Die Buffel

Hy lig sy hand meganies en waai vir die kind op die swaai, sonder om notisie te neem. Hy voel hoe die sonskyn oor hom spoel, sien die diepblou lug en hoor die vrolike kindergeluide wat hom omring. Dis tien voor tien op ‘n Dinsdagoggend en die park is besiger as wat hy verwag het.

Afgetrokke beskou hy die toneel voor hom. Jong ma’s met babas in stootwaentjies, kleuters wat mekaar jaag al om die glyplank en ‘n Jack Russell wat uitgelate, saam bokspring. ‘n Vrou op die bankie langs hom voer ‘n ernstige gesprek met iemand op haar foon en is opsigtelik nie gelukkig met wat sy hoor nie.

Sy gedagtes loop wye draaie. Iets aan die toneel wil-wil hom aan ‘n soortgelyke ervaring herrinner. Hy probeer die déjà vu gevoel oproep, maar dit wil net nie duidelik uit sy onderbewussyn na die oppervlak kom nie. Waar was dit …?

‘n Angskreet sny onverwags deur die lug. Iemand skree ‘n kind het geval en is besig om te bloei. Hy is skaars bewus van die geskarrel om hom.

Hy onthou …

Galeshewe, Kimberley,1985. Agt troepe en ‘n drywer op ‘n Buffel. Die korporaal wat wys dat hulle maar sonder hom met die patrollie deur die township moet aangaan. Beduie iets van die kolonel wat hom wil sien. Die drywer wat grinnik en sê nou is hy in bevel. Nou moet julle laaities klou.

Hy onthou die walglike reuk van die nagkar, soos wat die arrogante PF, met ‘n gasmasker op sy gesig, al agter die antieke voertuig aangekruie. Hy onthou die selfvoldane uitdrukking op die soldaat se gesig, sy histeriese gelag vir sy eie briljantheid oor die les wat hy die protesterende civvies geleer het. Hy onthou die kyke van die mense langs die straat. Sommiges vriendelik, ander met ‘n uitdrukking van haat vir die indringers in hulle leefruimte.

Die land is in vlamme. P.W.Botha staan met sy vinger in die lug en sê die onrus sal in die kiem gesmoor word. Pik Botha staan vol bravade voor die VVO en daag hulle uit: “You can do your damnest”. En elke dag in townships deur die land, ry dienspligtiges met drywers in Buffels, sien agtienjariges hoe mense met buitebande oor hulle getrek, aan die brand gesteek word en vertel politici ons op TV, hoe ons reg ons is en hoe verkeerd die hele res van die wêreld is.

Dan onthou hy die park. Of iets wat dalk jare tevore ‘n park was. Die vaal stuk grond, sonder ‘n groenigheid in sig. Die oorblyfsels van ‘n swaai. Die wipplank wat onverklaarbaar heel gebly het. Kinders wat ‘n self geprakseerde sokkerbal rondskop.

Die drywer wat uit die bloute skerp swenk en op die kinders afjaag. Die groter kinders wat, asof hulle dit al voorheen moes doen, die aanstormende voertuig systap en in al die windrigtings laat spaander. Die soldate op die buffel wat lag. ‘n Doodnormale gebeurtenis in ‘n stukkende land.

Met ‘n skok besef die man dat nie al die kinders weggehardloop het nie. In die oop veld staan twee grootoog kleuters, niks ouer as drie of vier jaar nie. Hulle kyk versteen na die reuse, bruin, voertuig. Hy sien hoe die nuuskierigheid oorgaan in paniek, toe die drywer die voertuig in rat sit en vorentoe skiet.

Die man skree vir die drywer om te stop. Hy probeer die drywer se staaldak met sy plathand raakslaan, maar hy is buite bereik. Die Buffel begin in ‘n sirkel om die kinders ry. Eers stadig en toe al vinniger. Al in die rondte. ‘n Grysswart stofwolk styg die lug in. Al die wat die man hoor is die geraas van die enjin en die gelag van die soldate. Hy sien die vrees op die kleuters se gesigte, die bloedstollende angskrete, die stoftrane en vraagtekens in hul oë. Die man sak in sy sitplek neer, sit sy hande oor sy ore en druk onwillekeurig sy kop tussen sy bene in. Die sirkel word al kleiner en kleiner en die enjin geraas onhoudbaar. En toe, so skielik as wat dit begin het, is dit oor.

Hy raak weer van dinge om hom bewus toe iemand vra hoekom hy nie van die Buffel afklim nie. Hy besef hulle is terug in die basis. Hy reageer nie toe iemand anders vra wat met hom aangaan nie. Hy loop toilette toe en gooi al die opgekropte woede en hartseer op. Hy dink nooit weer aan die dag nie.

Hy voel hoe iemand aan sy mou trek. Voor hom staan sy seuntjie. Sy knie is stukkend en ‘n bloedstraal loop teen sy been af. Twee vrouens kyk hom woordeloos aan. Hy vat sy sakdoek en vee die kind se trane van sy gesig af en toe die bloed van sy been af.

Die seuntjie kyk op. “Hoekom lyk pappa so snaaks?” vra hy.

“Dis sommer niks”, sê hy vir die seuntjie.

“Kom ons gaan huis toe. Ma wag seker al vir ons”.

Alleenheid

Daar is vandag ‘n mistroostigheid wat my omring. Dis moeilik om te beskryf. Ek is tussen mense, maar daar is geen konneksie nie. Ek sit, asof op my eie eiland. Mense groet, vra hoe dit gaan, maak opmerkings soos dat hulle my lanklaas gesien het en ek antwoord op my beurt met die normale reaksie van hoe goed dit is om hulle weer te sien en dat ons moet reël om iewers te gaan koffie drink.

Maar die hele tyd voel dit asof ek ‘n waarnemer van die interaksies is. Asof ek buite staan en kyk hoe dit gebeur.

Vroeër hierdie week het ons verneem dat Robin Williams oorlede is. Komediant, rolprentster en vermaker by uitstek. Nogtans was hy depressief, soos baie ander vrolike mense, wat altyd die aardsoptimis is, wat ander vermaak en altyd die humoristiese kant van dinge kan raaksien.

Ons lewe vandag in ‘n era van kommunikasie. Ons het slimfone, Faceboek, Twitter, Skype, Whatsapp en Mixit. Ons maak kontak met ou skoolvriende en nuwe kennisse op sosiale platforms. Ons het meer “vriende” as ooit tevore. Maar die harde werklikheid is, dat mense nog nooit in die geskiedenis so eensaam was nie.

In die VSA het navorsers onlangs bevind dat ‘n groot persentasie Amerikaners lei aan “Skin Deprivation Syndrome”. Mense raak nie meer aan mekaar nie. In die werkplek kan dit lei tot seksuele teistering klagtes en meer en meer kinders word groot sonder die belangrike fisiese kontak met ouers, broers, susters, neefs, niggies, ooms en tannies. Maar fisiese kontak is ‘n essensiële deel van gesonde ontwikkeling en algemene gesondheid.

Op emosionele vlak, praat ons elke dag met gesinslede, familie, vriende en sosiale netwerk vriende. Ons “like” plasings en in sommige gevalle sal ons selfs opmerkings of kommentaar plaas. Maar hoeveel van ons doen die moeite om iemand te bel? Hoeveel nooi iemand uit vir ‘n koffie of sommer net om te gesels? Is ons enigsins ingestel om agter te kom dat iemand swaarkry, dat hulle moedeloos is, dat hulle stoei met ‘n krisis? Is ons bereid om tyd met iemand te spandeer, sonder om noodwendig iets te sê, sonder om advies te gee en sonder om iets in ruil te verwag? Dalk is die eintlike vraag: Stel ons opreg belang?

Of is ons so afgestomp en besig met ons eie dinge dat dit ongesiens by ons verbygaan?

Ek wonder soms of die fout nie by myself lê nie. My geaardheid val beslis meer aan die introvert kant van die spektrum. Reik ek nie genoeg uit na ander nie? Deel ek nie genoeg van myself met ander nie? Moet ek my Johari venster nie groter oop maak nie?

Ek het nog nooit daaraan geglo om honderde vriende te hê nie, eerder net ‘n paar wat ek goeie vriende kan noem. Maar hoeveel weet ek regtig van my goeie vriende en hulle van my? Hoe naby is ons aan mekaar?

In ‘n vorige leeftyd, voor tegnologie, het mense rondom ‘n tafel gekuier, mekaar uitgevra oor wat die dag gebeur het en met belangstelling geluister na mekaar. Daar was nie TV’s, rekenaars, i-Pads en selfone nie. Maar daar was belangstelling, konneksie en kontak. Dit lyk vandag of ons almal aan aandag afleibaarheid lei. Ons kan nie vir vyf minute stilsit en ‘n diep gesprek voer nie. Ons moet eers ons status opdateer of ‘n foto vir iemand stuur. Ons is meer geïnteresseerd om al die mense wat nie in persoon by ons is nie, op hoogte te bring van waar ons ons bevind, of waarmee ons besig is, as wat ons is in dit wat die persoon wat reg voor ons sit, te sê het.

Ek sien vandag weer die aanhaling: “I used to think the worst thing in life was to end up alone. It’s not. The worst thing in life is ending up with people who make you feel all alone”.

Gaan ons ooit die boodskap kry? Of is ons al by die draaipunt verby?

Vanaand sal ek weer ‘n snaakse prentjie of goeie liedjie op Faceboek plaas en sewe mense van my 130 kontakte sal dit “like” en vier sal kommentaar lewer. Ek sal vir twee van my “vriende” geluk wens met hul verjaarsdag, waaraan die rekenaar my gerieflik herrinner het. Ons sal gaan slaap en môreoggend met die lewe aangaan. Ons sal maak of alles ok is.

Pink Floyd het dalk al in die sewentigs geweet waarvan ek praat.

Ons het almal Comfortably Numb geword.

Die vroue in my lewe

‘n Dag of twee gelede was dit weer Vrouedag. Vir die groot gros van die bevolking was dit maar net nog ‘n dag, vir politici ‘n verdere geleentheid vir niksseggende, warm lug retoriek en vir nie-regerings-, welsynsorganisasies en ondersteuningsgroepe om soos elke ander dag in dié stukkende, gewelddadige land van ons, te probeer om mishandelde, geteisterde en uitgelewerde vroue sonder subsidies, geld en middele te ondersteun en versorg.

My gedagtes het die dag koers gekies en ek het begin dink aan al die vroue in my lewe wat, tot ‘n mindere of meerdere mate, ‘n bydrae gemaak het tot wie ek vandag is, my denke en lewensuitkyk help vorm het en waarsonder ek ‘n baie armer mens sou gewees het.

Die een persoon wat uitstaan bo almal en wat sekerlik die heel grootste effek op my lewe gehad het, was beslis my ma. Nie alleen het ek omtrent 90% van haar geaardheid geërf nie, maar was sy vir my meer as net ‘n ma. Sy was ‘n besondere ma. Die sagste mens denkbaar, wat haar gesin met haar hele wese, altyd eerste gestel het. Kan mens ooit die effek van onvoorwaardelike liefde, bederf en aanvaarding op die ontwikkeling van ‘n kind bepaal?

Dis ‘n voorreg om jou kinderdae te beleef, nie alleen in ‘n gelukkige gesin nie, maar ook met ‘n groot, hegte familie waar jy enige tyd kan gaan kuier, speel, oorslaap en nooit daaroor hoef te wonder of jy welkom is nie. Onvergeetlike vakansies saam met neefs en niggies, familie byeenkomste rondom Kersfees en ‘n omgewing waar ons net kinders kon wees, sonder verantwoordelikhede en bekommernisse. En in die agtergrond, ‘n handvol tannies wat altyd reg staan om te help, te troos, aan te moedig, kos te gee (en kon hulle kosmaak!) en af en toe te raas, maar meestal om ons droogmakery weg te praat as kinderpret, wanneer die pa’s aksie wou begin neem.

Ek het my een ouma op ‘n baie jong ouderdom verloor en kan vaagweg ‘n paar dinge van haar onthou. Maar my ander ouma het ‘n baie groter rol gespeel. Die matriarg van die familie, streng maar liefdevol en met baie sterk beginsels van reg en verkeerd. Sy het ons kleinkinders geleer, meer met voorbeeld as woorde, van geloof in God, van gebed en van die belangrikheid van familie. ‘n Formedabele vrou wat nege kinders bykans alleen grootgemaak het en steeds sterk en trots daardeur gekom het.

Daar is min mense wat jou so goed ken, as iemand wat in dieselfde huis as jy groot geword het. Wat ‘n voorreg om ‘n ouer suster te hê. Die oudste kind is gewoonlik die een wat alles eerste doen en wat die verantwoordelike een moet wees. Hulle is prakties gesproke “die eksperiment”. Die tweede kind (soos ek) het dit makliker, omdat die ouers nou meer ervaring het en die kind meer ontspanne grootgemaak word. Op skool was ek die irriterende jonger boetie, maar soos ons ouer geword het, het die ouderdomsverskil van drie jaar niksseggend geword en het ek en my suster al nader aan mekaar beweeg.

Dan was daar die onderwyseresse wat ‘n mens se lewenspad gekruis het. Mense wat selde die erkenning kry, wat hulle toekom. Sommige geliefd en ander vir wie ek ‘n heilige ontsag gehad het. Spesiale vroue soos my graad 1 juffrou, juffrou de Beer (Taljaard), in wie se klas ek beslis ‘n witbroodjie was, juffroue Putter, Stevens, Cloete en Venter, wat ons leer lees, skryf en reken het en tafels in ons ingedril het, sodat ek vandag nog, sonder om te dink, tafels kan doen. Hulle het ons ook geleer spel, iets wat skynbaar nie meer as belangrik geag word in die nuwe skoolstelsel nie.

Op hoërskool was daar onderwyseresse soos Miss Pretorius en juf Bester, wat elkeen op hul eie manier, ons Hugenote manne, help vorm het.

Na weermag en universiteit het my werkslewe begin. Ek is waarskynlik redelik uniek in die sin dat ek deur my loopbaan, bykans eweveel vroulike- as manlike bestuurders gehad het. Daar was my departementshoof in my eerste dae as onderwyser. Sy het my veral deur die eerste jaar van skoolhou gehelp, tot so mate dat die matrieks van die volgende jaar aan my toevertrou is. Dan was daar ‘n vrouedirekteur tydens my jaar in die staat, ‘n vroulike personeelbestuurder by Anglo American en twee agtereenvolgende vrouebestuurders by Impala Platinum. Almal vroue by wie ek baie geleer het oor bestuur, leierskap en organisasie en vir wie ek ewig dankbaar is. Sommiges deur hul eie voorbeeld van goeie bestuur en ander by wie ek geleer het hoe om nie te bestuur nie!

Oor die jare was daar ook kyse, liefdes en komplekse verhoudings. Elkeen van die meisies het op hulle eie unieke manier ook ‘n bydrae gemaak. Van sommiges het mens meer van die realiteite van verhoudings geleer, met ander was dit weer lekker terwyl dit gehou het, maar dan was dit tyd om aan te beweeg. Sommiges was vakansie romanses en ander kortstondige “wat het ek gedink” konneksies. So het ek geleer en foute gemaak, wat my hopelik meer volwasse gemaak en ‘n beter mens gemaak het. Maar elkeen van die tiener- en universiteitsliefdes het ‘n bydrae gemaak tot wie ek vandag is.

In die sielkundeklas op Tukkies het daar een oggend drie beeldskone dames al geselsend in die klas ingestap. My aandag was onmiddelik geprikkel en het ek die res van die klas nie veel opgelet oor wat die dosent te sê gehad het nie. Al my aandag was ingezoem op die mooiste donkerkop, skuins links voor my. Dit het nog ‘n paar weke geneem voordat die geleentheid homself voorgedoen het om haar uit te vra, maar na die tweede date (die fliek “The Shining”), was die koeël deur die kerk en het ek vir my groot koshuispel, Mamba, gesê dat ek my trouvrou ontmoet het. Hy het dit besonder amusant gevind, maar moes drie jaar later sy woorde sluk.

Naas my ma, was dié donkerkop die persoon wat seker die grootste effek op my lewe gehad het. Hulle sê die sterkste gif kom in klein botteltjies. Die stelling is 100% op haar van toepassing, maar op ‘n positiewe manier. Iemand met ‘n sterk wil, wat nie maklik bes gee nie en weet wat sy wil hê en hoe dit moet lyk. Baie van my loopbaankeuses, verdere studies en besluite in my lewe, was as gevolg van haar wat net sekere vrae begin vra of moontlike opsies voorgestel het en dan subtiel in die agtergrond seker gemaak het dat ek die aksies in plek begin sit om dit te laat gebeur. Sy is die persoon wat al vir meer as dertig jaar, deur dik en dun, by my staan.

Vanaf die dag in die sielkunde klas, was daar net een vrou in my lewe, tot een aand in Welkom, toe die ginekoloog ‘n klein bondeltjie vir my aangegee het en ek vir die eerste keer my nuwe dogter kon aanskou. Bykans 24 jaar gelede en steeds ‘n bondel vreugde vir haar pa. Daar is net iets met pa’s en dogters wat besonders is en wat ek vir niks sal verruil nie.

Daar is baie grappies oor skoonma’s en in sommige gevalle steek daar seker waarheid in, soos ma’s wat glo niemand is goed genoeg vir hulle bloedjie nie. Ek was besonder gelukkig om presies die teenoorgestelde te ervaar. Van dag een af het ek en skoonma gekliek en is sy in alle opsigte ‘n tweede ma vir my. Nog ‘n besondere vrou wat my lewe verryk het.

Na my ma se ontydige dood in die middel negentiger jare, was ons besonder dankbaar toe my pa weer iemand in sy lewe raakgeloop het wat hom aanvul en ook ‘n band met ons kinders kon smee. Iemand wat maklik deel van die familie geraak het en vir ons voel of sy nog altyd deel daarvan was.

Dan is daar laastens ook die vroue wat soms glad nie vermeld word nie, wat vir die meeste van ons wat in die apartheidsjare grootgeword het, amper as vanselfsprekend aanvaar is. Die huishulpe. Ons het vir baie jare ‘n Lucy gehad en vir nog langer, vir Hilda. Hulle het help grootmaak, skoonmaak en beskerm en moes ook seker maar op tye net hulle koppe geskud het met al ons kapperjolle. Later was daar Bettie, wat ‘n groot steunpilaar was deur die eerste paar jaar na die geboorte van ons prematuur baba en wat ‘n paar jaar gelede onverwags aan kanker oorlede is.

Daar is waarskynlik nog ‘n paar vroue waaraan ek nie op die oomblik kan dink nie. Al wat ek terdeë van bewus is, is dat elkeen van die vroue hierbo ‘n medalje verdien. Hulle is die gom wat die samelewing aanmekaar hou.

Ek salueer hulle, een en almal.