Skip navigation

Met die onlangse uitreiking van die Queen rolprent, Bohemian Rhapsody, is daar skielik ‘n hele nuwe generasie Queen aanhangers. ‘n Jonger generasie wat grootgeword het met tegnologie, die internet en digitale musiek. Hulle stream die musiek en laai dit af op mp3 spelers, i-Pods, selfone en tablette en luister dit op koordlose oorfone. Ek hoor opmerkings soos “hierdie ouens is nogal goed” en “dis nou nie BTS nie, maar ek kan hieraan gewoond raak”.

Bid jou dit aan; dis nou nie BTS nie! (vir lesers van my generasie, dit is ‘n Koreaanse groep wat alle musiek rekords wêreldwyd verpletter)

Maar Bohemian Rhapsody, die rolprent, het my in ‘n oogwink teruggeneem na ‘n ander era. ‘n Meer eenvoudige en ongekompliseerde era. ‘n Era wat terugskouend, in stadige aksie afgespeel het, as jy dit met vandag se dolle gejaag na wind vergelyk. Die sogenaamde goue era van musiek, die jare van die sestigs tot min of meer aan die einde van die tagtigs.

Dit was die tydperk van groot name in die musiek wêreld: ABBA, Simon & Garfunkel, die Beatles, die Bee Gees, die Moody Blues, Neil Diamond, ELO, Fleetwood Mac, Heart, Kris Kristofferson en veral ook die onmiskenbare rockgroepe: Led Zeppelin, Foreigner, die Rolling Stones, Status Quo, die Eagles, Boston, Creedence Clearwater Revival, Pink Floyd, Dire Straits, Journey, Nazareth en natuurlik, Queen.

Meeste van my tydgenote se plaatversamelings het vorm begin aanneem tydens ons hoërskooldae. Inligting oor nuwe uitreikings was bitter skraps en het grootliks op toeval staatgemaak. Jy sou toevallig by die platewinkel in Derde straat in Springs instap en deur die plate begin blaai en dan ‘n seven single oor die winkel se luidsprekers hoor speel. By verdere navraag sou jy dan verneem dat dit so-en so se nuwe plaat is. As jou beperkte sakgeld nog veilig in jou beursie was, kon jy die nuutste uitreiking aanskaf en kon jy nie vinnig genoeg by die huis kom om dit te luister nie. Nou dat ek mooi daaraan dink, my vakansiewerk by die klerewinkel, twee winkels verder, het seker ook ‘n rol gespeel om redelik gereeld toevallig by die platewinkel te gaan snuffel, om nie te praat van die aanvallige jong Engelse skoolmeisie agter die toonbank nie.

Die ander manier om op hoogte te wees van die nuutste musiek, was maar deur jou vriende. As iemand ‘n nuwe plaat gekoop het, het jy spoedig daarvan gehoor. Die volgende stap was gewoonlik om te smeek of jy dit so gou moontlik kon leen om dit te kopieer op ‘n kasset. Ek onthou ABBA se plaat met dieselfde naam, met liedjies soos SOS, Mamma Mia, I do I do I do en Rock me, wat ek by Carl opgeneem het. Marius was die verskaffer van die Moody Blues se beste treffers, sowel as Schizophonia van Mike Batt. En so kan ek aangaan. Hopelik kan ‘n paar vriende ook onthou dat hulle ‘n plaat of twee by my geleen het. Daar word gespot dat Pink Floyd se Dark side of the Moon so goed verkoop het, omdat elke persoon wat dit geleen het, dit nooit teruggegee het nie. Op universiteit het manne soos Ogies en Berning, met hulle verstommende plaatversamelings, my eie musiekkennis en -verskeidenheid erg verruim en het ek van musiek bewus geraak waarvan ek in my plattelandse grootword, nooit geweet het nie.

In 1979 het Mike verneem die buurdogter, van die huis waar hy in ons eerste jaar loseer het, het die nuwe dubbel album van Fleetwood Mack, Tusk, gekoop en sy het dit sterk aanbeveel. Ons het met groot afwagting oorgestap, ek eerlikwaar om na Fleetwood Mac te gaan luister en Mike, wel met minder suiwer motiewe. Fleetwood Mac het nie teleurgestel nie, maar vir die res, kan ek nie namens Mike praat nie.

Musiek uit die era is ook nou verweef met herinneringe van goeie tye. Soos die aand toe al ons Tuks manne gaan kuier het by die RAU manne wat saam met ons in matriek was. Soos hulle sê, “what happened in Vegas, stays in Vegas”, maar wat duidelik in my geheue vasgebrand het, is Pink Floyd se The Wall wat oor Marius se blou Datsun se luidsprekers weergalm het op die N1. Of die eerste keer toe ek Hot August Night van Neil Diamond gehoor het, en Canta Libre, I am I said en Morningside se rou emosie my soos ‘n vuishou in die maag getref het. Daar was die aand toe ons koshuis die Sharp rugbybeker gewen het en sodoende die koshuiskampioene geword het. Nadat die manne die grootste en sterkste hifi in die koshuis tot op die dak van die koshuis gedra het, kon Queen vir die hele Pretoria laat weet “We are the champions”. Of die middag toe Org by ons kommune in Sunnyside ingestap het en gesê het: “julle móét hierdie nuwe groep hoor”. Die groep waarna hy verwys het was Dire Straits en het ek vir die eerste keer die geniale Mark Knopfler se toorkuns met sy kitaar op Sultans of Swing ervaar. ‘n Paar jaar later was daar Private Investigations en Brothers in Arms, wat steeds die vermoë het om emosies te roer elke keer as ek daarna luister.

Maar om terug te keer na Queen. Ook in 1979 het ons in die kommune verneem dat Queen ‘n nuwe lewendige opname gaan uitreik, hul eerste. Soos wat ek vroeër genoem het was inligting in die tyd maar skaars en moes jy maar gereeld by platewinkels gaan uitvind wanneer die groot dag sou aanbreek. Op ‘n middag het Derick by die huis ingestorm met die dubbel album. Ons wou onmiddelik luister, net om te besef dat nie een van die lede van die huis wat teenwoordig was, ‘n platespeler beskikbaar gehad het nie. Hy het onthou van ‘n familielid wat in ‘n woonstel ‘n paar blokke verder gebly het en ons is almal agter hom aan. En dan, dan raak mens weg in die lewendige klank van Queen in ‘n tyd waar sulke optredes nie vir ons Suid-Afrikaners beskore was nie. Dis waar die nuwe generasie nie noodwendig begrip sal hê oor hoe dit gevoel het om die ervaring te beleef van ‘n nuwe plaat nie. Die naald wat met viniel kontak maak, die effense gekrap en gesuis en dan die ongelooflike klank van Brain May se kitaar en Freddie se stem wat rillings langs jou ruggraat laat afgaan.

Vandag is my musiek ook op ‘n digitale platform, op my foon en in enige formaat om dit maklik in te trek vir my radioprogramme op internetradio, of om dit via Bluetooth in die motor of deur ‘n luidspreker te speel terwyl ek braai. Maar soms, net soms, wanneer ek weer na Bohemian Rhapsody luister, verlang ek na daai stadige aksie tyd. Toe jy elke liedjie in werklike tyd moes kopieer, maar jy ook tyd gehad het om elke noot en liriek te hoor en waardeer.

Die nuwe generasie sal dit jammerlik nooit ken nie.

Advertisements

9 Comments

  1. Wonderlik geskryf Neef!!! Ja this was the good old days. Die gejaag vandag is werklik skrikwekkend……..

  2. Ja die goeie ou dae …… terwyl ek lees dink ek ook aan my kennismaking met musiek in die sewentigs. In ons huis was enige ander vorm van musiek wat nie Gospel was nie taboe en moes ek skelm of by vriende daarna luister. Johan jy het regtig n talent vir skryf , ek geniet altyd jou stories ! Groete

  3. Ja Bohemian Rhapsody het as ek dit reg kan onthou in 1975 bekend geraak en was ek toe ‘n eerstejaar op Kovsies. Snaaks genoeg het die Afrikaanse diens elke middag uur vir ‘n ruk die plaat gespeel en het ek en my kamermaat Arnold in verwondering daarna gele en luister, die hele 7 minute of hoe lank die snit duur.
    Pragtige musiek daai tye, Justin Hayward en die Moody Blues, Sounds Electric en Mike Batt se “Walls of the world” en Mr. Sugarman Rodriques! Dankie vir die nostalgie, my seun het nou al my plate en geniet dit nou net so.

  4. Dit was nou lekker om weer iets van jou te lees….jy moet meer male terugkeer na hierdie skryfmanier! Jip…die goeie ou dae. Ek het ook grootgeword dat musiek sonde is, maar gelukkig het ek darem later begin bykom!

  5. Hi Ou Vriend, Mooi leesstuk van ons belewenisse van jare gelede saam in Pretoria…die LP’s was fantastiese terapie vir baie van ons…veral wanneer mens in musiek belangstel. Musiek bring mense saam en vat hul op magiese trip! Groete en sterkte in SA, Derick

  6. En is dit nie jammerlik nie. Lekker gelees aan ‘n lekker goedvoel blog vol melankolie as ek teruggevat word na al die mooi musiek van ons era.

  7. Die musiek van die sewentigs was nog MUSIEK. Ek luister nog byna elke dag na sommige van dit.


Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

%d bloggers like this: