog om dit binne vyf dae op te los. Ek is maar net afhanklik van die lyn vir besigheid en persoonlike doeleindes.

Intussen sien ek die Poskantoor is op sy laaste bene, SAA soek alweer geld by die belasting betaler, Eskom verhoog tariewe om kragstasies te bou wat al moes gewerk het en die SABC gee kort-kort goue handdrukke vir onbevoegde kaders wat die plek verder in die grond in bestuur.

En ek wonder of ons ooit die verrotting sal kan omkeer. Of is ons soos die padda in die water wat geleidelik warmer word; ons aanvaar maar dis hoe dit moet wees. Intussen groei die ekonomie teen 1.4% en ons wonder hoekom.

Ek het intussen agtergekom die Bee Gees se treffer uit die laat 70’s, Tragedy, sinchroniseer perfek met my rooter se disco liggies.

Toeval? Ek dink nie so nie.

Die Bybel maan in Mattheus 6:3 dat wanneer jy iets vir die armes gee, jou linkerhand nie moet weet wat jou regterhand doen nie, bedoelende dat jy nie ‘n ophef daarvan moet maak nie, maar dit eerder in die stilligheid moet doen. Ek het egter hierdie week ‘n heel ander betekenis vir dié spreekwoord ontdek, ‘n baie meer praktiese betekenis.

Ek is soos 90% van die bevolking regshandig en het nog nooit enige waarde daaraan geheg of veel daaroor gedink nie. Todat ek verlede week op kort kennisgewing, moes aantree vir ‘n skouer operasie. Ja, aan my regterskouer. Die dokter het geduldig verduidelik dat ek vir ses weke niks met my arm mag doen nie, daarna vir ‘n verdere ses weke rehabilitasie behandeling moet ontvang om die spiere weer te versterk en dan nog ‘n verdere drie maande waartydens ek steeds nie enige gewig op die spiere mag plaas nie.

Ek het hom die woorde hoor sê, maar het in my binneste reeds besluit dat die raamwerk seker maar net ‘n voorstel is vir kleinserige, klaerige en pieperige mense. Ek sal die hindernis maar vat soos dit kom en sal gou weer op die been wees.

Ek was reg. Dis nou ‘n week later en ek is op die been. Minus ‘n arm. My regterskouer is SEER. Trane in die oë seer. Opkrul in die fetusposisie en verlang na jou ma seer. Enigste probleem is, ek kan nie in die fetusposisie lê nie. Van alle moontlike maniere om te lê, kan ek net een benut. Op my rug. Met ‘n sling. Die woordeboek vertaal sling met hangverband of strop. Strop klink beslis na die beter woord. Ek slaap nou soos ‘n baba. Nee, nie die spreekwoordelike baba nie. ‘n Regte baba, met ander woorde, ek slaap so twee ure, huil ‘n bietjie, slaap weer vir ‘n uur, word wakker ….

Ek moes ook nou leer om alles met my linkerhand te doen. Wat ‘n openbaring! My linkerhand het al die jare lyf weggesteek. Hy het geen idee wat die regterhand al vir meer as vyftig jaar doen nie. Ek kom nou eers agter hoe dom hy is. En hy het dit vir al die jare so goed vir my weggesteek. Ek moet nou eet, tande borsel, hare kam en selfs badkamer gewoontes met die linkerhand uitvoer en hy is totaal onbeholpe.

Reinigings rituele neem ‘n totaal ander dimensie aan. Ek het die eerste aand by die huis,  na die operasie, die bad uitgetoets, aangesien die probleemskouer nog toegeplak en geseël was en ek duidelike instruksies ontvang het dat dit onder geen omstandighede mag nat word nie. Die inklim was geen probleem nie, maar om uit ‘n gesonke bad met een arm te klim, is ‘n ander storie. Wie se simpel idee was dit in elk geval om die bad te sink? Ek kon nie plat sit nie en ek kon nie op my knieë sit nie. Regs van my hang die nuttelose arm teen ‘n 90 grade hoek en is hy in die pad van alles en links van my is die arm wat so grof nalatig was om sy vaardigheids profiel te verbeter toe hy die geleentheid gehad het, dat hy eintlik iewers aangekla behoort te word. Van die tweede dag af, het ek eerder vir die stort gemik.

Soos Sophia in Golden Girls altyd gesê het: “Picture this: Sicily 1934 …”

Ek poog eers om die temperatuur van die twee krane gesinchroniseer te kry. Ons stortkrane het twee stellings: kookwater en suidpool. As dit min of meer leefbaar is, klim ek halfpad in die stort, met so ongemaklike skuins trajek, om die water oor my te kry, maar in dieselfde beweging die regterskouer uit die stortkop se straal te hou. Dan “was” ek my met die dom hand. Intussen word die seer arm teen ‘n 90 grade hoek teen my lyf vasgedruk, want die strop is vir skoonmaak doeleindes op die bed gelos. Wanneer ek, gemeet aan ‘n erg twyfelagtige standaard, min of meer skoon is, is dit tyd vir die hare was proses. Hiervoor word die reeds ongemaklike skuins gradiënt met nog 10 grade aangepas om al die gewraakte areas droog te hou. Baie soos ‘n kameelperd by ‘n watergat, net minder elegant. Ek het ook nou agtergekom my linkerhand kan nie oral afdroog soos die regterhand nie. Ek weet nie hoekom nie, maar dit is net so. Onverklaarbaar.

Teen die tyd dat ek klaar aangetrek het, is ek reg om weer te gaan stort. Hygend hert, wat ‘n missie. Die deodorant word links onderstebo aangewend en dan iewers in die algemene omgewing van die armholte aan die regterkant gespuit. Dis nou die kere wat ek nie die eerste spuit in my oë kry nie. As alles uiteindelik klaar is, bind ek weer die strop vas, tot die volgende keer.

Nodeloos om te sê ek mag nie kar bestuur of met enige tuinaktiwiteite besig wees, soos swembad skoonmaak of grassny nie. Ek het ‘n tuin outjie wat elke tweede week die beddings versorg en blare bymekaar hark. Maar ek sny nog altyd self die gras. Hierdie week moes ek egter die takie aan hom oordra…… en toe agterkom hy het geen idee hoe die randsnyer en grasmasjien werk nie.

Die rante lyk asof een of ander gogga sy intrek in die tuin geneem het. Maar die klassieke deel was toe hy die grassnyer beetgekry het of liewers toe die grasmasjien hom beetgekry het. Ek het een van daai grassnyers waarmee hulle rolbalbane en setperke sny, die rollem tipe. Die masjien is swaar en het gevolglik ‘n koppelaar waarmee hy homself vorentoe laat beweeg. Jy loop eintlik maar net agter die masjien aan en gee rigting. Die tuinman is maar ‘n kleinerige outjie, wat boonop nie kan kommunikeer in enige van ons elf amptelike tale nie. Enige opdrag aan hom, is altyd ‘n uitdaging, maar om die fynere nuanses van ‘n hoogs gevorderde, moderne, tegnologiese enjin met ‘n koppelaar aan hom te verduidelik, selfs met gebaretaal, was bo enige mens se vuurmaakplek. Boonop het hy al weggetrek nog voordat ek iets kon beduie.

Hy het reeds een strook windskeef gesny, of eintlik opgekerf, omdat hy self die masjien probeer stoot het, toe ek vir hom gefluit en probeer wys het hy moet eers stilhou. Ek het tussen die geraas van die enjin deur vir hom met die linkerhand probeer beduie van die koppelaar hefboom.

Hy het instemmend geknik, maar het terugskouend, geen begrip gehad van wat ek bedoel het nie. Hy het die hefboom gegryp en in plaas van om dit geleidelik te trek, het hy voluit gegaan. Die volgende oomblik gaan daai masjien op loop met hom en kies koers na die oorkantste bedding. Hy is heeltemal ontkant gevang en dit het gelyk of hy net so elke derde tree grondvat. Sy eerste besef van wat aan die gebeur is, was toe die grasmasjien reeds die eerste ry Agapanthusse in die bedding afgemaai het. Hy was vir die res van die dag nie dieselfde mens nie. Ek sal die takie volgende keer maar eerder aan Emile oorlaat.

Gelukkig is die dokter sover tevrede met my vordering en is ek op ‘n baie goeie voet (skouer?) met die fisio, wat nogal belangrik is, want sy is in ‘n posisie om my aan erge pyn bloot te stel.

Ek wou by die dokter weet of ek na die operasie sal kan waterski en klavier speel en hy het geen rede gesien waarom dit nie moontlik sou wees nie. Ek dink dis fantasties, want ek kon dit nooit voorheen doen nie.

Verder doen ek maar alles met die linkerhand. Ook die tik van dié storie.

Dis hoog tyd dat die linkerhand sy kant begin bring, want hy het tot nou toe geen idee gehad wat die regterhand doen nie.

Hy lig sy hand meganies en waai vir die kind op die swaai, sonder om notisie te neem. Hy voel hoe die sonskyn oor hom spoel, sien die diepblou lug en hoor die vrolike kindergeluide wat hom omring. Dis tien voor tien op ‘n Dinsdagoggend en die park is besiger as wat hy verwag het.

Afgetrokke beskou hy die toneel voor hom. Jong ma’s met babas in stootwaentjies, kleuters wat mekaar jaag al om die glyplank en ‘n Jack Russell wat uitgelate, saam bokspring. ‘n Vrou op die bankie langs hom voer ‘n ernstige gesprek met iemand op haar foon en is opsigtelik nie gelukkig met wat sy hoor nie.

Sy gedagtes loop wye draaie. Iets aan die toneel wil-wil hom aan ‘n soortgelyke ervaring herrinner. Hy probeer die déjà vu gevoel oproep, maar dit wil net nie duidelik uit sy onderbewussyn na die oppervlak kom nie. Waar was dit …?

‘n Angskreet sny onverwags deur die lug. Iemand skree ‘n kind het geval en is besig om te bloei. Hy is skaars bewus van die geskarrel om hom.

Hy onthou …

Galeshewe, Kimberley,1985. Agt troepe en ‘n drywer op ‘n Buffel. Die korporaal wat wys dat hulle maar sonder hom met die patrollie deur die township moet aangaan. Beduie iets van die kolonel wat hom wil sien. Die drywer wat grinnik en sê nou is hy in bevel. Nou moet julle laaities klou.

Hy onthou die walglike reuk van die nagkar, soos wat die arrogante PF, met ‘n gasmasker op sy gesig, al agter die antieke voertuig aangekruie. Hy onthou die selfvoldane uitdrukking op die soldaat se gesig, sy histeriese gelag vir sy eie briljantheid oor die les wat hy die protesterende civvies geleer het. Hy onthou die kyke van die mense langs die straat. Sommiges vriendelik, ander met ‘n uitdrukking van haat vir die indringers in hulle leefruimte.

Die land is in vlamme. P.W.Botha staan met sy vinger in die lug en sê die onrus sal in die kiem gesmoor word. Pik Botha staan vol bravade voor die VVO en daag hulle uit: “You can do your damnest”. En elke dag in townships deur die land, ry dienspligtiges met drywers in Buffels, sien agtienjariges hoe mense met buitebande oor hulle getrek, aan die brand gesteek word en vertel politici ons op TV, hoe ons reg ons is en hoe verkeerd die hele res van die wêreld is.

Dan onthou hy die park. Of iets wat dalk jare tevore ‘n park was. Die vaal stuk grond, sonder ‘n groenigheid in sig. Die oorblyfsels van ‘n swaai. Die wipplank wat onverklaarbaar heel gebly het. Kinders wat ‘n self geprakseerde sokkerbal rondskop.

Die drywer wat uit die bloute skerp swenk en op die kinders afjaag. Die groter kinders wat, asof hulle dit al voorheen moes doen, die aanstormende voertuig systap en in al die windrigtings laat spaander. Die soldate op die buffel wat lag. ‘n Doodnormale gebeurtenis in ‘n stukkende land.

Met ‘n skok besef die man dat nie al die kinders weggehardloop het nie. In die oop veld staan twee grootoog kleuters, niks ouer as drie of vier jaar nie. Hulle kyk versteen na die reuse, bruin, voertuig. Hy sien hoe die nuuskierigheid oorgaan in paniek, toe die drywer die voertuig in rat sit en vorentoe skiet.

Die man skree vir die drywer om te stop. Hy probeer die drywer se staaldak met sy plathand raakslaan, maar hy is buite bereik. Die Buffel begin in ‘n sirkel om die kinders ry. Eers stadig en toe al vinniger. Al in die rondte. ‘n Grysswart stofwolk styg die lug in. Al die wat die man hoor is die geraas van die enjin en die gelag van die soldate. Hy sien die vrees op die kleuters se gesigte, die bloedstollende angskrete, die stoftrane en vraagtekens in hul oë. Die man sak in sy sitplek neer, sit sy hande oor sy ore en druk onwillekeurig sy kop tussen sy bene in. Die sirkel word al kleiner en kleiner en die enjin geraas onhoudbaar. En toe, so skielik as wat dit begin het, is dit oor.

Hy raak weer van dinge om hom bewus toe iemand vra hoekom hy nie van die Buffel afklim nie. Hy besef hulle is terug in die basis. Hy reageer nie toe iemand anders vra wat met hom aangaan nie. Hy loop toilette toe en gooi al die opgekropte woede en hartseer op. Hy dink nooit weer aan die dag nie.

Hy voel hoe iemand aan sy mou trek. Voor hom staan sy seuntjie. Sy knie is stukkend en ‘n bloedstraal loop teen sy been af. Twee vrouens kyk hom woordeloos aan. Hy vat sy sakdoek en vee die kind se trane van sy gesig af en toe die bloed van sy been af.

Die seuntjie kyk op. “Hoekom lyk pappa so snaaks?” vra hy.

“Dis sommer niks”, sê hy vir die seuntjie.

“Kom ons gaan huis toe. Ma wag seker al vir ons”.

Daar is vandag ‘n mistroostigheid wat my omring. Dis moeilik om te beskryf. Ek is tussen mense, maar daar is geen konneksie nie. Ek sit, asof op my eie eiland. Mense groet, vra hoe dit gaan, maak opmerkings soos dat hulle my lanklaas gesien het en ek antwoord op my beurt met die normale reaksie van hoe goed dit is om hulle weer te sien en dat ons moet reël om iewers te gaan koffie drink.

Maar die hele tyd voel dit asof ek ‘n waarnemer van die interaksies is. Asof ek buite staan en kyk hoe dit gebeur.

Vroeër hierdie week het ons verneem dat Robin Williams oorlede is. Komediant, rolprentster en vermaker by uitstek. Nogtans was hy depressief, soos baie ander vrolike mense, wat altyd die aardsoptimis is, wat ander vermaak en altyd die humoristiese kant van dinge kan raaksien.

Ons lewe vandag in ‘n era van kommunikasie. Ons het slimfone, Faceboek, Twitter, Skype, Whatsapp en Mixit. Ons maak kontak met ou skoolvriende en nuwe kennisse op sosiale platforms. Ons het meer “vriende” as ooit tevore. Maar die harde werklikheid is, dat mense nog nooit in die geskiedenis so eensaam was nie.

In die VSA het navorsers onlangs bevind dat ‘n groot persentasie Amerikaners lei aan “Skin Deprivation Syndrome”. Mense raak nie meer aan mekaar nie. In die werkplek kan dit lei tot seksuele teistering klagtes en meer en meer kinders word groot sonder die belangrike fisiese kontak met ouers, broers, susters, neefs, niggies, ooms en tannies. Maar fisiese kontak is ‘n essensiële deel van gesonde ontwikkeling en algemene gesondheid.

Op emosionele vlak, praat ons elke dag met gesinslede, familie, vriende en sosiale netwerk vriende. Ons “like” plasings en in sommige gevalle sal ons selfs opmerkings of kommentaar plaas. Maar hoeveel van ons doen die moeite om iemand te bel? Hoeveel nooi iemand uit vir ‘n koffie of sommer net om te gesels? Is ons enigsins ingestel om agter te kom dat iemand swaarkry, dat hulle moedeloos is, dat hulle stoei met ‘n krisis? Is ons bereid om tyd met iemand te spandeer, sonder om noodwendig iets te sê, sonder om advies te gee en sonder om iets in ruil te verwag? Dalk is die eintlike vraag: Stel ons opreg belang?

Of is ons so afgestomp en besig met ons eie dinge dat dit ongesiens by ons verbygaan?

Ek wonder soms of die fout nie by myself lê nie. My geaardheid val beslis meer aan die introvert kant van die spektrum. Reik ek nie genoeg uit na ander nie? Deel ek nie genoeg van myself met ander nie? Moet ek my Johari venster nie groter oop maak nie?

Ek het nog nooit daaraan geglo om honderde vriende te hê nie, eerder net ‘n paar wat ek goeie vriende kan noem. Maar hoeveel weet ek regtig van my goeie vriende en hulle van my? Hoe naby is ons aan mekaar?

In ‘n vorige leeftyd, voor tegnologie, het mense rondom ‘n tafel gekuier, mekaar uitgevra oor wat die dag gebeur het en met belangstelling geluister na mekaar. Daar was nie TV’s, rekenaars, i-Pads en selfone nie. Maar daar was belangstelling, konneksie en kontak. Dit lyk vandag of ons almal aan aandag afleibaarheid lei. Ons kan nie vir vyf minute stilsit en ‘n diep gesprek voer nie. Ons moet eers ons status opdateer of ‘n foto vir iemand stuur. Ons is meer geïnteresseerd om al die mense wat nie in persoon by ons is nie, op hoogte te bring van waar ons ons bevind, of waarmee ons besig is, as wat ons is in dit wat die persoon wat reg voor ons sit, te sê het.

Ek sien vandag weer die aanhaling: “I used to think the worst thing in life was to end up alone. It’s not. The worst thing in life is ending up with people who make you feel all alone”.

Gaan ons ooit die boodskap kry? Of is ons al by die draaipunt verby?

Vanaand sal ek weer ‘n snaakse prentjie of goeie liedjie op Faceboek plaas en sewe mense van my 130 kontakte sal dit “like” en vier sal kommentaar lewer. Ek sal vir twee van my “vriende” geluk wens met hul verjaarsdag, waaraan die rekenaar my gerieflik herrinner het. Ons sal gaan slaap en môreoggend met die lewe aangaan. Ons sal maak of alles ok is.

Pink Floyd het dalk al in die sewentigs geweet waarvan ek praat.

Ons het almal Comfortably Numb geword.

‘n Dag of twee gelede was dit weer Vrouedag. Vir die groot gros van die bevolking was dit maar net nog ‘n dag, vir politici ‘n verdere geleentheid vir niksseggende, warm lug retoriek en vir nie-regerings-, welsynsorganisasies en ondersteuningsgroepe om soos elke ander dag in dié stukkende, gewelddadige land van ons, te probeer om mishandelde, geteisterde en uitgelewerde vroue sonder subsidies, geld en middele te ondersteun en versorg.

My gedagtes het die dag koers gekies en ek het begin dink aan al die vroue in my lewe wat, tot ‘n mindere of meerdere mate, ‘n bydrae gemaak het tot wie ek vandag is, my denke en lewensuitkyk help vorm het en waarsonder ek ‘n baie armer mens sou gewees het.

Die een persoon wat uitstaan bo almal en wat sekerlik die heel grootste effek op my lewe gehad het, was beslis my ma. Nie alleen het ek omtrent 90% van haar geaardheid geërf nie, maar was sy vir my meer as net ‘n ma. Sy was ‘n besondere ma. Die sagste mens denkbaar, wat haar gesin met haar hele wese, altyd eerste gestel het. Kan mens ooit die effek van onvoorwaardelike liefde, bederf en aanvaarding op die ontwikkeling van ‘n kind bepaal?

Dis ‘n voorreg om jou kinderdae te beleef, nie alleen in ‘n gelukkige gesin nie, maar ook met ‘n groot, hegte familie waar jy enige tyd kan gaan kuier, speel, oorslaap en nooit daaroor hoef te wonder of jy welkom is nie. Onvergeetlike vakansies saam met neefs en niggies, familie byeenkomste rondom Kersfees en ‘n omgewing waar ons net kinders kon wees, sonder verantwoordelikhede en bekommernisse. En in die agtergrond, ‘n handvol tannies wat altyd reg staan om te help, te troos, aan te moedig, kos te gee (en kon hulle kosmaak!) en af en toe te raas, maar meestal om ons droogmakery weg te praat as kinderpret, wanneer die pa’s aksie wou begin neem.

Ek het my een ouma op ‘n baie jong ouderdom verloor en kan vaagweg ‘n paar dinge van haar onthou. Maar my ander ouma het ‘n baie groter rol gespeel. Die matriarg van die familie, streng maar liefdevol en met baie sterk beginsels van reg en verkeerd. Sy het ons kleinkinders geleer, meer met voorbeeld as woorde, van geloof in God, van gebed en van die belangrikheid van familie. ‘n Formedabele vrou wat nege kinders bykans alleen grootgemaak het en steeds sterk en trots daardeur gekom het.

Daar is min mense wat jou so goed ken, as iemand wat in dieselfde huis as jy groot geword het. Wat ‘n voorreg om ‘n ouer suster te hê. Die oudste kind is gewoonlik die een wat alles eerste doen en wat die verantwoordelike een moet wees. Hulle is prakties gesproke “die eksperiment”. Die tweede kind (soos ek) het dit makliker, omdat die ouers nou meer ervaring het en die kind meer ontspanne grootgemaak word. Op skool was ek die irriterende jonger boetie, maar soos ons ouer geword het, het die ouderdomsverskil van drie jaar niksseggend geword en het ek en my suster al nader aan mekaar beweeg.

Dan was daar die onderwyseresse wat ‘n mens se lewenspad gekruis het. Mense wat selde die erkenning kry, wat hulle toekom. Sommige geliefd en ander vir wie ek ‘n heilige ontsag gehad het. Spesiale vroue soos my graad 1 juffrou, juffrou de Beer (Taljaard), in wie se klas ek beslis ‘n witbroodjie was, juffroue Putter, Stevens, Cloete en Venter, wat ons leer lees, skryf en reken het en tafels in ons ingedril het, sodat ek vandag nog, sonder om te dink, tafels kan doen. Hulle het ons ook geleer spel, iets wat skynbaar nie meer as belangrik geag word in die nuwe skoolstelsel nie.

Op hoërskool was daar onderwyseresse soos Miss Pretorius en juf Bester, wat elkeen op hul eie manier, ons Hugenote manne, help vorm het.

Na weermag en universiteit het my werkslewe begin. Ek is waarskynlik redelik uniek in die sin dat ek deur my loopbaan, bykans eweveel vroulike- as manlike bestuurders gehad het. Daar was my departementshoof in my eerste dae as onderwyser. Sy het my veral deur die eerste jaar van skoolhou gehelp, tot so mate dat die matrieks van die volgende jaar aan my toevertrou is. Dan was daar ‘n vrouedirekteur tydens my jaar in die staat, ‘n vroulike personeelbestuurder by Anglo American en twee agtereenvolgende vrouebestuurders by Impala Platinum. Almal vroue by wie ek baie geleer het oor bestuur, leierskap en organisasie en vir wie ek ewig dankbaar is. Sommiges deur hul eie voorbeeld van goeie bestuur en ander by wie ek geleer het hoe om nie te bestuur nie!

Oor die jare was daar ook kyse, liefdes en komplekse verhoudings. Elkeen van die meisies het op hulle eie unieke manier ook ‘n bydrae gemaak. Van sommiges het mens meer van die realiteite van verhoudings geleer, met ander was dit weer lekker terwyl dit gehou het, maar dan was dit tyd om aan te beweeg. Sommiges was vakansie romanses en ander kortstondige “wat het ek gedink” konneksies. So het ek geleer en foute gemaak, wat my hopelik meer volwasse gemaak en ‘n beter mens gemaak het. Maar elkeen van die tiener- en universiteitsliefdes het ‘n bydrae gemaak tot wie ek vandag is.

In die sielkundeklas op Tukkies het daar een oggend drie beeldskone dames al geselsend in die klas ingestap. My aandag was onmiddelik geprikkel en het ek die res van die klas nie veel opgelet oor wat die dosent te sê gehad het nie. Al my aandag was ingezoem op die mooiste donkerkop, skuins links voor my. Dit het nog ‘n paar weke geneem voordat die geleentheid homself voorgedoen het om haar uit te vra, maar na die tweede date (die fliek “The Shining”), was die koeël deur die kerk en het ek vir my groot koshuispel, Mamba, gesê dat ek my trouvrou ontmoet het. Hy het dit besonder amusant gevind, maar moes drie jaar later sy woorde sluk.

Naas my ma, was dié donkerkop die persoon wat seker die grootste effek op my lewe gehad het. Hulle sê die sterkste gif kom in klein botteltjies. Die stelling is 100% op haar van toepassing, maar op ‘n positiewe manier. Iemand met ‘n sterk wil, wat nie maklik bes gee nie en weet wat sy wil hê en hoe dit moet lyk. Baie van my loopbaankeuses, verdere studies en besluite in my lewe, was as gevolg van haar wat net sekere vrae begin vra of moontlike opsies voorgestel het en dan subtiel in die agtergrond seker gemaak het dat ek die aksies in plek begin sit om dit te laat gebeur. Sy is die persoon wat al vir meer as dertig jaar, deur dik en dun, by my staan.

Vanaf die dag in die sielkunde klas, was daar net een vrou in my lewe, tot een aand in Welkom, toe die ginekoloog ‘n klein bondeltjie vir my aangegee het en ek vir die eerste keer my nuwe dogter kon aanskou. Bykans 24 jaar gelede en steeds ‘n bondel vreugde vir haar pa. Daar is net iets met pa’s en dogters wat besonders is en wat ek vir niks sal verruil nie.

Daar is baie grappies oor skoonma’s en in sommige gevalle steek daar seker waarheid in, soos ma’s wat glo niemand is goed genoeg vir hulle bloedjie nie. Ek was besonder gelukkig om presies die teenoorgestelde te ervaar. Van dag een af het ek en skoonma gekliek en is sy in alle opsigte ‘n tweede ma vir my. Nog ‘n besondere vrou wat my lewe verryk het.

Na my ma se ontydige dood in die middel negentiger jare, was ons besonder dankbaar toe my pa weer iemand in sy lewe raakgeloop het wat hom aanvul en ook ‘n band met ons kinders kon smee. Iemand wat maklik deel van die familie geraak het en vir ons voel of sy nog altyd deel daarvan was.

Dan is daar laastens ook die vroue wat soms glad nie vermeld word nie, wat vir die meeste van ons wat in die apartheidsjare grootgeword het, amper as vanselfsprekend aanvaar is. Die huishulpe. Ons het vir baie jare ‘n Lucy gehad en vir nog langer, vir Hilda. Hulle het help grootmaak, skoonmaak en beskerm en moes ook seker maar op tye net hulle koppe geskud het met al ons kapperjolle. Later was daar Bettie, wat ‘n groot steunpilaar was deur die eerste paar jaar na die geboorte van ons prematuur baba en wat ‘n paar jaar gelede onverwags aan kanker oorlede is.

Daar is waarskynlik nog ‘n paar vroue waaraan ek nie op die oomblik kan dink nie. Al wat ek terdeë van bewus is, is dat elkeen van die vroue hierbo ‘n medalje verdien. Hulle is die gom wat die samelewing aanmekaar hou.

Ek salueer hulle, een en almal.

In 1998 het die maatskappy by wie ek werksaam was, besluit om ‘n nuwe hoofkantoor in die Tygervallei omgewing op te rig. Die ritueel om elke oggend en middag in die spitsverkeer na en van die middestad van Kaapstad vasgevang te wees, was uiteindelik iets van die verlede. ‘n Groot gros van my kollegas het plegtig onderneem om die uur of twee per dag wat hulle op die pad deurgebring het, nou produktief aan te wend deur by die gimnasium aan te sluit. Vandag kan ek die uithouers, aanhouers en vasbyters op een hand tel en het die meeste van die voornemende gimgangers hulle lidmaatskap al in die eerste jaar gekanselleer.

Om mense dop te hou is nog altyd vir my ‘n lekker tydverdryf en die gimnasium is een van die beste plekke om die stokperdjie te beoefen. Oor die afgelope sestien jaar het ek meer en meer besef dat jy die mense by die gim in sekere kategorieë kan indeel.

Laat ek by myself begin. Ek, en ‘n groot groep gim lede, is daar om fiks en gesond te bly. Ons hou gewoonlik ‘n lae profiel en doen maar ons kombinasie van kardio-vaskulêre-, spieruithou- en strek oefeninge, met treadmills, fietse, gewigte en ander oefen apparate. Ons is min of meer vier of vyf keer per week daar, oefen vir ongeveer ‘n uur en gaan dan aan met ons normale dagtake.

Ek reken dat seker omtrent die helfte van die lede in dié kategorie val. Op sig, redelik oninteressant en vaal. Gewone mense wat gewone dinge doen.

Die klompie wat my fasineer, val nie in die groep nie. Kom ons kyk bietjie hoe lyk die ander vyftig persent:

Die glamour poppies

Hulle kom gim toe, ten volle gegrimeer, in die nuutste oefenklere en nie ‘n haar uit plek nie. In die tagtigerjare sou hulle die volledige Jane Fonda mondering, van leotards tot legwarmers gedra het. Vandag is dit tweestuk toppies en broekies wat min aan die verbeelding oorlaat en daarop gemik is om die maksimum aandag op hulle te vestig. Eintlik wys dit maar net vir die ander mense in die gim, dat die kombinasie van ‘n slaaiblaar dieet, liposuiging en die vorige nip-n-tuck, ‘n reuse sukses was. Hulle beweeg tussen apparate, druk hier en stel daar, maar ek kon nog nooit een sien wat regtig besig is om te oefen nie. Dit sal sweet veroorsaak, wat direk sal indruis met hulle bedoeling om by die gim te wees.

Die kragreuse

(Daar is mense wat praat van kragape, maar dis nie ek nie. Onthou dié ouens oefen by dieselfde plek as ek en ek hou nogal daarvan om sonder ernstige beserings te funksioneer. Nice biseps, my bru)

Hierdie is ’n spesie op hulle eie. Jy kan hulle uitken aan die enorme bo-arms, gewoonlik versier met swart Maori tatoeërmerke, World Gym help-my-fris-lyk frokkies en ‘n tipe pajama langbroek. Die broeke is waarskynlik om die wanbalans tussen die reuse bolyf, skouers, rug, bors en arms en die maer beentjies te verdoesel. Die manne werk gewoonlik in pare om te help “spot”, met ander woorde, om te voorkom dat die makker homself ernstig beseer as hy die tweehonderd kilogram benchpress dalk per ongeluk nie kan uitstoot en die gewig hom dan te pletter val nie. Hulle is ook bekend daarvoor dat hulle alles voor ‘n spieël doen, die oefening self, die rol van die spiere voor en na die oefening en dan die noodsaaklike dophou van hoe alles inmekaar steek, terwyl hulle tussen repetisies na die waterkraan beweeg. Daar word ook soms foto’s van mekaar geneem om die voor en na transformasie vir die nageslag te bewaar. Ek sukkel om na dié manne te kyk sonder om te wonder oor die hoeveelheid steroïdes wat saam met die oefening ingeneem word.

Die kreuners

Jy sien nie noodwendig die groep nie, jy hoor hulle. Jy sal in jou eie wêreldjie op die treadmill stap en die Proteas se gesukkel teen Australië op die skermpie voor jou volg, wanneer daar die volgende oomblik ‘n onaardse gebrul deur die stilte klief. Klein kindertjies langs die swembad wat daar is vir hulle swemles, storm in paniek na hulle ma’s toe, die kelner by Kauai stort die helfte van ‘n cappuccino in ‘n kliënt se skoot en die agterste twee rye van die Zumba klas skrik so, dat hulle hulle hele ritme verloor. Die kreun word kort daarna gevolg deur ‘n reuse slag en ‘n opvolgkreet, wanneer die karakter die twee handgewigte, wat saam omtrent dieselfde weeg as ‘n kleinerige motor, van ‘n hoogte van omtrent ‘n halwe meter op die vloer laat val en dan bulderend sy asem uitblaas. Die hele gim weet nou hy is daar en dat hy nou net die ekwiwalent van ‘n eenslaapkamer woonstel opgetel het. Die vorige groepie is nogal geneig om deel van die kreuners te wees.

Die alternatiewe persoonlikhede

Die sluiper (in sy eie wêreld is hy ‘n Ninja) kom gim toe en gebruik dan geeneen van die apparate in die gim nie. Hy sal eers seker maak daar is genoeg waarnemers, voordat hy met sy opwarmingsoefeninge begin. Dit sluit gewoonlik onmoontlike gimnastiek bewegings in wat slegs deur 0.005% van die wêreld bevolking bemeester kan word, gevolg deur ‘n kombinasie van Oosterse gevegskuns bewegings. Hulle lyk ook permanent of hulle enige oomblik hulle kalmte kan verloor en ‘n paar mense uithaal net omdat hulle kan. Ek bly maar op ‘n redelike afstand van die groepie af, net vir veiligheid.

Die koffiedrinkers

Hulle is elke dag, klokslag, sonder uitsondering, in die gim. Hule sal vir so tien minute teen window shopping pas op die treadmill loop en dan interessant genoeg, teen ‘n heelwat vinniger pas na die koffiewinkel beweeg. Daar eet hulle ‘n volle ontbyt en drink ten minste drie Latté’s, saam met die kuier. Ek het al van hulle hoor kla dat, selfs met al die oefening, hulle net nie gewig kan verloor nie. Onverklaarbaar.

Die sweters, bedorwe brokkies en kansvatters

Ek kan nog vrede maak met al die ander groepe. Om die waarheid te sê, hulle kan soms lekker vermaaklik wees en is goeie afleiding. Vir hierdie groepie het ek egter min ooghare. Dis nou die ou wat sweet soos ‘n mynwerker wat drie kilometer onder die grond, in veertig grade se hitte, besig is om gate te boor. Al verskil is dat hy in ‘n lugversorgde area vir ‘n uur aaneen op die treadmill sal hardloop, met sweet wat stroom oor die skerm, verstelknoppies, die band waarop jy hardloop en oor bykans ‘n twee vierkante meter area op die vloer. Die plakker op die treadmill sal duidelik aandui dat die maksimum tyd twintig minute is, maar vir die karakters geld reëls net vir ander mense. Hy sal met groot genoegdoening die laaste kilometer aflê en dan, sonder om ‘n oog te knip, net eenvoudig afklim en na die volgende apparaat verskuif. Dieselfde persone sal ook ‘n gewig gaan haal, op ‘n apparaat oefen en dan die gewig net daar in die pad los. Hulle het van kleins af in ‘n huis grootgeword waar iemand soos ‘n ma of die huishulp mos agter hulle sal optel, skoonmaak en wegpak. Ek noem hulle die bedorwe brokkies. Sou jy hulle aanspreek, is hulle erg verontwaardig en aggressief en klim hulle gemaklik in jou karakter in.

Die kansvatters is soortgelyk aan dié tipe mens. Hulle sal weet wat die reëls van die klub is, maar sal altyd probeer om dit vir hulle eie doeleindes te buig. ‘n Ma sal haar kind by die kinders se speelarea aflaai, ‘n fasiliteit wat geskep is om ouers kans te gee om te oefen terwyl personeel die kinders dophou, met hulle speletjies speel en hulle oppas. Al verskil is, sy sal nie gaan oefen nie, maar oor die pad stap om inkopies te gaan doen. Word sy uitgevang, dreig sy om briewe aan hoofkantoor skryf om oor die “houding van die klub se personeel” te kla. Hulle kinders sal sonder toesig in die gim rondhardloop of op apparate klim en as hulle dan seerkry, wil hulle die gim dagvaar. Mens kry hulle maar oral. Selfsugtig, selfbehep en arrogant.

Die muurbalspelers

Hulle behoort net aan die klub om toegang te kry tot die vier muurbalbane. Jy weet oor die algemeen nie eintlik veel van hulle af nie, behalwe wanneer hulle oppad is om te gaan speel en met sakke en rakette deur die gim stap en dan wanneer hulle klaar is, vir die nat sweetstrepe wat hulle agterlaat oppad na die uitgang. Jy hoor ook soms gedempte kragwoorde of uitings van frustrasie as een van hulle ‘n bal mis slaan of die agterste glasmuur soos ‘n ton bakstene tref.

Die evalueerders

Vir die groepie is rekordhouding, meting en vordering waaroor oefening eintlik gaan. Hulle mik heel eerste vir die stukkie toerusting wat jou hartklop, gewig, BMI en bloeddruk meet. Hulle verwerk dan die inligting verder op hulle slimfone of tablette en trek grafieke, tendense en afwykingsverslae. Hulle het gewoonlik ook ‘n app wat elke enkele oefening wat hy oor die afgelope vyf jaar gedoen het, aanteken en bywerk. Hulle deel elke kilometer wat hulle gehardloop, fietsgery of gestap het, met al hulle kontakte op Facebook en Twitter. Hulle spog met inligting soos die keer toe sy hartklop 38 was en die vyf kilometer wat hy in 15 minute afgelê het. Vir hulle het jy nie geoefen, as dit nie gedokumenteer en ontleed is nie. As dit nie op ‘n stelsel vasgelê is nie, bestaan dit nie.

Ek kan aan nog ‘n paar subgroepe dink, maar ek dink die prentjie is redelik duidelik. Die gim is maar net ‘n mikrokosmos van die samelewing. Mense is fassinerend, uniek, maar tog baie voorspelbaar.

Maar wag, ek dink ek moet gou eers ‘n paar ysters gaan buig.