Skip navigation

Mense was maar nog altyd lief vir aanhalings en motiverende woorde. Toe ons kinders was, het mens in baie huise ‘n klein houertjie gekry met gekleurde kaartjies waarop bybelversies gedruk was. Koringare is dit genoem, as ek reg onthou. Wanneer mense ‘n krisis beleef het of sommer net ‘n goeie woord wou hoor, dan het hulle ‘n kaartjie lukraak uit die houertjie getrek en in baie gevalle was dit uiters gepas vir die situasie. Terugskouend was daar geen kaartjies met teregwysings, oordeel of negatiewe boodskappe nie en daarom was dit altyd positief, optimisties en opbouend.

Vandag het ons sosiale media en kry mens daagliks ‘n stortvloed van motiverende gesegdes en woorde deur bekende skrywers, digters en filosowe. Ek lees meestal maar bolangs, maar daar is af en toe een wat die teiken tref en wat ek dan in meer detail lees. ‘n Gesegde wat ons in die afgelope paar maande na aan ons lywe gevoel het, is ‘n doodeenvoudige ou waarheid: When times are tough, friends are few.

Wanneer werk skielik opdroog, die ekonomie negatiewe groei beleef, pryse aanhou styg en dit wat vir ‘n dekade goed gewerk het, skielik nie meer resultate oplewer nie, begin die siklus van kommer, optimisme oor moontlike kontrakte, wat dan weer uitgestel of afgestel word, verdere kommer, die gewone rekeninge soos water en ligte, erfbelasting, telefoon, huisverband en uitgawes vir kos en kruideniersware wat soos klokslag hulle opwagting maak en stres wat toenemend soos ‘n swaar gewig op jou bors lê.

Die einde van die maand se debietorders vir polisse, versekering en sekuriteit lê soos ‘n berg voor jou en jy sien hoe ‘n klein neseier wat jy met moeite opgebou het vir onvoorsiene gebeure soos ‘n wasmasjien wat breek, lisensies wat uitgeneem moet word of klasgeld wat betaal moet word, in ‘n oogwink uitgewis word.

Jou “luukse” ou motor, wat jarelange goeie diens gelewer het, begin olie lek. Jy moet dit laat regmaak en duisende rande later is die probleem net tydelik opgelos en besef jy dis net ‘n kwessie van tyd voordat hy finaal die gees gee, wat dan ook een oggend skielik net gebeur.

Jy rek die kredietkaart en oortrokke fasiliteit, wat jy weet nie ‘n goeie idee is nie, maar wat darem vir ‘n maand of twee uitkoms gee. Maar dan word die een of twee maande, tien en elf maande.  En die prentjie raak elke dag net donkerder en donkerder, todat jy geen lig meer sien nie.

Jy begin jou isoleer. Wys enige uitnodigings van die hand en nooi niemand meer om te kom kuier nie. Jy is kort van draad en verloor jou humeur vir die geringste ding. Al weet jy wat aan die gebeur is en al weet jy om dit nie te doen nie, begin die onophoudelike spanning sy tol eis op jou verhoudings met die mense naaste aan jou.

Hulle sê ‘n mens moet in die situasies nie drastiese dinge doen nie, maar met iemand praat. Ek stem volmondig saam, maar met wie? Wie is die persoon of persone met wie jy kan praat wat regtig begrip kan toon vir die situasie en ‘n verskil kan maak? Wat nie jou persoonlike vrese en krisisse gaan uitblaker aan enige iemand wat wil hoor nie. Wat nie met nuttelose clichés gaan antwoord as jy uiteindelik sover kom om jou gevoelens te deel nie. Wat nie vir jou gaan sê dis nie soos erg nie, daar is ander mense wat in ‘n slegter situasie as jy is nie. Dat jy moet dankbaar wees vir alles wat jy het. Dat jy moet bly wees dat jy darem ‘n motor of ‘n huis het om te verkoop.

Dis in dié tye wat jy agterkom wie regtig daar is vir jou.

Ouers wat, selfs al kan hulle dit self nie bekostig nie, nie twee keer dink om hulp aan te bied en onmiddelik tot aksie oorgaan om te help nie. Daar is familie wat deur hoorsê agterkom iets is nie reg nie en sonder om uit te vra oor enige detail, net iets doen om jou deur die maand te help.

Daar is vriende wat berge versit om jou CV en vaardighede te versprei na potensiële kliënte en besighede. Wat jou weekliks bel en moed inpraat en wil hoor hoe dit gaan. Nie net “hoe gaan dit nie”, maar wat regtig wil hoor hoe dit gaan.

Daar is mense wat aanbied om jou gereeld ‘n saamry geleentheid te gee om by jou pa, wat 60 km weg in die hospitaal lê, uit te kom.

Ou vriende wat jy nie elke dag sien nie of wat jy dalk vir maande geen kontak mee gehad het nie, wat nou uitstyg en jou ondersteun. Wat daar is vir jou.

Ons sal hierdie engele ewig dankbaar wees en hulle sal waarskynlik nooit besef wat se diepgaande impak hulle op ons lewens gemaak het nie.

Maar ongelukkig sien mens ook die ander kant.

Mense wat jy vertrou het en wat jy gedink het daar sal wees, wat soos mis voor die son verdwyn. Wat dalk meer van jou krisisse weet as ander en steeds nie ‘n vinger verroer nie. Mense wat jou “drop”, wanneer jy dit die minste verwag. Wanneer jy op jou kwesbaarste is en wanneer jy juis gedink het dis hulle wat sal verstaan, met wie jy sal kan praat; dan is hulle net weg.

Ek aanvaar 100% dat elkeen vry is om te kies of hulle wil hulp verleen en of hulle jou wil onderskraag en daar is geen verpligting of reël wat bepaal dat jy betrokke moet raak nie, maar die teleurstelling in dié persone sny diep en jou vertroue in hulle is permanent geskaad.

My persoonlikheids tipe is gelukkig of ongelukkig een van die skaars kategorieë, wat nie noodwendig soos ander mense reageer nie. As iemand my vertroue intens skok, my probeer om die bos lei of leuens vertel, sien ek dit dadelik, maar ek sal niks sê nie. Wanneer dit ‘n sekere vlak bereik, dan doen ek wat die slim mense noem, ‘n “doorslam”. Dit beteken dat ek weet waarmee jy besig is en ek besef dat ek jou nie kan vertrou nie, wat tot gevolg het dat ek die persone eenvoudig uit my lewe uit skuif en hulle speel geen verdere rol in my bestaan nie. Ek word nie kwaad of lok ‘n reaksie uit nie. Daar is geen wrok of kwade gevoelens nie. Jy is vergewe en vergete. Ek beweeg eenvoudig aan en maak daardie deur toe. Dit klink moontlik hard en ongenaakbaar, maar dit sal ‘n buitengewone poging van so persoon vereis, voordat die vertroue weer herstel is en ek weer die deur sal oopmaak. Ek het ook my twyfel of dit ooit weer dieselfde kan wees.

Moeilike tye is ‘n ernstige leerskool. Jy waardeer klein goedjies. Jy kom met baie minder klaar. Jy besef dat dit met enige iemand kan gebeur. Jy besef al jou ervaring en kwalifikasies kan soms niks beteken nie. Jy weet dat enige werkende persoon net twee of drie maande van bankrotskap af is, as hulle hul werk sou verloor. Jy weet ook dat jou geloof lewensnoodsaaklik is om jou deur hierdie tye te dra.

Ek weet nie wat die toekoms inhou nie. Ek weet nie of die krisis verby is nie.

Ek weet wel: When times are tough, friends are few. Maar daardie paar werklike vriende, deur dik en dun, gee mens hoop vir die toekoms en vir die mensdom.

Alles is nog nie verlore nie.

Advertisements

8 Comments

  1. Ai Johan, als wat jy hier skryf is so deel van baie van ons se lewens. Ons wat ook al deur daardie ding is en nog steeds daardeur gaan. Vandag het jy nog ‘n mediese fonds en kan jy seker maak jy is oukei, om net skielik daarsonder te wees en elke dag te wonder of die pienkstrikkie siekte nie dalk weer jou lyf bekruip nie. Ek gaan geen raad uitdish nie want ek het nie. Ek gaan ook nie ‘n lee woord uiter van ‘ek weet waardeur jy gaan nie’, want al weet ek, ervaar ons almal dit wat met ons gebeur op ons eie unieke manier. Wat ek wel weet, is dat die een reël in Koos Du Plessis se song daagliks soos n mantra deur my kop gaan: wat ek is, is net genade, wat ek het is net van Hom. Hoe ek die afgelope twee jaar oorleef het, is by wyse van spreke net genade. Maar vir wat dit werd is…..ekke sal jou naam noem en praat oor jou..en saam jou hoop…want hierdie drie -geloof,hoop en liefde…..

  2. Geloof, hoop en liefde….inderdaad. Dan gaan die teksvers voort om te sê….en die grootste hiervan is die liefde. Daarvan het min oorgebly in huwelike, gesinne, tussen vriende, in families. ‘n Wêreld sonder liefde is ‘n donker en koue plek. Woorde het ek nie….vra net vir wysheid elke dag om te bly hoop, glo en liefhê

  3. Jou samevatting van hoe dinge kan raak, is spot-on. Ek lees raakpunte in my eie lewe raak. Dankie tog net dat ons weet wie God is.

  4. Hallo Johan – ek het ook nie te veel om te sê nie behalwe dat elkeen vandag op sy eie “plak” leef. Groete

  5. Ja Johan, ek kan net sê dat ons elke dag vir die Here moet vra om vir ons ‘n omgeehart te gee sodat Hy deur die Heilige Gees aan ons sal openbaar waar ons verantwoordelikheid lê, want soos die Bybel sê ons moet omgee vir mekaar om so Sy wil te vervul. Sterkte.

  6. Dit is so mooi geskryf Johan. Dit is so waar sêding. Daar is vir elkeen van ons n les te leer uit wat hier geskryf staan. Dink baie aan jou en jou gesin. Mag julle gebede verhoor word. Luv you….

  7. My goeie vriend, jou emosies skreeu uit elke woord. Wat jy dalk kon byvoeg, is die geloofstoets waardeur mens gaan waar gebed voel asof dit nie verder as jou lippe gaan nie. Ek wens so uit my hart uit dat ek kan help … maar ek bid vir julle.

  8. Johan dit klink of jy my storie vertel … ek het ook maar tot die besef gekom dat mense oor die algemeen teleurstel … soos jy noem, daar is uitsonderings. Ons kan maar net op God vertrou en maak soos die liedjie van Carrie Underwood se : ” ….. Jesus take the wheel, I can’t do this on my own ….”. Dit gese, dit word nie noodwendig makliker nie, ons bly maar mens ….. Sterkte my maat ! Gte


Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

%d bloggers like this: