Skip navigation

Ek kry gister ‘n e-pos van ‘n ou mater van my, wat al amper twintig jaar in Engeland bly. Ons twee kom ‘n lang pad en verstaan mekaar se denke en kompleksiteite.

Hy skryf (en ek haal net ‘n stukkie van sy skrywe aan):

My goeie ou vriend,

Ek is verskeurd tussen my hart en verstand. Gelukkig wen my verstand gewoonlik.

Ek sit hier die dinge in SA van ‘n afstand af en beskou (en beleef!) en my hart bloei. Ek is van nature ‘n optimis en probeer positiewe gedagtes en boodskappe plant. Maar ek is ook ‘n realis en dis waar die stryd tussen my hart en verstand vandaan kom.

Vertel my asseblief wat jou gedagtes is, jy wat nader aan die vuur sit.

Hy verwys natuurlik na dit wat tans by die universiteite en in die land aan die gebeur is.

Ek gaan sit voor die rekenaar om hom gou te antwoord en ek besef ek kan nie. Daar is nie ‘n vinnige antwoord om alles wat binne my woed, net gou te verwoord nie.

En ek wonder. Hoekom voel ek anders oor wat tans gebeur, as oor al die ander gebeure van die afgelope twintig jaar? Ons het tog nog altyd betogings, optogte en oproer gehad. Dis nie iets wat nou skielik oornag begin posvat het nie. Wat is anders? Hoekom voel ek soos ek op die oomblik voel?

Hoe voel ek, wonder ek skielik?

Ek vang myself die afgelope paar weke dat ek baie meer kort van draad is. Daar is so bedonnerde wolk wat oor my hang. Ek hap na my arme vrou en is ongeduldig as Emile my iets oor huiswerk vra. Die honde se blaffery en die African Greys se gekras werk op my senuwees en ek storm gereeld in die TV kamer in om hulle stil te maak.

Daar bel ‘n tele-bemarker en ek sny hom onmiddelik af met ‘n “ek stel nie belang nie”. Vyf minute later bel daar nog een en ek verloor dit met die man. Toe ek aflui, skrik ek vir myself. Waar het dit vandaan gekom?

Ek ry gister in Tygervallei. ‘n (Swart)vrou staan langs die straat en wag om oor te stap. Sy drink die laaste bietjie van haar McDonalds melkskommel en gooi die houer met ‘n boog langs haar op die sypaadjie. Ek moes my bedwing om nie stil te hou en haar te konfronteer nie.

Wat gaan aan?

Ek beskou myself nog altyd as iemand met ‘n gesonde emosionele intelligensie, ‘n redelike mens met empatie, met ‘n koel kop wat emosies kan herken en gemaklik daarmee kan werk, wat gebalanseerd na enige situasie kan kyk en die meriete van albei kante kan insien. Ek is nog altyd diplomaties en taktvol. Ek oorreageer selde en kan kalm bly in krisis situasies.

Maar ek is nie myself die afgelope tyd nie. Ek is onrustig. Ek is moeilik. Ek is aggressief.

Ek kan nie my vinger presies daarop sit nie, maar ek vermoed ek het ‘n idee wat aangaan.

Ek sien wat op die oomblik by die universiteite gebeur. Universiteite waarvan ek oor jare deel van was. Waar ons klas gedraf het, geleer het, gegroei het en drooggemaak het. Universiteite wat besig is om te brand. Universiteite wat klasse onbepaald sluit. Universiteite wat duisende, onskuldige studente die reg ontneem om met hul studies voort te gaan.

Oral word eise gestel en wanneer ruggraatlose besture aan die eise voldoen word die eise verander en verhoog. Oral word geëis dat vise-rektore moet bedank, vise-rektore wat onlangs nog gespog het met hul slim planne om transformasie te verseker. Geboue, kunswerke en historiese standbeelde word vernietig en aan die brand gesteek. Menslike ontlasting word in kantore en lesinglokale uitgegooi. Polisiemanne staan en kyk hoe dié dinge gebeur met ‘n non-chalante houding. Wanneer “studente” wel gearresteer word, is dit R800 borgtog en twee weke later word die sake teruggetrek, omdat die eisers dreig om die instansie onregeerbaar te maak indien die sake nie laat vaar word nie.

Oral is politici besig met opruiende toesprake oor grond wat gesteel is en wetgewing word aanvaar wat die afneem van grond wettig maak. Toesprake en uitsprake wat opsweep, verdeel en polariseer. Nie alleen die groepe van wie jy dit in elk geval sou verwag nie, maar ook vanaf die president en sy kaders in verskillende ministeries.

Maar dit gebeur nog altyd. Wat is nou anders?

Ek vermoed dit gaan vir my daaroor dat die eise oor klasgelde, standbeelde wat moet val en Afrikaans as onderrigtaal wat moet verdwyn, alles net rookskerms is. Wat ons nou beleef is ‘n doelgerigte aksie teen my as blanke Afrikaner. ‘n Totale onverdraagsaamheid teenoor alles wat uit die verlede kom. ‘n Miskenning van wie ek is, my taal en my geskiedenis. ‘n Aksie wat skree: “Jy is nie welkom hier nie”. Dis wat my gemoed so omdolwe.

In die situasie sou ‘n mens goeie leierskap van verkose leiers verwag. Politieke-, sake-, gemeenskaps- en godsdiensleiers. Maar die stilte is oorverdowend. Ons is in ‘n totale leierskap vakuum. Almal is so besorg oor dit wat hulle kan verloor as hulle eerlike menings met integriteit sou lug. Ons moet tog net nie ‘n ding op sy naam noem of uitsprake maak wat nie polities korrek is nie. Ons sit dus met niksseggende uitsprake en veroordelings. En die politici wat die vuur aanblaas, verkeer onder die illusie dat hulle die haat en anargie kan beheer en gebruik soos dit hulle pas. As dié kruitvat ontplof gaan niemand wen nie.

Sosiale media blaas die vlamme nog hoër. Kyk ek na die kommentare oor elkeen van die berigte wat op Twitter verskyn, kom ek diep onder die indruk van die effek van ons skoolstelsel oor die afgelope twee dekades. Die vlak van redenasie en debatvoering is nie eens op graad 1 vlak nie. Daar is net onverdraagsaamheid, ons/hulle denke en beledigings. Beslis nie die plek waar oor die land se toekoms gepraat moet word nie. Daar is ook dié wat net wil oorlog maak. Dis diegene wat nog nooit ‘n oorlog beleef het nie. Hulle dink dis soos Playstation. Wat dink die mense sal die gevolg wees as ‘n burgeroorlog sou uitbreek? Wie gaan wen? Wie sal oorbly?

Ek het ‘n vermoede daar is ook ‘n element in van die politieke partye wat voel hulle is verneuk met die skikking wat in die vroeë 90’s bereik is. Hulle het nooit hulle rewolusie gehad soos in die res van Afrika nie. Daarom die doelbewuste poging tot polarisasie en verdeeldheid en om gemoedere op te sweep.

Die aanstigters van links en regs, moet ons altyd in gedagte hou, is die ekstremiste. Klein groepies wat die meeste geraas maak, die meeste media dekking kry (omdat dit sensasie veroorsaak wat koerante verkoop) en wat weet dat die massa in die middel gematig is. Al hoe jy hulle kan mobiliseer en aanhits, is met dit wat ons tans beleef.

Ek is een van daai massa in die middel wat net probeer om ‘n toekoms in hierdie land te bou. Ek is hier gebore, my voorgeslagte ook. Dis waar ek is en waar ek gaan bly. Dis my land. Ek mag hier wees en geen ekstremis sal dit verander nie. Daar is miljoene wat voel net soos ek. Mense soos die jongmense van alle rasse wat elke oggend by die universiteit se hek bymekaar kom en saam bid. Dis die stemme wat meer gehoor moet word.

My antwoord op die e-pos? Ek weet steeds nie. Ek leef maar elke dag met die wete dat God in beheer is van my lewe. Ek doen wat ek kan in my onmiddelike omgewing. Ek probeer goeie verhoudinge bou met almal in my werksomgewing, is vriendelik met almal wat oor my pad kom. Ek lees minder kommentare op sosiale media en verwyder persone van my profiele af wat ekstremisiese sienings preek.

Ek sien humor in meeste dinge wat gebeur. Ek weet ook dat ons nie ons vertroue in die regering, politici en belangrike mense moet plaas nie. Dis net die Here en gewone mense wat die land sal red. Die groot massa in die middel. Dis hulle wat moet saamstaan en die stemme links en regs moet stilmaak, ook by die stembus.

Ek hoop dit gaan goed daar in Engeland, ou maat.

Advertisements

11 Comments

  1. Ek dink dit gaan beter met jou ou maat in Engeland as met jou hier. Ek kan nie help om te se dat ek ook kort van draad voel. Ek wil nie eers meer nuus lees of kyk en wil nie eers meer my Face Book oopmaak nie. Ek wil nie in ontkenning leef nie maar ek wil nie toelaat die dinge so groot invloed op my het nie – niks wat ek doen kan dit tog verander nie…. sad but true. Ons kan net hoop en glo.

  2. Uitstekende skrywe Johan, ons almal voel soos jy en sit op hete kole en voel heel verlam oor die onaardigende toestand in ons mooi land. Ek is self beneuk en skuins bedonnerd! Jammer vir die Frans…..Ek is ook gewoonlik positief, maar na die onlangse uitlatings oor vliegtuie, duikbote, haaie….is ek sprakeloos! Om universiteite nie eens te noem nie 😦 Ek voel down in the dumps, die jaar MOET net beter word asb.. Hoop en bid Jakob kry ‘n “no vote of confidence” in Maart, anders gaan ons nie die einde sien nie (ek sou nou baie kras woorde gebruik het) Laat dit goed gaan, môre skyn die son weer. Groete 🙂

  3. Johan, jy verwoord so skitterend baie Suid-Afrikaners se gedagtes. Suid-Afrika (soos baie ander lande) was al deur baie diep waters en dan kom die stukkie wat ek anderdag gelees het onwillekeurig by my op: Vandag kan ek terugkyk na die dae toe ek gebid het vir die dinge wat ek vandag het. Met geloof, hoop en liefde is baie dinge al oorwin. Terloops, “daai ou maat van jou in Engeland” sien dat daar maar oral in die wereld probleme is. Mens kan van baie dinge weghol, maar probleme is nie een van hulle nie. Probleme moet opgelos word.

  4. Aangeheg my kort meedeeling oor hoe ek nou voel…

    Groete, Derick Botha

    2016-02-26 18:32 GMT+08:00 Kan jy onthou :

    > kanjyonthou posted: “Ek kry gister ‘n e-pos van ‘n ou mater van my, wat al > amper twintig jaar in Engeland bly. Ons twee kom ‘n lang pad en verstaan > mekaar se denke en kompleksiteite. Hy skryf (en ek haal net ‘n stukkie van > sy skrywe aan): My goeie ou vriend, Ek is verskeur” >

    • Hi Derick
      Ek sien niks nie?

    • Hoe voel ek op die oomblik?

      Johan, dankie dat jy jou gedagtes en gevoelens met ons deel. Dis nie aldag maklik om blootgestel te word nie.

      Ek was ten volle met jou oor wat jy met ons meegedeel het. Ek wil en sal nie politiek praat nie, ek is immers nie meer ‘n Suid Afikaanse burger nie.

      Ek kan slegs praat van toe ek nog daar was en my lewe daar gelei het. Soos jy nou voel het ek telkemale gevoel as daar drastiese veranderings plaasgeving het en met spesifieke verwysing voor 1994. Telkemale het ek gewonder hoe sal SA lyk in 20 of 30 jaar vorentoe. Ek het vinning tot die slotsom gekom, die land is besig om te gly en dit sal maar so wees. My Westerse bril is afgehaal en ek het met die Afrika prisma gesien dit wat gaan gebeur en veranderings wat kom, verskil drasties wat ek aan gewoond was en ek wil nie my gesin afstomp vir die toekoms nie.

      Toe het ek my verplaas van SA na Australie. Dit was een hengse besluit wat meer “gutts” vat as breinkrag. Menigte familie en vriende het my gekastei vir my dapper poging. Nie te min na meer as 13 jaar as burger en volgeling van ‘n nuwe kultuur en leefwyse voel ek; dankbaar, verlig, vergenoegd, gelukkig, vry, bevooreg, trots, tuis, ontspanne en vele meer….

      Ek het ‘n transformasie ondergaan. Ons kulturele mengelmoes in Australie het my geleer dat ek ook vreemd was vir hierdie Aussies, maar dat hul my verdra, aanvaar en insluit as deel van hul land se doen en late. Ek het ook meer aanvaarbaar geword vir mense van verskillende groepe, dis wederkerig wanneer mens sien hoe goed dit in ‘n samelewing werk. Meesterlik gee hul my dieselfde kanse as gebore Aussies…en ons praat reguit met mekaar, verstaan mekaar vinnig en bou saam aan ons drome en land wat hoog “gerate” word op verskillende terreine in die wereld.

      Alles in aggenome is Australie nie perfek nie, maar ek weet as ek na ons stand in die wereld kyk dat ons wel dinge reg doen en vordering is ligjare voor teenoor wat SA sedert 1994 vermors het. Ek is steeds baie verdwaas oor hoe SA gly op menigte terreine, een ding is my hart het ophou bloei, want ek het nou my lewe hier gemaak en moes afsny van die permanete negatiewe energie. Ek het nie raad nie, elke man en sy huis het keuses. Keuses is verskriklik swaar om te neem, maar indien mens die “cycle” wil breek ten bate van jou kinders en jou eie emosionele welstand, is dit seker nie om in SA vas te klou nie….dis moontlik om beter te ervaar en te leef, jy het nie nodig om “brein verkrag” te word deur die sinneloosheid van SA nie! Braaivleis is nog altyd dieselfde waarookal jy die vuur aansteek. Ja ons praat steeds Afrikaans wanner ons saam met geliefdes is of Afrikaners hier ontmoet, ons kyk rugby en krieket, maar ons het ook lief geword vir “footy en soccer”. Ek groet met die woorde: “in my case home is where your heart takes you!”
      Sterkte ou maat.

      • Dankie vir die respons Derick. Ek waardeer dit

  5. Puik gestel neef, ek dink dit som hoe ons slaml in die middle massa voel. Die woelinge en geraas in ons binneste maak party dae van ons vreemde mense. Amen

  6. Hi Johan

    Nou weet ek dis nie net ek wat so voel nie, ek dog dis ek wat besig is om my varkies te verloor.

    Mooi bly en groete by die huis.

    Coreen

  7. Ongelukkig is daar ook sommige van ons wat nie sal oorleef as ons nie onder Afrikason staan nie. So dis ons, die middelmatige massas wat ten spyte van alles, besluit het om te bly en die beste van ‘n slegte saak te maak. Dis reg as enigiemand anders besluit om weg te trek, maar weet dan dat jy die reg verbeur het om hierdie land te kritiseer. Aaanvaar jou nuwe moederland en bly verder stil. Ons bly en ons SAL verantwoordelikheid daarvoor aanvaar. Want dis waar ons hart is, al is dit soms ‘n ontstelde hart. Ons vertrou in God en this too shall pass

    • Met alle respek lees weer my bydra…ek het nie SA kritiseer nie. Feite is feite die land is besig om te gly en dis Johan se kommer wat my laat skryf het. Ek het geen belang daar nie, baie opvallend dat die wat bly is tog so gereed om die emigrante wat gegaan het aan te val, vinning en giftig. Anyway, take care en ek hoop daar is nuwe rigting, geluk en vrede onder die Afrika Son. Groete, Aussie Afrikaner.


Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

%d bloggers like this: