Skip navigation

Ek het so sewe jaar gelede ons ervarings beskryf toe Chené deur die proses moes gaan om haar bestuurslisensie te kry. Ons is nou weer daar met Emile.

Ek was vol verwagting dat die administratiewe rompslomp na bykans ‘n dekade, merkbare verbeterings sou toon, maar rompslomp laat hom nie so maklik onderkry nie. Na ‘n paar weke se wag vir ‘n afspraak, het Emile sy leerlinglisensie gekry en kon ons begin oefen. Hy was maar soos almal erg onseker aan die begin, maar het gou sy voete gevind en bestuur sederdien met redelike selfvertroue. Die bestuurskool het later by my oorgeneem om al die vereiste kyke, inspeksies en metodes wat deesdae vereis word, in te dril.

Die instrukteur het gereken die mannetjie is gereed vir die groot toets en Emile en ma het afgesit verkeersafdeling toe om die afspraak te maak. Dis net foto’s, groen vorms, afskrifte en identiteitsdokumente waar jy kyk. Hulle kry toe ‘n afspraak vir so vyf weke later.

Die oggend van die toets is hy maar bleek om die kiewe by die huis weg. Hy het alles min of meer reg gedoen wat die toetsbeampte by die verkeersdepartement wou hê, maar het toe ‘n kyk of twee gemis en vergeet om ‘n flikkerlig aan te sit toe hy verby ‘n stilstaande motor, wat langs die sypaadjie in ’n straat geparkeer was, gery het. Dis die eerste keer dat ek ook daarvan hoor. Hy het met ‘n lang gesig by die huis aangekom en ons het maar aangemoedig en vertel dat dit nie einde van die wêreld is nie en dat die meeste mense nie die lisensie met hul eerste poging kry nie.

Izelle het nogal die vermoë om werk te skep en voordat ek my oë kon uitvee, is dit reeds gereël dat ek vir Emile by die skool moet oplaai , so 60 km heen en weer, en dan sommer direk na die verkeersdepartement moet ry om weer ‘n afspraak te maak. So gemaak, kom ons met groot verwagting by die departement aan. Ek het sy leerlinglisensie, sy identiteitsdokument, my identiteitsdokument, foto’s, die groen vorms, geld en my lisensie gereed (ek het dit selfs oorweeg om ‘n CV saam te vat, net vir ingeval). Ons was slaggereed.

Ek het moed geskep toe ek sien ons is derde in die tou. So tien minute later toe is ons voor. Al die vorms is oorhandig en toe vra die vrou agter die toonbank ‘n vraag waarvoor ons nie gereed was nie. ‘n Bewys van adres. Ek is deur die hele flipfile van voor na agter en toe weer van agter na voor, maar nêrens was so iets te vinde nie. Emile moet ‘n rekening, bankstaat of iets dergliks voorlê as bewys van adres. Die feit dat hy nog ‘n skolier is tel nie punte nie. Sy ruk toe ‘n nuwe vorm uit, ‘n affidavit, wat ek moet laat waarmerk by ‘n kommissaris van ede met een van my bewyse van adres, wat dan sal bewys dat hy ook daar bly.

Dit was nou ‘n gawe halfuur uit my lewe gemors. By die huis is ek omgesukkeld en wou by Izelle weet hoekom sy ons nie gewaarsku het oor die adres storie nie. Sy het nie, want hulle het dit nie die vorige keer gevra nie. Dit maak 100% sin, as jy met burokrasie te doen kry.

‘n Paar dae later het ons die polisie besig gehou met die onsinnige vorm, asof hulle nie genoeg misdaad het om te bekamp nie.

Ek het my vernuftig uit die volgende rondte gewerk en Emile en ma is weer deur dieselfde prosedure om hom by die skool op te laai, in plaas van sy normale busrit, en maar weer deur die pyniging te gaan. By die departement aangekom, is al die papierwerk weer oorhandig en toe soek hulle die munisipale rekening wat moet ooreenstem met die gewaarmerkte vorm. Nodeloos om te sê, die rekening is by die huis, want die water en ligte is die vorige dag oor die internet betaal. Gelukkig onthou ma sy het ‘n bankstaat in die motor en piekel hulle terug na die parkeerterrein, wat op sy eie seker vir ten minste twee ongelukke per dag in die besige hoofstraat verantwoordelik is. ‘n Redelike mens sou reken dis tog ‘n verkeersafdeling se parkeerterrein, maar die redelike mens toets het al dekades gelede hier gesneuwel. Swak ontwerp, te min parkeerplekke, teen ‘n hoofpad, geen draaiplek …… ag los maar, dis ‘n gesprek vir ‘n ander dag.

Gewapen met die bankstaat val hulle weer in die tou in. Net vir interessantheid, as hulle nie toevallig die bankstaat gehad het nie en die volgende dag moes terugkom, begin jy weer voor af. ‘n Nuwe groen vorm, nuwe foto’s en weer ‘n oogtoets (want sy oë kon seker oornag dramaties verswak het). Vervolgens word kopieë van alles gemaak, foto’s word geplak en dinge op die rekenaar ingevoer.

Nou het hy ‘n afspraak vir amper oor ‘n maand.

Ek sal net graag wil weet. Ons leef in die kommunikasie era. Die era van rekenaars en stelsels. Die era waar slim mense daarin slaag om vuurpyle te lanseer en weer op dieselfde plek laat land. Waar die internet en papierlose organisasies die toon aangee. Ek bestel byvoorbeeld ‘n boek by Amazon of Take-a-lot. Ek betaal oor die internet en voltooi my bestelling ook daar. Ek kry onmiddelik ‘n e-mail en sms wat my bedank vir die bestelling en waarin al die detail bevestig word, insluitend ‘n bewys van betaling. Hulle hou my op hoogte met wanneer ek die aflewering kan verwag. Die volgende dag sê hulle vir my hoe laat die aflewering gaan plaasvind en glo dit as jy wil, die aflewering is mooi op tyd. Ek het skaars geteken vir die pakkie, toe word ek weer per mail en sms ingelig dat die proses voltooi is en die boek nou afgelewer is.

Soomloos en effektief.

Nou hoekom kan die lisensieproses nie tred hou met wat in die nuwe wêreld gebeur nie? Is dit onbevoegdheid op alle vlakke, insluitend die mense in beheer wat reuse salarisse kry (nie verdien nie)? Is dit die wil wat ontbreek? Kennis? Is dit werkskepping vir talle onnodige beamptes? Is dit hoe dit al vir 50 jaar gedoen word en hoekom sal ons dit verander? Of is dit maar net ons gee eenvoudig nie om nie?

Hoekom kan dit nie moontlik wees om al die nodige vorms elektronies in te vul en reeds vir hulle te stuur nie. Jou foto’s en vingerafdrukke op ‘n stelsel te kry sodat dit daar kan wees vir ewig nie. Hoekom elke keer ‘n oogtoets doen? Twee jaar later, ja. Twee dae later, nee. Gaan jou oë so dramaties verswak in ‘n paar dae? Dit is selfs moontlik om dit so effektief te maak, dat jy ‘n afspraak twee of drie dae later kan kry.

Ons as die gewone bevolking skud maar net ons koppe, kla op sosiale media en by braaivleisvure en aanvaar maar gedwee die middelmatigheid en hopelose administrasie.

Gaan dit ooit verander?

Ek sal geen geld daarop verwed nie. Maar wag, ek moet nou eers my motorlisensie laat hernu. Die lisensieowerhede stuur mos nie meer die hernuwingsvorms uit nie. En jy kan nie met ‘n debiet- of kredietkaart betaal, nie, maar wel met ‘n tjek.

Ek sal maar gou die wa uit die skuur trek en die osse inspan.

1836 hier kom ons.

Advertisements

5 Comments

  1. Laat my dink aan n grappie wat ek jare terug in n tydskrif gesien het. Die kerel wys sy “home movies” vir die familie: “Hierdie is die film van my vrou se sewende poging vir haar bestuurslisensie, die onderwater tonele is fantasties”
    Ek het baie simpatie met jou probleme by die verkeersafdeling, het self vandag twee ure in nry gestaan om my motors se lisensies by Randburg te hernu. Gewoonlik kon mens dit by die poskantoor doen, maar hulle is al vier weke “aflyn”.
    Ek kan nie glo dit kan nie aanlyn gedoen word nie. Maar jy is reg dis seker net werkskepping, maar dit is duidelik die mense geniet nie hulle werk nie.

  2. Dis puik gestel neef!! Ons sal die dinge moeilik verstaan… en nie omdat ons ouer word nie maar ondat alles gaan vir n walk!!!!

    Dullstroom grorte

  3. Ja, daardie ewige sinnelose rompslomp. Melissa het met haar eerste probeerslag nie eers agter die stuur ingeklim nie (hier in Engeland). Die Renault Clio van die bestuurskool het nie ‘n sertifikaat gehad om te bewys dat die (redelike nuwe kar) padwaardig is nie. Die veligheidsknip van die enjinkap op enkele van daardie modelle het soms gelol. Ek is ook nou, so gedurende universiteitsvakansies, met die laaste kind besig.

  4. Die pyn en die lyding van bureaukratiese rompslomp is ‘n doring in my vlees, want dit maak nie saak hoé goed jy voorbereid is nie, dis nooit reg of goed genoeg nie. Nog ‘n ding, my posbus is in die Sundowner woongebied in Randburg en daai posbusse is almal permanent gesluit!! Wonder hoe gaan ek my ou Moeder se bloedtoetse betaal……

  5. Ek weet nie watter jaar laas het ek ‘n tjekboek gebruik nie – oudmodies se moses. Jy kan nie kla oor die diens nie want daar is nie diens nie. More is nog ‘n dag ………


Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

%d bloggers like this: