Skip navigation

Ek sit vanaand in ‘n gastehuis in die mooie Ceres. Oppad hierheen vanmiddag, sien ek die eerste bloeisels van die vrugteboorde in blom, wit en pienk net waar jy kyk. ’n Onverwagse tweedag hittegolf laat dit voel of ons van lente vergeet het en sommer dadelik na die somer beweeg het. Oral langs die pad is daar mense wat piekniek hou, kinders wat in Bainskloof in die poele baljaar en glimlagte op almal se gesigte.

Wat ’n dramatiese teenstelling met dit wat ek op sopas op sosiale media en in die nuusberigte van die bekende mediahuise gelees het. Xenofobiese aanvalle op buitelanders in Pretoria en Johannesburg, ’n senior leier van ’n politieke party wat wonder hoekom ander rasse nie ook aangeval word nie, mense wat betoog oor aanvalle op vroue en dit doen onder die naam allmenaretrash#.

Dan dink ek aan my ervarings verlede week in dié omgewing. Ek ry elke middag na werk in alle windrigtings om foto’s te neem in hierdie  besondere stukkie paradys. Net voor sononder bevind ek my op ’n verlate plaaspad. Langs my verskyn ’n dam wat, met die sakkende son in die agtergrond, ’n perfekte prentjie gaan vorm. Ek hou stil, klim uit en begin oor die pad loop na die draadheining langs die dam. So dertig meter van my af kom ’n jong meisie van seker so 12 of 13 jaar in die pad aangedraf. Ek skrik en voor ek my kan keer, is die eerste ding wat in my gedagtes opkom, hoe sy nou moet voel om ’n middeljarige man te sien uitklim uit ’n motor op ’n verlate pad, net toe sy aangehardloop kom. Dit is wat ons siek samelewing aan mens se denke doen. Ek probeer om te maak of ek haar nie sien nie en begin te fokus op my foto. Toe sy agter my verby hardloop, kom ’n vrolike en vriendelike: “Middag oom!” Onskuldig, spontaan en hoe dit behoort te wees in ’n normale samelewing.

Oppad terug na die gastehuis, hou ek by een van die groot supermarkte stil. Die winkel is redelik besig en ek het net twee of drie items. By die betaalpunte is heelwat mense in elke tou wat ek kan sien, en ek kies een wat lyk of dit dalk vinniger sal beweeg. Twee seuns van seker 10 jaar oud, in skoolklere, kom na my toe en sê: “Hier is een wat oop is oom” en hulle loop vooruit om vir my te wys waar. Vriendelik, goed gemanierd en hulpvaardig.

Die volgende dag by die opleidingsessie wat ek aanbied, is al 21 kursusgangers vriendelik en vol humor. ‘n Groot groep van hulle is petroljoggies. Hulle het sopas van ‘n 12 ure nagskof af gekom, woon nou agt ure se opleiding by en gaan dan terug na nagskof. Hulle is entoesiasties, neem deel aan al die aktiwiteite en nie een raak vaak of sluimer in nie. Ek dink onmiddelik aan ons hoogsbetaalde parlementslede wat sessie na sessie sit en omslaap. Hulle kom na die sessie na my toe en kom sê dankie. Jy sien die dankbaarheid en een of twee praat langer met my. Een sê dit het haar lewe verander. Ek is sprakeloos.

Die volgende dag tydens etenstyd wag een man dat almal uit die lokaal uit is, voordat hy skamerig na my toe kom. Ek vra vir hom of hy iets op die hart het en ek kan sien dis vir hom baie moeilik om die gesprek te begin. Uiteindelik kom hy met die sak patats na vore. “Gaan ons vanmiddag toets skryf meneer?” Ek stel hom gerus dat alles deurlopend in die sessie in groepe getoets word. Ek sien die duidelike verligting op sy gesig. “Nee, ek wou net sê meneer, ek sukkel maar met die skryf”. Hy neem die res van die dag met groot entoesiasme aan alles deel en gee selfs namens sy span terugvoer.

Die derde oggend kom een van die kursusgangers van die vorige dag en kom help met regsit van die tee en koffie. Sy sê sy wens sy kan weer vandag hier wees. Ek vra of sy dit geniet het. Haar antwoord: “Meneer, ek tree volgende maand af. Ek het nog nooit so baie geleer soos gister nie. Ek kan al die dinge vir my kinders en kleinkinders leer. Baie dankie meneer, die Here sal vir meneer seën”. Sy sê die laaste sin met trane in haar oë en ek sluk swaar.

Na die laaste dag se opleiding loop ek met ’n krat met al die opleidingsmateriaal, my skootrekenaar en ’n sak by die gebou uit na die motor wat so twintig meter verder onder ’n skadunet geparkeer is. Die groep wat die opleiding bygewoon het, sit en gesels onder ’n boom en reageer soos een mens toe hulle my sien. Een vat die krat, ’n ander die rekenaar en ’n ander die sak. Hulle sit alles in die motor en vra of ek nou gaan terugry Kaapstad toe. “Meneer moet baie versigtig ry, dis Vrydag en die pad gaan besig wees”.

Al hierdie gebeure het plaasgevind met mense van al die rasse in hierdie land van ons. Ek het net weer besef dat die groot probleem met die gesprek wat tans in die land gevoer word, die ons-hulle gesprek is. Nie individue wat ’n bestaan probeer maak, goeie harte het, vriendelik en behulpsaam is en met mekaar oor die weg probeer kom nie. Nee, HULLE, synde ’n ander groep, ’n ander geslag, ’n ander ras, ’n ander taal, ’n ander kleur, die vyand, die bevoordeelde of die voorheen benadeelde en vele ander verdelende benamings en etikette.

Soms wonder ek of dinge nie baie beter in hierdie land sal gaan as ons al die politici sou wegjaag nie. Dat gewone mense leiding neem en besluite uitvoer. Ek wil eerder deel wees van ’n land soos wat ek verlede week beleef het. “ Beter wêreld as dit wat sogenaamde leiers aan ons probeer voorhou. Die vraag is of ons gewone mense dit kan laat gebeur, ten spyte van die verdelende uitsprake en optrede van politieke leiers en die sensasie behepte media.

’n Mens kan net hoop, bid en vertrou, en doen. Die alternatief is ondenkbaar.

Advertisements

3 Comments

  1. Jy het dit so goed gestel Johan. Kon nie help om ‘n traan te moes wegpik nie.

  2. Ek wil saam jou stem…jaag die politici weg. As mens so iets beleef maak al die aangeblaasde situasies die melk dik in jou keel.
    Was lekker om weereens iets van jou te lees
    😁


Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

%d bloggers like this: