As dit by hengel kom, is ek nog vis, nog vlees

Een van die mooiste liedjies in Afrikaans is Laurika Rauch se weergawe van Blouberg se strand. Sy sing:

“Daar is witgekalkte huise
En ou Tafelberg
Daar is hengelaars met stok en hoed
Wat vroeg visse terg
My pa sê my kind, ons moet swart mossels vind
Ons is lief vir die see, ek is lief vir my kind”

Ek gaan eenhonderd persent akkoord met Laurika oor Bloubergstrand. Die bekendste uitsig op Tafelberg, waarvan ek seker al meer as ‘n duisend foto’s geneem het, maar elke keer weer doen, net omdat ek nie genoeg daarvan kan kry nie.

Bloubergstrand

Maar sy sing ook van die hengelaars wat vroeg visse terg. Daar verminder my passie so effens. Moenie my verkeerd verstaan nie, ek is een van die eerstes in die voertuig as daar gepraat word van ‘n naweek wegbreek om te gaan visvang. Maar vir heel ander redes as die visse. Ek is daar vir die sosiale sy van die oefening, die rustigheid, die ontspan, kuier saam met goeie vriende of familie, die lag, die natuur en die insidente wat gewoonlik so ‘n naweek onvergeetlik maak.

In die opsig is ek en my pa voëls van eenderste vere. Hy was ook nooit die groot visserman nie, maar was altyd deel van die aksie, as die meer ernstige vissermanne in die familie besluit het dis tyd om ‘n lyn te gaan natmaak. En ek het maar altyd agterna getou. Meeste van dié naweke was iewers langs die Vaaldam of Vaalrivier. As ons as gesin see toe gegaan het vir ‘n vakansie, was dit om in die see te baljaar en sandkastele te bou, verseker nie om vis te vang nie.

So is ons een naweek langs die Vaaldam. Ek en my pa, twee van sy jonger broers en ‘n swaer, almal van die meer ernstige tipe hengelaars. Een van my ooms het kort voor die naweek ‘n splinternuwe tent aangeskaf, sodat ons darem in redelike gerief die naweek kon geniet. Ons het so deur die eerste dag gereeld gehoor van hoe oulik die tent is, van al die uitsonderlike kenmerke en dat dit nou waarskynlik die beste waarde vir geld in die tentmark is.

Die aand langs die water, het dit drasties begin afkoel. Ek het halt geroep rondom middernag en my slaapsak gaan opsoek. My pa het kort daarna gevolg, maar die deurwinterde, gefokusde manne het bly sit en gewag vir die grote wat binnekort sy opwagting sou maak. Teen twee uur het hulle ook maar die stryd gewonne gegee en die tent opgesoek, maar nie voordat al die katoeters in plek gesit en aangeskakel is nie. Dis mikke en toeters en liggies net waar jy kyk.

Die ritssluiter van die tent se deur is oopgelos, vir die byt aan die hoek wat, volgens die kenners, moes kom. Dit was net ‘n kwessie van tyd. Ongelukkig het iemand, wat naamloos sal bly, deur die nag ‘n nood verlig en ingedagte die ritssluiter toegetrek. Vroegoggend het chaos losgebars. Een van die stokke het geskree of dit aangerand word en daar was beslis ‘n grote aan die lyn. My rugbyspeler oom, nie die kleinste mens wat ek ken nie, het opgevlieg en met die gedagte van ‘n oop deur, voluit gestorm vir die stok. Hy het ‘n splinternuwe opening vir die tent gemaak, netjies al langs die naat van die vorige opening af. Om te sê dat die eienaar van die nuwe tent nie gelukkig met die verwikkeling was nie, is om dit sagkens te stel.

Ek en my een neef het as jongelinge ook ‘n paar keer die visvang ding gedoen. Hy is toevallig ook een van die fanatici. Ons het in Orkney gekuier en besluit om ons geluk te beproef in die Vaalrivier, reg onder die nasionale pad se brug. Eintlik moes die dag van my ‘n visvang bekeerling gemaak het. Ek het nog nooit so-iets beleef nie. Ons het kniediep in die rivier gestaan en die hoek letterlik vyf tree voor ons stroomaf gegooi. Dit het skaars water getref, dan voel jy daar is ‘n byt. Jy het skaars die vis losgehaak, teruggeggooi en nuwe aas aangesit, dan is die volgende byt daar. Beslis my tipe visvang! Ek verstaan dit is nie ‘n tipiese dag langs die viswaters nie.

By ‘n ander geleentheid het die twee van ons na ‘n bekende vangplek in visvang kringe gemik, met die toepaslike naam, die Mik. Dit het die vorige twee dae erg gereën en alles was glibberig en modderig. Ons het ons staanplek vir die naweek geïdentifiseer en gly-gly met my studentekar, ‘n Fiat 128 Rally, afgery teen ‘n skuinste, om tot by die rivieroewer te kom. Ek weet nie of dit die onervarendheid van die jeug, onnoselheid of onoplettendheid was nie, maar dit het nooit by ons opgekom hoe ons weer bo-op die wal sou kom nie.

Teen Sondagmiddag nadat alles opgepak was, het dié realiteit ons getref. Ons het alle tegnieke, wat selfs die manne van Top Gear trots sou gemaak het, probeer. ‘n Paar van die pogings het gevaarlik naby die rivier geëindig, soos die arme Fiat sy bes probeer het om teen die slymerige grondwal uit te kom. Met een laaste poging voordat ons die plaasboer sou moes vra om ons met ‘n trekker uit te sleep, het die Fiat die kruin bereik, ‘n uur en ‘n half later.

Tydens my skoolhoudae, het ek en ‘n kollega een naweek, met sy karavaan(tjie), by die Bronkhorstspruitdam gaan visvang. Die koddige karavaan het my herinner aan ‘n Liewenheersbesie, of ‘n Ladybug in Engels. Dit was letterlik niks langer as wat ek is nie en slaap was ‘n groot uitdaging. Kollega was een van die manne wat die taak ernstig opgeneem het en hy het dan ook ‘n paar planne en tegnieke vir die naweek saamgebring. Een van hulle was ‘n veer (spring) van seker so 15 sentimeter, wat ‘n entjie van die hoek af aan die lyn vasgemaak is en wat gebruik sou word om blykbaar ‘n soort van voerplek naby die hoek te skep. Die probleem met die apparaat was dat die plek waar ons gevang het, ‘n redelike hoeveelheid gras en riete ingesluit het. Elke keer as hy die lyn uit die water wou haal, was dit ‘n stryd om die veer losgehaak te kry.

Soortgelyk aan die een in die storie

Ek het die petalje elke keer gadegeslaan en gewonder wanneer hy sy aanslag sou verander, maar hy was ‘n man met ‘n plan. Dit was nou tot een finale keer, toe ‘n opeenvolging van gebeure sy denke oor die veer se waarde toevoeging, drasties verander het. Die patent het weer vasgehaak, so tien treë voor hom in die gras en riete, en hy was al kniediep in die water, al beurende met die stok, dan links en dan regs in ‘n boog, met die vislyn snaarstyf gespan. Die volgende oomblik kom die affêre los, soos ‘n koeël uit ‘n geweer. Daar was nie kans vir reageer of koes nie, en die veer tref hom met ‘n slag wat jy waarskynlik in Pretoria sou kon hoor, hoog in sy lies. Gelukkig vir hom, millimeters weg van ‘n ramp. Sy binnebeen was oombliklik blou, met ‘n rooi sirkel om die blou en ‘n nog groter oranje sirkel om die rooi, waar die kleursel wat hy in die aas gesit het, die prentjie afgerond het. Ek het omtrent van my stoel afgeval van die lag. Maar steeds was dit nie die einde van my vermaak vir die naweek nie.

Sondagoggend, roei hy vir oulaas die lyne in, sit die stokke reg en kom help my met ons reuse ontbyt. Dis eiers, spek, sampioene, tamatie en broodjies. Hy trek die botter nader, in die waspapier soos dit van die winkel af kom, om die broodjies te smeer en misreken homself met sy greep op die botter. Gelukkig met goeie reflekse kry hy die botter op die tweede poging gevang, net voordat dit op die grond val. Hy is nog besig om om te spog oor die vinnige reaksie, toe iets sy lyn beetkry en so hard pluk dat die stok van die mikkie afval.

Hy het alles gelos en laat spaander vir die stok. Sonder om weer aan die botter te dink, kap hy die stok met alles wat hy het, net om ‘n sekonde later rond te kyk en te wonder wat van die stok geword het. Met sy botter hande het hy basies die stok skuins oor die karavaantjie gegooi, in plaas van om die vis te haak. My naweek was gemaak. Soos ek aan die begin gesê het, dis hoekom ek op die tipe naweke saamgaan.

My pa het oor die jare, veral sy jonger broers op tye erg frusteer, omdat hy verveeld raak van die niksdoen en homself dan ten koste van hulle, begin vermaak. Sy gunsteling was om ongemerk ‘n hoek met ‘n stuk vislyn oor een van hulle lyne te haak en dan iewers ver agter hulle in die koelte op ‘n seilstoel te gaan sit. Dan sal hy die lyn effens roer, net genoeg om die eienaar van die stok se aandag te trek. Dié sal dan vir die volgende vyf minute gereedstaan om die stok te gryp. Dit alles gaan natuurlik gepaard met lopende kommentaar: “Hy’s definitief daar, hy proe net, wees geduldig, hy gaan hom nou vat, die grotes doen dit”.

Dan sal hy dit los en weer so oor tien minute die proses herhaal, wanneer die kommentaar iets was soos: “Nee ek dink hy’s weg”. Onmiddelik is daar weer groot afwagting en opmerkings soos “hy’s nog daar, dis ‘n skelm een dié”. Wanneer hulle uiteindelik agter die kap van die byl kom, moes hy tydelik vlug vir sy lewe. Gewoonlik was dit dan my werk om weer die lyne in te roei, tot daar waar jy amper nie meer kan sien nie, iets wat ek nogal geniet het om te doen. Jy draai die lyn om jou groottoon, sorg dat die hoek en bol aas eenkant lê en dan roei jy. Dit lekker afleiding, behalwe die keer toe die katrol vagehaak het en een van die hoeke my toon deurboor het.

Ek het nog altyd gewonder oor die manne wat by ‘n rivier visvang. Die ou aan die Tranvaal kant van die rivier gooi die hoek tot amper in die Vrystaat, terwyl die ou aan daai kant, net-net die wal aan dié kant mis. Sal dit nie werk om die ding sommer net hier voor jou te gooi nie, vra ek as oningeligte leek.

Daar is nog baie visvang stories, soos die dag toe my pa ‘n seemeeu gevang het, of die keer toe my oom ‘n seeskilpad gehaak het, of die ou wat ons op die rotse by Mission Rocks, naby St Lucia gekry het, wat deur ‘n seeslang gebyt is.

Maar vir nou is ek lus vir ‘n wegbreek. Miskien is dit tyd dat ek weer saam met ‘n ernstige visserman gaan visvang.

Ek moet my kar lisensie hernu

Burokrasie was maar nog altyd met ons, maar nou met die inperkingstydperk, het dit tienvoudig toegeneem. Staatsamptenare soos dié by binnelandse sake, geniet hulle betaalde vakansie terdeë en dit gaan baie vat om hulle terug te kry by die werk. Ek sê doelbewus nie om hulle produktief te kry nie; dis ‘n gesprek vir ‘n ander dag.

Die regering het in dié tyd uitstel verleen aan mense wie se motorlisensies en bestuurslisensies besig was om te verval, aangesien lisensiekantore oor die land, ook vir die tydperk gesluit was. Twee van my voertuie val in die kategorie, een wat presies in die geslote tyd verval het en een wat kort daarna, hernu moes word. Om in ‘n tou te gaan staan by die lisensiekantoor, is vir my ‘n siels uitmergelende proses en ek probeer altyd kyk of ek ‘n stiller tyd kan kry om dit so pynloos moonlik klaar te kry.

Ons posbus by die Poskantoor is skuins oorkant een van dié kantore. Gevolglik probeer ek altyd al die dokumente byderhand hou vir die hernuwing, elke keer as ek gaan pos uithaal. As daar geen tou sigbaar is nie, gryp ek die geleentheid en vermy sodoende die lang, frustrerende gewag in ‘n tou. Maar nou dat almal se hernuwings opgehoop het en die regering se sperdatum op sy einde is, staan daar al vir die afgelope twee weke ellelange toue voor die gebou. Mens sou verwag dat hulle dalk ‘n uur vroeër sou oopmaak en ‘n uur later sou oopbly, of ‘n paar ekstra toonbanke sou byvoeg, maar dit sou hoërgraad denke vereis. Ons leef nie in Utopia nie.

Gisteroggend begewe my moed my toe ek die tou aanskou. Kennisse op Facebook reken dit vat tussen vier en vyf ure om gehelp te word, as die tou so lank is. Ek besluit om eerder vanoggend, vroegoggend daar te wees en die gedrang te vermy, presies wat honderde ander lisensie soekers ook gedink het. Toe ek net na sewe daar stilhou (die kantoor maak agtuur oop), staan die tou alreeds al langs die gebou af, om die hoek van die gebou, oor ‘n grasperk en al langs die staalheining af, tot in die parkeerterrein.

Die Kaap is geseën met lieflike reën hierdie seisoen en ons is innig dankbaar vir elke druppel, veral na ons langdurige droogte. Maar stortreën, met die temperatuur op 7 grade Celsius, terwyl jy in ‘n tou staan, is nie my koppie sop nie. Toe die eerste druppel neerplons, was ek reeds by die hek uit en twee blokke verder oppad terug huistoe.

Dié besluit het nie die nodigheid om die lisensies te hernu verwyder nie, dit het my net droog gehou en my frustrasie verminder. Iewers lees ek die Poskantoor kan ook die diens verrig. Blote wensdenkery, lig die dametjie agter die toonbank by die Poskantoor my in. Al wat nou oorbly, is om die proses aanlyn te probeer doen. Ons is mos in die 21e eeu, met gevorderde tegnologie, 5G, internet en die 4e industriële rewolusie iewers op die horison. Hoe moeilik kan dit nou wees?

Ek gaan haal my skootrekenaar uit sy sak, maak Firefox oop en soek die munisipaliteit se webwerf. Ek word aangesê om eers te registreer. ‘n Volgende bladsy maak oop en ek moet die gewone dinge invul. Naam, van, identiteit, adres en vir watter een van ‘n legio dienste, ek wil registreer. So far, so good. Nou moet ek ‘n gebruikersnaam kies. Ek kies die maklike roete, my eie naam. Nee sê die stelsel, die naam bestaan reeds. Ek sou so hoop, maar hulle bedoel seker daar is iemand met dieselfde naam, reeds geregistreer. Ek kan nou al voorspel dat daar iewers in die toekoms verwarring gaan ontstaan. Ek kies maar ‘n tweede opsie en die keer is die stelsel tevrede.

Ek kies lisensie hernuwing en enter. Ons maak vordering. ‘n Vriendelike boodskap van SAP sê ek mag maar die bladsy toemaak en aangaan op die oorspronklike bladsy. Ek sien al dat ek oor vyf minute die takie in die bed gesit het en agteroor kan sit met ‘n lekker koppie koffie.

Ek gaan terug na die oospronklike bladsy en tik my nuwe gebruikersnaam in. Nou soek hulle ‘n wagwoord. Toe ek begin terugdink, kan ek glad nie onthou dat hulle ooit gevra het dat ek een moet skep nie. Dan moet dit seker my e-pos adres wees, wat as wagwoord dien. Toe nie. Ek kies maar die “wagwoord vergeet” opsie en ‘n boodskap laat weet my dat ek ‘n e-pos te wagte kan wees, met ‘n nuwe tydelike wagwoord. So minuut later is die boodskap in my in-mandjie. Ek tik die nuwe wagwoord in en niks gebeur nie. Ek vee hom uit en tik dit weer. Die wagwoord is verkeerd sê hulle. Ek gaan kopieer die nommer net so en plak dit in die kassie. Steeds verkeerd. Die kode is nie meer geldig nie.

Ek mompel ‘n paar gevleuelde woorde en kies weer “wagwoord vergeet”. ‘n Minuut later het ek ‘n nuwe kode. Ek plak in afwagting die nuwe kode in en weer is dit nie aanvaarbaar nie. Ek kies uit radeloosheid die vorige een. Kyk as ‘n stelsel jou kon uitskel, was hierdie naby daaraan. “Dis ‘n ou wagwoord en jy kan dit nie weer gebruik nie”. Ek wou antwoord dat ek dit nog nooit kon gebruik nie, maar hulle gee nie die opsie nie. Ek probeer ‘n derde keer “wagwoord vergeet”. SAP ruk hom op en vertel my dat ek reeds twee pogings misbruik het. Wat nou? Tot my groot verbasing kry ek wel ‘n derde e-pos met nog ‘n nuwe kode. Dié een werk en die stelsel sê my aan om nou self ‘n nuwe wagwoord te kies. Ek maak so en kry toegang tot ‘n volgende vlak. Ek voel kompleet of ek ‘n komplekse videospeletjie speel.

Ek vorder tot by die lisensie opsie en moet nou ‘n afskrif van my identiteitsdokument oplaai. Ek neem ‘n foto met my foon, stuur dit vir my rekenaar en laai dit op. Amper klaar. Nou net die lisensies. Toe nie so vinnig nie. Die stelsel vertel my dat ek nou die trotse eienaar van ‘n sewentien syfer verwysings nommer is en dat hulle my sal laat weet wanneer die proses kan voortgaan.

55 ure later …. ek het ‘n e-pos wat sê my aansoek is goedgekeur. My verwysingsnommer is nou vervang met ‘n tien syfer besigheidsvennoot nommer. Moet my nie vlak kyk nie, ek is nou ‘n besigheidsvennoot.

Vol afwagting, die volgende oggend, haal ek weer my skootrekenaar uit en soek die webtuiste. Alles verloop seepglad met my gebruikersnaam en wagwoord en ek voel versigtig optimisties oor my kanse om nuwe lisensies te bekom. Ek klik op “motor vehicle lisencing”. Ai tog, nou moet ek eers weer my straat- en posadres verskaf, iets wat ek reeds tydens die eerste aansoek ingevul het.

Volgende kom ons uiteindelik by die motors se details uit. Ek tik die twee relevante registrasie nommers in en kry ‘n vrywarings verklaring wat my laat vermoed dat as ek oor enige klein detail nie die waarheid, die volle waarheid en niks anders as die waarheid gepraat het nie, dit my en my kinders tot in die sewende geslag sal berou. Ek lees die regsterme vir die volgende 30 minute in detail deur, slaan ‘n paar onsekerhede in my versameling regshandleidings na en bevestig met ‘n prokureur die geldigheid van die vereistes.

Natuurlik doen ek niks van die bogenoemde nie en, soos met enige sagteware ooreenkoms, soos die wat jy sluit met Microsoft of Apple, sê ek maar net ja. Soos komediant, Michael McIntyre opgemerk het, ek wag nog vir die dag wat iemand van Microsoft voor my deur kom staan en sê julle moet trek, die huis behoort aan ons. Jy het dit in Julie 1998, met die uitreiking van Windows 98, onderteken en bevestig.

Ek teken my lewe weg en is nou gereed om vir my lisensies te betaal. Nie so haastig nie sê die stelsel en ek kon sweer ek hoor vir Siri en Cortana in die agtergrond giggel. Ek word vriendelik bedank vir my aansoek en kan vervolgens ‘n hernuwings advies binne twee werksdae verwag. Ek kry ook ‘n nuwe tien syfer nommer, die keer ‘n motorvoertuig lisensie opsporings nommer. Ek voel soos 007. Nou wag ons maar ….

Twee werksdae het gekom en gegaan en steeds niks. Ek het ‘n baie oulike toepassing op my foon wat enige omskakeling kan doen, of dit nou is om duim na sentimeter om te skakel, myl na kilometer of rand na dollar. Ek kyk of daar ‘n omskakeling is van werksdae na staatsdiens werksdae. Nie eens dié toepassing is so gevorderd nie. Intussen lees ek vanoggend in die briewekolom van die koerant dat die toue by die lisensiekantoor, eksponensieel toegeneem het. Ek sal maar moet vasbyt met die aanlyn proses.

‘n Flink gedagte kom by my op. Miskien is hulle besig om my opsporingsvermoë te toets en wil hulle hê ek moet my motorvoertuig lisensie opsporings nommer gebruik. Ek gaan na “check application status”. Die goeie nuus is, hulle weet van my, maar ongelukkig is die kort antwoord wat ek kry: In proses.

Dis nou 17 dae sedert ek vir die eerste keer ingeteken het. Vanoggend sê die minister dat hulle beslis gaan begin boetes uitreik as lisensies nie hernu is nie. Ek probeer Fikile, ek probeer. Dalk moet julle ook vir ‘n slag probeer.

Ek besluit om navraag te doen oor die tyd wat dit neem om verder te vorder as “in proses”. Daar is ‘n blokkie wat sê: “kontak ons” en ek maak so. Ek maak ‘n nuwe e-pos oop en sit die adres in. Ek vra vriendelik wat die oorsaak van die onbepaalde wagtydperk kan wees en of hulle vir my ‘n oplossing vir die probleem kan voorstel. Ek druk stuur.

My foon piep ‘n minuut later. Aa, dink ek, dis seker ‘n ontvangs erkenning met ‘n boodskap dat hulle ellendig voel oor my ongerief en dringend aan my probleem sal aandag skenk. Ek was maar nog altyd ‘n aards optimis. Die boodskap lig my in dat die adres nie bestaan nie en dat dit aan ‘n “ongeldige ontvanger” gerig was. Daar het wel nou ‘n boodskap op die stelsel verskyn, nogal in rooi, wat my inlig dat ek net daarvan bewus moet wees dat as gevolg van Covid-19, die lisensiekantore net van geraamtes gebruik maak in dié tye en dat jy stadiger diens kan verwag. Ek sou dit nou nooit kon dink nie!

Dis nou dag 22 sedert ek my motorvoertuig lisensie opsporings nommer gekry het. Ek vermoed dis waar die proses van opsporing na ontsporing gaan beweeg. Net om die hernuwingsdrama ‘n bietjie verder in te vryf, stap ek vanoggend om Izelle se kar en kry nog ‘n verrassing; haar kar se lisensie verval ook oor agt dae!

Plan C is nou die enigste wettige uitweg wat oorbly.

Ek sien op ons buurt se Facebook blad, daar is ‘n dametjie wat namens jou in die tou sal gaan staan, teen ‘n fooi, en dan die lisensie vir jou by die huis sal kom aflewer. Ek stuur vir haar ‘n boodskap en kry byna onmiddelik ‘n antwoord en haar selfoon nommer. Ek bel die nommer en sy klink of sy weet waarvan sy praat. Sy sê sy stuur vir my ‘n e-pos van al die dokumente wat sy benodig. Vyf minute later piep my foon en die inligting is daar. Ek vul in wat ek moet en heg die aanhangsels aan. Sy laat weet dat sy alles ontvang het en gee sommer terselfdertyd die datum wanneer sy die proses sal afhandel. Dit klink na besigheid en ek kry sommer weer moed.

Dag 27, 08:33 kry ek ‘n e-pos. My lisensie aansoek is goedgekeur. Daar is ook ‘n nuwe verwysingsnommer, die bedrae wat betaal moet word asook die bankbesonderhede. Ek oorweeg vir ‘n milli-sekonde die opsie om maar die dametjie wat namens my in die tou gaan staan, te laat weet dat nie meer nodig is nie en om boonop ‘n paar rand te spaar, toe ek besef daar is nou ‘n derde kar ter sprake.

Ek lees die laaste paragraaf van die e-pos en ‘n koue rilling gaan langs my ruggraat af: “Herhaal asseblief die proses vir enige toekomstige hernuwings. Jy sal jou lisensie binne 30 dae ontvang (nadat betaling bevestig is). Indien jy dit nie ontvang nie, skakel ons kontaksentrum by …… ”

Ek kon nie verder lees nie. Net die blote gedagte dat daar ‘n moontlikheid bestaan dat die lisensie steeds nie oor 30 dae op my kar se venster sal pryk nie, noop my om die ketel aan te sit en ‘n sterk koppie boeretroos aanmekaar te slaan. Ek het iets sterker oorweeg, maar dit is nou 08:35.

Ek kry ‘n boodskap van plan C se dame. Sy herinner my dat môre D-dag is, wanneer sy die lisensies gaan kry. Dit beïndruk my dat sy so gereeld kommunikeer en my op hoogte hou. Ek is versigtig optimisties.

Dis vandag D-dag, maar ook een dag voor die uitstel tydperk eindig. Wat gaan die dag inhou? 09:34 kry ek ‘n boodskap, met foto’s van al my lisensies. Sy het reeds alles gekry en betaal. Dis nou diens!

Vanmiddag is die lisensies afgelewer en my knipvaardighede om die sirkelvormige stukkies papier uit te sny is getoets. Soos ek hier sit en skryf, pryk daar drie nuwe bewyse op drie ou karre se vensters, ongelukkig net tot volgende jaar dié tyd. Dan begin alles weer van vooraf.

Die president het onlangs gepraat van nuwe, moderne stede, die vierde industriële rewolusie en nog ‘n paar lugkastele wat hulle in plek wil sit. Miskien moet dinge soos lisensies aanlyn hernu en ‘n effektiewe staatsdiens, eerder die beginpunt wees. Kry dit reg, dan kan julle verder begin droom.

Maar intussen staan duisende mense hulle dae om in toue by lisensiekantore, Sassa kantore, poskantore, binnelandse sake en Sars. Voel die politici enige iets vir die impak van die verlore mandae op die ekonomie of selfs net ‘n bietjie simpatie met al die toustaners se lot?

Jy moet baie naïef wees om dit te glo!

‘n Foutiewe algoritme in Zimbabwe

Dit was iewers in die tagtigs toe ‘n groep kollegas by een van die bekende finansiële instellings in die Kaap, besluit het om ‘n avontuur van ‘n leeftyd te organiseer. Die plan was om vir ‘n week by die Karibameer te gaan tiervis vang, maar nie op die “vlieg in, vang vis en vlieg uit basis” nie. Nee, deel van die ervaring moes juis die heen en weer ry oor die lengte van Suid-Afrika wees. Watter man kan nou nee sê vir ‘n “roadtrip” saam met jou vriende, met ‘n week se visvang as deel van die pakket?

Daar is vir weke beplan en georganiseer. Kaarte is bestudeer en roetes is uitgewerk. Eggenotes is oortuig en gerusgestel. Verlof is aangevra en goedgekeur. Een ou het so entoesiasties geraak, dat hy selfs ‘n ou film weergawe van “Aanslag op Kariba”, iewers in die hande gekry het.

So breek die groot dag aan.

Daar is op twee voertuie besluit vir die ekspedisie, ‘n kombi en een van die manne se maatskappy motor. Ses manne in die kombi en vier in die kar. Daar is ook deeglik voorsiening gemaak om die mae vol en die kele nat te hou. Twee koelbokse vir elke voertuig, alhoewel die kosboks van die motor saam met die kombi gery het, omdat daar net nodigheid vir eet sou wees wanneer daar langs die pad stilgehou sou word.

Een lid van die toergeselskap was ‘n aktuaris en hy het sy vaardighede gebruik om, volgens hom, ‘n onfeilbare algoritme op te stel om die inneem van drinkgoed effektief te reguleer, siende dat hulle verantwoordelike burgers en professionele amptenare van ‘n gesiene organisasie was.

Die proses sou in praktyk soos volg werk: Almal sou besluit waar hulle wil sit vir die eerste uur van die rit. ‘n Amptelike tydhouer is demokraties aangewys om die tyd aspek te bestuur, aangesien dit ‘n deurslaggewende element van die algoritme uitgemaak het. Na een uur sou daar stilgehou word en almal moes dan volgens ‘n baie spesifieke patroon, van sitplek verander. Die bestuurder van die kombi sou heel agter in die regterhoek van die kombi sy plek inneem, die koelboks oopmaak en dan kon hy na hartelus sy dors les. Die persoon wat tot op die stadium regs agter gesit het, skuif nou oor na die linkerkant van die sitplek en hy hoef, soos sy nuwe sitplekmaat, ook nie terug te hou nie.

Die twee manne wat hulle nou in die middelsitplek bevind, sit darem nie heeltemal droëbek nie, maar hulle begin matigheid voor oë hou. Die man wat links voor in die passasiersitplek sit, drink nie ‘n druppel nie, in afwagting van sy bestuurder rol wat hy oor 60 minute moet vervul.

Die insittendes van die motor het ‘n soortgelyke patroon gevolg, waar die agterste passasiers hulself kon help aan die vloeibare versnaperinge, met die man in die passasiersitplek wat droog bly.

So het hulle die patroon elke uur herhaal, deur die Hexriviervallei en deur die Karoo. Laingburg, Leeu-Gamka, Beaufort-Wes, Drie Susters, Richmond, Hanover en Colesberg. Naby Colesberg het een van die manne alarm gemaak. Hulle voorrade het kommerwekkend laag begin raak.

Na ‘n vinnige spanpraatjie, is daar besluit om voorrade aan te vul in Bloemfontein en dalk vir die interim by een van die plaaslike kuierplekke in Colesberg in te loer. Na ‘n goeie kuier saam met die locals, is hulle verder deur Trompsburg, Edenburg en toe Bloemfontein, waar die koelbokse hervul is. Daar was ook nou addisionele plek in die twee koelbokse wat aanvanklik die eetgoed bevat het, maar wat soos die tyd verloop het, stelselmatig leër geraak het.

Naby Kroonstad, met die volgende rotasie, het een van die manne in die motor skielik ‘n helder oomblik beleef en het hy die onfeilbaarheid van die algoritme begin betwyfel. Hy het sy insigte met die groep gedeel en selfs die aktuaris moes saamstem dat hy ‘n goeie punt beet het.

Die manne in die kar het twee kanse om agter te sit en te ontspan. Dan skuif een na die voorste sitplek en moet hy begin voorberei vir sy beurt agter die stuur. Dis met ander woorde net twee ure. Die insittendes van die kombi het twee ure heel agter, twee in die middel en dan eers die verantwoordelike posisie in die voorste sitplek.

Die aktuaris het sy berekeninge onmiddelik aangepas en die nuwe plan bekendgestel. Met elke tweede rotasie skuif die bestuurder van die kombi, oor na die kar en elke tweede bestuurder van die kar, skuif na die kombi. Met die nuwe rotasie meganisme in plek, sou dit verseker dat almal gelyke behandeling kry oor die totale afstand tot by Kariba en as ‘n bonus, sal almal mekaar beter leer ken. Na die kuier in Colesberg en die entoesiasme oor die nuwe voorraad, het niemand die briljantheid van die nuwe skedule bevraagteken nie.

Met genade en ‘n groot skeut geluk het hulle op dié manier by die grenspos by Beitbrug aangekom. Daar het hulle die gebruiklike paar ure omgewag, maar is uiteindelik deur beide kante van die grens. Kariba hier kom ons! Nou het daar nog so 12 tot 15 ure se ry voorgelê.

So twee rotasies verder, nou in Zimbabwe, het hulle besluit om die plaaslike kultuur te beproef en het hulle by een van die groter Spaza winkels stilgehou, waar honderde straatverkopers ook hulle beeldjies, koperware en vrugte uitgestal het. Daar het hulle ‘n redelike tydjie spandeer, wat ook ‘n paar proeë aan die plaaslike brousels ingesluit het.

Terug op die pad, vra een ou in die kombi: “Waar’s Arrie?” “Hy is seker in die kar”, was die antwoord. Dieselfde vraag is gevra in die kar, met ‘n soortgelyke antwoord: “Hy is seker in die kombi”. Intussen was Arrie in die toilette agter die gebou. Toe hy omstap tot by die parkeerplek, was daar geen teken van sy toergeselskap nie.

Hy het eers geglimlag, rondgekyk en gewonder waar kruip almal weg. Na ‘n paar minute het hy besef wat gebeur het. Nou het die paniek ingeskop. Wanneer gaan die res besef hy is nie daar nie? Vandag sou dit waarskynlik nie ‘n groot probleem gewees het nie. Jy sou jou selfoon uitgepluk het, een oproep gemaak het en almal sou lekker daaroor gelag het, wanneer hulle jou weer na ‘n paar minute kom oppik het. Maar hierdie was die tagtigs en selfone was nog net ‘n idee in die gedagtes van die ontwikkelaars in Motorola se laboratoriums.

Twintig minute later hou daar ‘n 4×4 by die winkel stil. Arrie staan nader en doen navraag oor hul eindbestemming. Soos die geluk dit wil hê, ry hulle in dieselfde rigting, maar nou nie tot in Kariba nie. Hulle stem in om vir hom ‘n geleentheid te gee.

In die bakkie vis hulle uit oor hoekom hy man alleen staan en ryloop in die platteland van Zimbabwe. Hy vertel wat gebeur het, maar hy kan sien hulle sluk die storie nie heeltemal nie. Die bestuurder sit so bietjie meer spoed aan om te sien of hy die konvooi kan inhaal, maar Arrie kan sommer sien die manne vat sy storie met ‘n knippie sout. Dan ook, om ‘n ander kar in te haal wat 120 km/h ry al ry jy 140km/h, vat ‘n lang tyd, veral as daar reeds twintig minute verloop het voordat jy begin.

Na ‘n honderd kilometer begin hulle sy siel uittrek. “Kom nou man, wees nou maar eerlik. Daar is nie ander voertuie nie. Jy wou maar net ‘n lift gehad het”. “Wanneer gaan die denkbeeldige voertuie eendag verskyn?”. “Hoe is dit moontlik dat hulle jou vergeet het?”.

Na ‘n elle lange tyd met nog meer opmerkings, sien hy op die horison iets wat soos ‘n kombi en kar lyk. Ons het hulle! Soos hulle nader kom en besef dat dit die konvooi is, raak hy al meer vol bravade. “Sien julle nou, nes ek gesê het”.

Dis toe dat Arrie ‘n idee kry. Hy sê vir die barmhartige Samaritane om verby die konvooi te ry en hom dan ‘n paar kilometer verder af te laai. “Dink net hoe snaaks sal dit wees as hulle aangery kom en hulle sien hoe ek langs die pad staan en hike”. Hy het plat gaan lê op die agtersitplek en hulle is verby die kombi en die kar.

‘n Paar kilometer verder hou hulle langs ‘n boom stil en Arrie gaan staan gereed, duim in die lug. Die twee manne sit geamuseerd in die bakkie om te sien wat gebeur. Die kombi is voor en sonder om enigsins spoed te verminder, jaag hulle by hom verby, gevolg deur die kar. Arrie kan nie glo wat gebeur het nie en die manne in bakkie skree van die lag. Terug in die bakkie, jaag hulle vir die tweede keer die konvooi van agter af in. ‘n Ent verder flits hulle ligte en die manne trek af. Stomverbaas sien hulle wie by die bakkie uitklim.

Een ou reken: “Ek sê nogal vir hulle, jis daai ou lyk nogal baie soos ou Arrie” en hulle stem nogal almal saam.

Die res van die avontuur het darem geen ander ernstige probleme opgelewer nie, as jy die twee pap wiele, een padblokkade waar omkoopgeld geëis is en ‘n rubberboot wat begin lek het, buite rekening laat.

Met die terugtog die volgende week, is die rotasies behou, maar na elke omruiling is daar eers deeglike roll call gehou, voordat die wiele begin draai.

Nie almal werk meer vir die maatskappy nie, maar hulle kuier steeds af en toe saam. Dis tot vandag toe ‘n binnekring grappie as die manne mekaar weer na ‘n tyd sien: “Jis daai ou lyk nogal baie soos ou Arrie!”.

Eksamen

Ek staar na die Biologie vraestel wat voor my op die bank lê. Vir die soveelste keer gaan ek deur die vrae, maar nie een vraag lyk na iets wat ek al voorheen in my bestaan teëgekom het nie. En dan was die onderwyser boonop so gaaf om te sê dat ek my handboek mag gebruik en ook dat ek enige iemand in die klas mag vra om my te help. Ek sien hoe die horlosie teen die muur die sekondes aftik en hardloop paniekerig tussen my klasmaats rond op soek na antwoorde, maar ek kon net sowel onsigbaar gewees het. Niemand reageer of steur hulle aan my nie.

Dan word ek in ‘n poel sweet wakker. Die gevoel van verligting wat oor my spoel is onbeskryflik.

Hoeveel van ons kry af en toe so ‘n eksamen nagmerrie? Dalk ander omstandighede of ‘n ander vak, maar dieselfde paniek. Miskien is dit my onderbewussyn wat my herinner daaraan dat daar tye in my akademiese loopbaan was waar ek dalk bietjie lyf weggesteek het? Of is dit maar net ‘n terugflits na die spanning en stres wat eksamens vir die meeste mense veroorsaak?

Eksamens gaan gepaard met ‘n verandering in roetine en word dit amper ‘n ritueel vir almal betrokke. My generasie was nog verplig om elke dag skool toe te gaan in eksamentyd, ongeag of jy dié dag ‘n vak skryf of nie. Dan was jy veronderstel om in die klas of skoolsaal te sit en leer, wat vir sekere persoonlikheidstipes bykans ontmoontlik was om te doen. Gevolglik het ons die tyd omgekry deur speletjies skool toe te bring.

Die onderwysers was ook maar met hulle eie dinge besig, soos merkwerk, en het gewoonlik anderpad gekyk, solank alles net relatief stil en ordelik gebly het. Kaarte was veral gewild, gewone speelkaarte, maar ook die kaarte met ‘n tema, soos vliegtuie, motors, tenks of skepe (ek wil dink dis Trump kaarte genoem). Daar was kere dat, wanneer jy ‘n spesifieke kaart gehad het wat beter as enige ander kaart was, soos byvoorbeeld die Tupolev vliegtuig, daar ‘n paar humeure opgevlam het en daar so af en toe selfs bloed gevloei het. Niks ernstig nie, net iets soos ‘n neus wat bloei as gevolg van’n onbedoelde vuishou.

Ek is baie jammer vir hierdie jaar se matrieks wat totaal ontwrig is deur die pandemie. Nie alleen was hulle hoogtepunt jaar ‘n totale anti-klimaks nie, maar kry hulle basies net een kans met ‘n eindeksamen, sonder ‘n rekordeksamen of skool roetine wat hulle gereed kon kry daarvoor.

Universiteit eksamens was ‘n totaal ander storie. Ons was nog in die era waar jy net een kans gekry het. ‘n Datum is bepaal vir die vak en wat ookal die implikasies daarvan, dis wanneer jy moes skryf. Daar was nie ‘n tweede datum of enige simpatie nie, skryf moes jy skryf.

So het dit in my derde jaar gebeur dat ek Sielkunde en Geskiedenis op een dag moes skryf en die volgende oggend Pedagogiek, alles met drie ure vraestelle. Ek was nooit eintlik bekend daarvoor dat ek eksamenroosters uitgewerk, weke voor die tyd die werk onder die knie gekry het of uitermatige ure aan voorbereiding spandeer het nie. Dit het toe ook gebeur dat die drieling my so effens ontkant betrap het.

Gelukkig het ek my aanstaande eggenote twee jaar tevore leer ken en gelukkig was sy ‘n baie toegewyde en konsensieuse student. Sy en twee vriendinne het meer as twintig Sielkunde langvrae uitgewerk en met mekaar gedeel en ek was gelukkig om ook in die skatkis van kennis te kon delf. As gevolg van die tydsdruk het ek ses vrae uitgesonder as moontlike eksamen vrae en net daarop gekonsentreer. Die Geskiedenis vraestel het nie baie ruimte gelaat vir “spot” nie en ek het maar die meeste van my tyd daaraan spandeer.

Die oggend van die Sielkunde vraestel was ek meer gespanne as wat ek wou toegee. Die verligting was groot toe ek die vraestel omdraai en my ses vrae lê presies soos ek gehoop het onder mekaar. Jy moes ‘n klomp kortvrae beantwoord en dan drie van die ses kies. Sielkunde was in die bed.

Die middag se Geskiedenis vraestel was redelik en was daar nie enige pogings om jou uit te vang nie. Ek het ook mos darem tyd daarop spandeer (al was die grootste persentasie daarvan die grootste deel van die vorige nag) en het dit eintlik heel skaflik gegaan.

Terug by die koshuis net voor aandete, het die realiteit my soos ‘n voorhamer getref. Daar was net ‘n paar ure tussen my en ‘n vak wat meer soos Grieks, as soos ‘n storieboek verstaan kon word. Pedagogiek het soos ‘n laggende monster vir my gelê en loer en ek het nog nie in my voorbereiding daaraan geraak nie. Ek kon nie hulp soek by van my mede studente in die koshuis nie, want hulle het nogal die eienaardige gewoonte gehad om te beplan en vooruit te leer. ‘n Mens sou kon reken dat ek ook sou leer uit vorige ervaring, drie jaar tevore, toe dieselfde scenario hom uitgespeel het in my BCom jare, met die vak Statistiek.

Maar nee, ek maak nie ‘n fout eenkeer nie, ek herhaal hom todat ek seker gemaak het dis ‘n fout! Ek moet darem ter versagting sê, die varsity lewe het baie uitdagings. Daar is soms min tyd vir studies as daar ander sake is wat aandag vereis soos sport, meisies, sport, jool, sport, intervarsity, sosiale lewe, en o ja, het ek sport genoem?

Vir ‘n bekommerde student is daar niks wat so goed klink soos iemand anders wat iets sê soos: “Ek het ook nog nie begin nie”. Daai kameraadskap is wat ‘n mens wil hê in die tipe situasie. Ek het dit gevind in ‘n mede student in die buurkoshuis, Taaibos. Ons het elkeen ‘n bierbeker vol koshuistee gaan tap en ons strategie begin beplan.

Om ‘n driehonderd bladsy boek, waarvan die meeste inhoud onverstaanbaar is, te begin leer agtuur in die aand, was nie ‘n opsie nie. Notas was skaars, want klasbywoning is nogal ‘n voorvereiste om notas te versamel. Om laataand onder ‘n Jakarandaboom te gaan staan en te hoop daar val ‘n blommetjie op jou kop was oorweeg, maar die bewyse van die effektiwiteit van die opsie, was effens onder verdenking.

Opsie vier was om weer te “spot”. Ek was erg bekommerd dat ek my geluk een keer te ver sou beproef, maar wat was die alternatief? My broer-in-nood het een pyl in sy koker oorgehad; die vorige vyf jaar se eksamen vraestelle. Ons het vir die volgende uur die vraestelle ontleed, in die professor se denke probeer inkom en uiteindelik op grond van vorige tendense en patrone, op vier vrae besluit. Meer was nie moontlik met die moegheid van die vorige nag en die drie of vier ure wat oor was vir intense studie nie.

Weer was die geluk aan my kant en het die vrae die grootste deel van die vraestel uitgemaak. In my tweede jaar het dit wel eenkeer byna fataal geëindig met Sielkunde 2, toe ek die keuse van vrae met omtrent die helfte gemis het. Tussen verbale diarieë en ‘n goeie jaarpunt, kon ek dit darem net-net deurtrek.

Soos ek genoem het, was ons in ‘n era waar jy net een kans gekry het. As jy die kans verbrou het, was al wat oorgebly het om die vak te herhaal of as jy gelukkig was om genoeg punte bymekaar te skraap, om ‘n hereksamen te kry. In my eerste jaar in ons berugte Sunnyside kommune, kom ek een middag moeg by die huis aan na ‘n Kommersiele Reg vraestel. Een van my mede inwoners sit in die kombuis en koffie drink. Ek vra uit oor hoe die vraestel vir hom was. Hy lag en sê ek moenie grappies maak nie, ons skryf mos eers môre. Tot sy skok kom hy toe agter dat hy sy datums deurmekaar gekry het. Hy het ‘n verklaring by die polisie gaan aflê, die professor gaan smeek vir nog ‘n kans, maar alles tevergeefs. Hy moes die jaar herhaal.

Daar is wel die storie van die vier studente wat bietjie gekuier het voor ‘n belangrike vraestel en toe verslaap het. Hulle het hul saak by die professor bepleit en alhoewel hy min van hulle omvattende verskoning van ‘n ontydige pap wiel oppad na die eksamenlokaal toe geglo het, het hy tog besluit dat hulle wel die volgende Saterdag ‘n aanvullende vraestel kon skryf. By die professor aangekom, het hy hulle in vier aparte lokale laat sit. Op die vraestel was net een vraag: Watter band was pap?

Eksamen gaan ook gepaard met die groot wag. Jy lê al iewers langs ‘n swembad of op ‘n strand, maar dit voel heeltyd of daar ‘n grys wolk oor jou hang. Sê nou maar net dit het nie nie so goed gegaan as wat ek hoop nie? Sê nou maar net ek is nie deur nie? Sê nou maar net ek het ‘n her? Dit is nie werklik so nie, maar ‘n her voel amper erger as om die vak te herhaal. Nou moet jy jou vakansie kortknip en weer dieselfde handboek en notas as ‘n paar weke gelede in die oë kyk. Baie van ons het nie vir die wag kansgesien nie en die oomblik wat die uitslae teen een van die kampus se kennisgewingborde verskyn het, het ons deurgejaag Pretoria toe om te gaan kyk. Dis ‘n intense, spanningsvolle paar oomblikke om deur die lys te werk, jou naam te vind en dan te sien wat se punt langs jou naam verskyn. Maar dis steeds beter as om eers ‘n week of twee later ‘n koevert oop te skeur.

Eksamen spanning kan mens snaakse dinge laat doen. Ons sit een oggend in een van die reuse lokale op kampus. Die vraestelle word uitgedeel en ons is so twintig minute aan die gang, toe die deure agter in die saal oopgeruk word en ‘n karakter windverwaaid en gedisoriënteerd die vertrek instrompel. Hy mompel iets vir die dosent, vat sy vraestel en antwoordstel en val skuins voor my in ‘n stoel, in die volgende ry. Daar bestudeer hy die vraestel vir tien minute uit alle hoeke. Uiteindelik wink hy die dosent nader. “Ek herken niks van die goed nie. Is dit Afrikaans 3?”

“Nee”, sê die dosent, “dis Kriminologie”.

“My f**”, antwoord hy, gee alles terug vir die dosent en strompel weer by dieselfde deur uit.

Ek het lanklaas eksamen geskryf en hopelik is dit vir my iets van die verlede. Dis nou as ek gisteraand se soveelste nagmerrie in meneer Breedt se Biologieklas buite rekening laat.

Die brein is getrein

Die menslike brein is ‘n ongelooflike orgaan. Volgens neuroloë is daar 1015 konneksies en ongeveer 100 biljoen neurone, of senuwee selle in die brein (alhoewel ek wonder of ek nog almal het, veral as ek net gou winkel toe wou gaan en vir die soveelste keer my masker by die huis vergeet het).

Navorsers het eers redelik onlangs agtergekom dat die brein, nie alleen dit wat mens sien of hoor verwerk en filter nie, maar dit ook interpreteer. Dit maak dit dus des te meer belangrik om bedag daarop te wees waarmee ons ons breine voer, of dit is wat ons lees of op TV kyk, of dit is wat ons vir onsself sê en of dit is wat ons inneem wat ander vir ons en van ons sê. Ek het in ‘n vorige skrywe hierna verwys in “Woorde is kragtig”.

Hoe groot die effek van die breinsuggestie op prestasie kan wees, het ek prakties in aksie gesien tydens my skoolhou dae by Menlopark. Ek en kollega Rika was die spiesgooiafrigters en ons het uitstekende talent gehad om mee te werk. Maar selfs potensiële SA kampioene het soms twyfel en blokkasies wat verhoed dat hulle hul heel beste kan lewer.

Een van die atlete, met seker die beste tegniek wat ek ooit gesien het, was onder vyftien, terwyl die ander groot ster, die onder negentien held van die skool was. Ons onder vyftien atleet het alreeds vroeg in die seisoen gewys dat daar groot dinge van hom verwag kon word en soos die seisoen gevorder het, het hy by elke byeenkoms verbeter, todat hy voordat die belangrikste byeenkomste sou plaasvind, net kort van die magiese 60 meter merk geëindig het. En toe kom die blokkasie. Hy het vasgehaak op 59,96m en 59,98m, alles so naby maar net nie ver genoeg nie.

Ons het geweet dat hy veel verder as dit kon gooi, maar die vraag was of hy dit geglo het. Daar was so bietjie manipulerende sielkunde nodig. Een middag by die oefening het ek vir hom die punt van die maatband gegee om vas te hou, terwyl ek met die res van die maatband weggestap het van die begin van die sektor af. Op 55 meter het ek gestop en ‘n spies regop in die grond gedruk. Terug by die begin, is hy ingelig dat die spies op die 60 meter merk staan. Net om te toets wou ons sien hoe naby hy aan die merk kon kom, met net ‘n drie treë aanloop. Met die feit dat hy alreeds na aan 60 meter kon kom, met ‘n vol aanloop, het hy baie naby aan die 55 meter gekom met die verkorte aanloop. Ek kon die vasberade trek om die uitdaging te oorkom, in sy oë sien.

Volgende het ons gesê dat hy nou met ‘n vyf treë aanloop moet probeer. Tot sy verbasing (en myne), seil daai spies verby die een in die grond met sy tweede of derde gooi. Nou wou hy net gooi, maar die punt was gemaak en ons het gedink dit sou goed wees om die honger te behou en het die oefening beëindig. Hy kon nie verstaan hoekom ons nie wou hê dat hy met sy vol aanloop ook moes probeer nie, steeds onder die indruk dat hy verby 60 meter gegooi het.

By die volgende byeenkoms, het hy sommer met die eerste gooi, die 60 meter blokkasie met gemak oortref, net omdat hy geglo het dat hy dit reeds met ‘n kort aanloop reggekry het. Hy weet tot vandag toe nie van die skelmstreek nie!

Ons onder negentien spiesgooier was talentvol op alle gebiede soos rugby, akademie, kultuur en leierskap en al wat kind was het opgekyk na die reus, letterlik en figuurlik. Wat ongelukkig tot gevolg gehad het, dat daar ‘n gemaklikheid ingetree het. Niks lelik of arrogant nie, maar dalk nader aan iets waarvan Pink Floyd gesing het met hulle liedjie, “Comfortably numb”. Die intensiteit was net nie daar nie en dit het gewys tydens die oefeninge en ook in die afstande wat hy gegooi het tydens byeenkomste. Hy het ook die terugvoer, dat hy nie oor sy linkerbeen werk tydens aflewering van die gooi nie, met ‘n knippie sout geneem.

Weer was dit tyd vir bietjie sielkunde. Toe hy en sy gevolg die middag by die oefening opdaag, en hy dadelik vir die o/19 spies mik, was daar ‘n verrassing vir hom. Die boodskap was dat hy nie aan ‘n spies sou raak die middag nie, maar by een van die bome langs die pawiljoen gaan werk aan die afleweringsprobleem, deur die afleweringsaksie na te boots en dan oor sy linkerbeen te werk deur ‘n blaartjie te klap wat net binne bereik bokant sy kop was. Hy was smoorkwaad, maar het maar met die opdrag voortgegaan. Iewers deur die middag het hy gedink dis genoeg en wou weer ‘n spies nader trek, net om te hoor dat die blaartjie sy maatjie vir die middag sou bly.

Die volgende byeenkoms het hy perfek oor die been gewerk en sy beste afstand van die seisoen gegooi. Die simulasie het gewerk en die brein het dit onthou.

Steeds by die skool, het ons ‘n eerstespan losskakel gehad met ‘n kanonpoot. Hy kon afstande skop waarvan ek as skoolseun, net van kon droom. Ongelukkig is afstand alleen nie genoeg nie en moet daar ook akkuraatheid wees, Soos enige afrigter sal beaam, kan die rol van ‘n betroubare stelskopper, nooit oorbeklemtoon word nie en hy was nie meer betroubaar met die aanlê pale toe nie.

Ons het as studente gereeld vir Naas Botha dopgehou en geweet van die ure wat hy spandeer het om sy vaardighede te slyp. Selfs met sy talent, het hy steeds die harde werk ingesit. Ons losskakel wou net staatmaak op natuurlike talent. Weer was dit tyd vir ‘n bietjie sielkunde. Die keer nie met suggestie of simulasie nie, maar ego.

Ek en die eerstespan afrigter het hom uitgedaag vir ‘n skopkompetisie. Alhoewel ek verroes was, was pale toe skop my rol in die span van laerskooldae af, deur hoërskool en ook nog op universiteit. Dis baie soos fietsry, jy vergeet nie die basiese beginsels nie. Die eerstespan afrigter het self nog klubrugby gespeel en kon ook skop.

Wat ons gedink het ‘n klein uitdaging sou wees, het rugbaar geraak en dié middag toe ons ons oë uitvee, het die pawiljoen vol kinders gesit. Die druk was beslis op die losskakel. Die kompetisie was eenvoudig. Alles van die kwartlyn af, beginnende met die eerste skop op die linker kantlyn. Dan een op die vyftreëlyn, die vyftien treë lyn, in die middel van die veld, en dan weer dieselfde aan die regterkant van die veld. Sewe skoppe in totaal. My totaal was ses uit sewe, die span afrigter vyf uit sewe en die losskakel drie uit sewe. Dit was al wat nodig was. Hy het fanaties begin oefen, elke dag voor oefening, weer na oefening en selfs Sondag. Ons kon die verskil duidelik sien in wedstryde.

Toe hy omtrent nie meer ‘n bal in ‘n wedstryd kon mis skop nie, het hy kom vra vir ‘n herontmoeting. Die doel was bereik en ons kon nie die nodigheid sien om weer ‘n skopkompetisie te hou nie. 😜

Die leerervaring was nie net vir ander nie, Ek was self ook aan die ontvangkant, soortgelyk aan ons spiesgooier wat nie wou glo wat ons vir hom oor sy tegniek gesê het nie. Ek en my pa en die ander manne in ons vierbal, het elke naweek op Springs- of Nigel gholfklub, stokke gaan swaai. Ek het redelike goeie gholf begin speel, maar een aspek het my telkaart gereeld befoeter, die sand. Waar ek voorheen nie baie probleme daarmee gehad het nie, kon ek nou eenvoudig nie uit ‘n sandkuil kom nie. Hoe meer my pa vir my gesê het dat ek nie deur die hou slaan nie, hoe meer het ek gestry dat ek dit wel doen. Tot een middag na werk, toe ek ‘n videokamera geleen het en ons die aksie in die sand kon afneem. Daar, in kleur, kon ek duidelik sien dat hy 100% reg is en dat ek kap na die bal, nie swaai nie. Met baie oefening kon ek die probleem uitstryk. Nou moet ek nog net dieselfde regkry met my powere setwerk.

Nou wonder ek. Is die spreekwoord “fake it till you make it” nie dalk reg nie. As jy jou brein om die bos kan lei, is die denke nie dalk sterk genoeg om jou deur die fase te neem, waar jy nog nie goed is met iets nie, todat jy dit wel regkry.

Wat ek wel weet is dat die brein dit wat hy waarneem, en die gevolglike afskeiding van adrenalien in ‘n gevaar situasie, veroorsaak dat jy dinge kan regkry wat jy nie gedink het moontlik was nie. Ek dink nou hier spesifiek aan my mater van meer as vyftig jaar, wat ook saam met my in ons studente kommune in Sunnyside gebly het, se aksies een nag in Waterkloof. Ons was besig om ‘n joolvlot te bou en het ‘n paar blomme nodig gehad om die doodskis op wiele af te rond. Ons het ‘n tuin geïdentifiseer en was op die punt om onteiening sonder vergoeding op ‘n paar blomme toe te pas, toe ons die onheilspellende bordjie op die hek sien: Pasop vir die hond!

Terwyl ons debatteer of die spesifieke erf ‘n goeie idee sou wees, kom staan ‘n posierlike, klein brakkie by die hek. Na die lagbuie bedaar het, is mater oor die muur en het hy begin blomme versamel. Ons het gereed gesit in die bakkie vir ingeval ons vinnig sou moes spore maak. Die volgende oomblik het hy los oor die sesvoet muur gekom en ek is steeds redelik oortuig daarvan dat hy aan niks geraak het in die proses nie. Kort agter hom was ‘n reuse Rottweiler. Dankie tog vir die brein se veg of vlug reaksie.

Ek lees dat die brein groei tot en met agtien jaar. Dit verklaar dalk die onmoontlike dinge wat ons in die kommune aangevang het. Ons was tussen sewentien en agtien jaar oud en ons breine was seker nog nie ten volle ontwikkel nie.

Dis my storie en ek hou daarby.

Waarnemings van ‘n middernagtelike patrolleerder

Ons is gelukkig om al langer as twee dekades in ‘n baie rustige, boomryke en gevestigde buurt te bly. Maar ons tipiese voorstedelike woongebied het, soos die res van die land, erg onder misdaad begin deurloop en teen 2013 het dit gelyk asof dit ‘n verlore saak was. Maar met ‘n paar doelgerigte ingrypings, is die tendens omgekeer en het insidente met meer as 300% afgeneem. Ons het self twee keer deurgeloop met inbraak pogings, maar is dankbaar dat daar, behalwe vir die vensters wat teruggesit moes word, geen ander skade gely is nie, grootliks te danke aan ons spannetjie welsynshonde wat elke keer aan die blaf gegaan het en die skelms verwilder het.

Daar is ‘n goeie verhouding tussen die polisie en ons buurtwag (patrollievoertuie en beheerkamer) wat bydra tot die verbetering in statistiek. Daar is ook ‘n groep hardwerkende, onselfsugtige inwoners, wat op hulle eie tyd en koste, die buurt dag en nag patrolleer. Ek is een van die nagtelike patrolleerders.

Wanneer mens in die middernagtelike ure, stadig deur die buurt ry, is dit fassinerend om te sien hoe mense hulle lewens leef, selfs in die nag. Dis ‘n hoogs insiggewende blik op ‘n spesifieke mikrokosmos van die groter samelewing, wat waarskynlik dieselfde sou wees in soortgelyke buurtes, maar wat waarskynlik radikaal sal verskil van ander gedeeltes van die samelewing se nagtelike gewoontes.

Maar moenie dat die indruk van ‘n rustige buurt jou onkant vang nie. Soos in enige ander omgewing, broei daar soms onheilighede onder die oppervlakte en gebeur daar dinge onder jou neus wat jou verstom wanneer dit bekend raak. Hier was byvoorbeeld nou al twee perlemoen smokkelhuise wat vir maande operasioneel was, sonder dat iemand snuf in die neus gekry het. Terwyl mens sou kon reken dat perlemoen ‘n produk is wat jou letterlik snuf in die neus behoort te gee. Een van die twee was toevallig reg langs ons en ons het niks agtergekom nie. Dit was wel vreemd dat daar nooit enige vensters oop was nie en behalwe vir die man af en toe, dat niemand ooit in die dag in die huis of erf beweeg het nie. Al hulle aktiwiteite het in die nag plaasgevind. Ons is so twintig minute se ry van die see af en skynbaar is dit ver genoeg dat mense nie sou vermoed dat daar in dié buurt met perlemoen gesmokkel sou word nie. Toe die gemors uiteindelik oopgevlek is (die saak, nie die seekos nie), het die binnekant van die huis soos ‘n oorlogsone gelyk. Dit het die eienaar ‘n paar honderd duisend rand gekos om die skade te herstel.

Maar die meeste karakters wat mens so in die nag op ‘n afstand waarneem, is maar net doodgewone mense.

Daar is byvoorbeeld die besigheidsman (of so lyk dit), wat elke nag voor sy rekenaar sit, met die gordyne oop en wat met mening die sleutelbord aanval. Die res van die huis is donker en sy familie slaap lankal, maar hy is hard aan die werk. Is dit sy eie besigheid en hy probeer in hierdie tye kop bo water hou? Of ly hy aan slaaploosheid as gevolg van stres? Of is hy een van daai bestuurders wat dink hy beïndruk sy mense as hy twee uur in die nag vir hulle ‘n e-pos stuur, terwyl hulle waarskynlik dink: “Kry net ‘n lewe”.

Dit wil vir my lyk asof daar meer mense is wat aan slaaploosheid ly as wat ‘n mens besef. Oral is daar ‘n lig in ‘n sitkamer of slaapkamer aan, sien jy mense agter gordyne in vertrekke beweeg en is daar die onmiskenbare blou flikkering van ‘n TV.

Met daaglikse berigte van aanvalle op vroue, slaan dit my heeltemal dronk om die risiko’s te sien wat veral jong meisies op ‘n gereelde basis loop. By meer as een geleentheid, meisies van rondom twintig, wat op die deurpad wat deur die buurt loop, ryloop in die middel van die nag. Of twee meisies wat dink is ‘n goeie idee om op die swaaie in een van die buurt se parke te sit en gesels, halfdrie in die nag. Besef hulle nie nie onnoselheid van die aksies nie? Weet hulle ouers waar hulle is?

Dan kry mens die gewone besoekers van die nag. Die bergies, wat veral voor vullis verwyderingsdag, deur die buurt se asblikke gaan en die dronkies wat gewoonlik nie ‘n idee het van waar hulle hulself bevind nie. Die patrollie voertuie wys vir hulle gewoonlik maar op ‘n mooi manier die regte pad uit die buurt uit.

Maar soms is hulle nie so onskuldig nie, soos een van die gereelde nagryers een aand agtergekom het. Ek en sy was op dieselfde tyd geskeduleer om te patrolleer en sy het het in die donker geparkeer gestaan naby ‘n heining, waar onwelkome besoekers gereeld van die aangrensende buurt deurgekom het. Ek was so twee blokke verder besig om te ry, toe ek ‘n baie benoude oproep ontvang het. Toe sy in haar spieël terugkyk, sien sy ‘n makker wat haar in die donker bekruip, met ‘n staalpyp in die hand. Gelukkig was daar ‘n paar van ons in die omgewing wat haar te hulp kon snel en kon sy ook darem betyds die kar aan die gang kry om weg te kom.

Daar is ook die bekende weirdo’s van die omgewing. Mens sien hulle vir die eerste keer en rapporteer dit onmiddelik, net om te hoor: “Moenie bekommerd wees nie, dit net so en so”. Ek verwys hier na die ou wat byvoorbeeld twee uur in die nag met sy hond gaan stap, asof dit die natuurlikste ding onder die son (maan) is. Of die vermeende daggaroker, wat klokslag kwart oor twee, uitstap by die huis waar hy bly en dan oorkant die pad, langs die stopteken, gaan staan om sy skyf te rook. Somer en winter. Hy waai darem vriendelik elke keer as ek hom gewaar.

Die veiligheidsmense beveel aan dat jy ligte rondom jou huis moet hê wat die tuin verlig. Dit verminder blykbaar die risiko dat die spesifieke huis geteiken sal word. Sommige huiseienaars steur hulle glad nie aan die advies nie. Dis so donker dat jy nie eens die huis van die pad af kan sien nie en dan is die pikdonker tuin boonop vol bome, bosse en struike. Ideale wegkruipplek vir voornemende skelms.

Maar jy kry ook die teenoorgestelde eienaars. Dis nou die man wat spreiligte aanbring waarop Kaapstad stadion trots sal wees. Dis ligte wat lag-lag 10 000 lumens uitstraal, en wat skyn in alle rigtings weg van sy huis af. Ry jy in die straat op, moet jy jou kop wegdraai om darem beheer oor jou voertuig te behou. Sy arme bure weet nie meer of dit dag of nag is nie. Sy redenasie is, dat sou iemand iets by hom wil steel, hulle daarmee gaan boet deur die verlies van ‘n retina.

Ek ry darem nie alleen nie. My skaduwee, Cody, wat erge skeidingsangs kry as hy nie by my kan wees of my selfs net vir ‘n oomblik nie kan sien nie, is my K9 vennoot. Hy hou dinge van die agtersitplek af dop. Heel paraat die eerste uur, minder paraat die tweede uur.

Vroegoggend, in die uur of twee voor sonsopkoms, moet mens baie versigtig wees, veral by kruisings. Dis nou wanneer die koerantafleweraars soos The Flash, deur die buurt gaan en koerante in tuine gooi. Saam met die Ubers, wat dan ook gereedmaak om kliënte op te laai, is stopstrate, robotte en soliede wit lyne net ‘n voorstel, alles natuurlik op volspoed.

‘n Groot irritasie, nie alleen vir patrolleerders nie, maar ook vir enige aflewerings persone of besoekers, is die hoeveelheid huise wat nie sigbare straatnommers het nie. Jy wil rapporteer dat daar ‘n hek oopstaan of dat daar ‘n verdagte aktiwiteit aan die gang is, net om nie te kan sê waar in die straat dit is nie.

Alhoewel nie almal in die buurt betrokke is nie en alhoewel sommiges geen waardering vir die diens het nie, voel ek meer gerus om in die nag te slaap met die wete dat daar mense is wat ‘n verskil maak aan ons onmiddelike omgewing se veiligheid, eerder as om net op sosiale media te kla oor die misdaadvlakke in die land. Die statistiek bevestig duidelik watter verskil dit in ons buurt gemaak het. Maar ons weet mos dat diegene wat die meeste kla, die minste doen.

Ek en my getroue wagwoef gaan weer oor ‘n paar minute die pad vat. Ons sal waarskynlik weer ‘n paar van die bogenoemde karakters deur die loop van die nag gewaar en wie weet, dalk ook ‘n paar nuwes by die lysie voeg.

Ek wonder juis wat by daai huis aangaan waar al die vensters en deure toegemessel is.

‘n Hoender wat hou van “large talk”

Ek was nog nooit ‘n tropdier nie; was nooit deel van die “in”- groep nie. Ek is glad nie anti-sosiaal nie, het goeie vriende, maar inherent was ek maar nog altyd ‘n loner. Ek geniet kuiers met ‘n klein groepie mense en vermy lawaaierige, groot sosiale byeenkomste. Casino’s, kuierplekke en klubs het my nog nooit getrek nie, om die waarheid te sê, ervaar ek dit as ‘n vals, leë plastiekwêreld. Dié plekke veroorsaak vir my redelik vinnig sensoriese oorlading en gevolglik het ek jonk reeds geleer om met my eie voertuig na enige funksie toe te ry, om te verhoed dat ek afhanklik van iemand moet wees om te ry wanneer ek genoeg gehad het. My persoonlikheids profiel toetse beaam dit en ek is gelukkig of ongelukkig deel van ‘n komplekse profiel, wat net 2% van die wêreldbevolking uitmaak. Op skool en universiteit het ek groep opdragte gehaat en het verkies om eerder al die werk self te doen, op my eie tyd en manier. Ek sien my seun Emile, is presies dieselfde.

Die eenkant wees gedrag het al op laerskool kop uitgesteek. Ons onderwyseres het ons vertel van ‘n groep waarby ons kon aansluit, as ons die middag ‘n byeenkoms sou bywoon. Die groep was die Voortrekkers. ‘n Heilsame, patriotiese, Afrikaanse beweging, met goeie beginsels en waardes, wat vir jong kinders praktiese vaardighede kon leer en wat selfs uitstappies gereël het. Ek was die middag daar, het na alles geluister en besluit ek verkies eerder ons eie bende, boomhuis en avonture. My ma, wat my goed verstaan het, het my besluit ondersteun. Ek kon as agtjarige nie redes gee vir die besluit nie, maar het eenvoudig net geweet dis nie vir my nie. Ek kon veld vaardighede in die Patrys leer, het ek geredeneer.

Steeds in die laerskool, is ons by ‘n ander geleentheid in die saal byeengeroep en vertel dat ons vir een of ander volksviering, volkspele sou doen. Ons is ingedeel en al die passies geleer. Ek het dadelik in ‘n stille rebelsheid ingegaan. ‘n Kleiner groep sou uit al die kinders gekies word om ons skool te verteenwoordig en ek het toe reeds besluit dat ek so hopeloos sou wees, dat ek geensins oorweeg sou word nie. Ek was toe reeds nie ontvanklik vir goed wat op my afgedwing word nie.

Simon Cowell, die dryfveer agter programme soos Idols, X-factor en America’s got talent, roem daarop dat hy die ontdekker van die “boyband” konsep was met groepe soos One Direction en Westlife. Ek het nuus vir hom!

Ons was seker in standerd drie of vier, rondom 1973/74, toe Kotie van Heerden, wat later jare diep spore by die SAUK getrap het, besluit het om ‘n boyband saam te stel. Sy moes toe reeds laat hoërskool gewees het. Ek weet ek was oorweeg, maar het soos ‘n steeks donkie vasgeskop. Of dit weer die alleending was, of dit my introvert persoonlikheid was en of ek nie myself as sanger kon sien nie, weet ek nie, maar ek wou niks weet nie. Sy het uiteindelik vier mannetjies gekeur en met haar agter die klavier, het hulle begin oefen. My geheue laat my erg in die steek oor wie uiteindelik gekies is. Ek weet neef Wimpie was daar, want ons moes ophou speel as hy saam met die groep moes gaan oefen. Ek dink Kotie se broer Johann was ook daar en ek dink daar was ook ‘n Freddie (Hawley?). Die vierde lid het my heeltemal ontgaan.

Die boyband is uitgerus met dieselfde klere, ‘n langbroek en hemp, en ‘n bypassende blou onderbaadjie. Hulle het een Sondagoggend hul debuut gemaak in ons gemeente en ek wil half onthou dat hulle ook in ‘n buurgemeente opgetree het en selfs by Maranathapark, waar mense van al die gemeentes oor die land, bymekaar gekom het vir die jaarlikse kampkonferensie. Maar weer was ek nie deel van die groep nie.

Vandag behels die grootste deel van my werk, die voer van gesprekke. Een-op-een met coaching, asook gesprekke met kursusgangers of studente tydens opleiding of lesings. Ek geniet elke oomblik. Maar in teenstelling daarmee, verpes ek sosiale funksies waar jy rondstaan in kringetjies met ‘n glas in die een hand en ‘n bordjie versnaperinge in die ander hand. Ek probeer ook tipiese spogsessies by ‘n braai of ander byeenkomste vermy. Dis nou die gesprekke waar die manne spog oor sy nuutste 4×4, sy laaste oorsese vakansie of sy opinie oor die huidige politieke situasie. Ek lewer geen bydra nie, nie omdat ek nie ‘n opinie het nie, maar omdat ek dit as tydmors beskou om met so groep te redeneer. Dis byna soos om op sosiale media met kommentators te redeneer.

Ek het al baie gewonder waarom ek dié reaksie toon. Toevallig was dit ‘n strokiesprent wat vir my die antwoord verskaf het:

Met erkenning aan Doug Savage

Interessant genoeg, is die tweede hoender se reaksie, presies wat ‘n mens ervaar. Die gesprek bly dus oppervlakkig en niksseggend en dis nie vir my nie.

So, ek is nie afsydig nie. Ek is maar net ‘n hoender wat hou van “large talk”.

‘n Goeie verloorder

Daar is al baie gesê, geskryf en navorsing gedoen oor enkelgeslag skole. Ek gaan my nie nou oor die voor- en nadele daarvan uitlaat nie, maar daar is wel een of twee dinge wat ek tydens my jare by die Hoër Seunskool Hugenote geleer het. Die eerste is dat jy speel om te wen. Jy gee alles en niks is goed genoeg as jou beste nie. En as jy wen, bly jy nederig. Tweedens, as jy jou beste gegee het en steeds verloor, dan vat jy jou pak soos ‘n man. Jy wens jou teenstander geluk en jy bly waardig in die nederlaag, met ander woorde, jy is ‘n goeie verloorder. Goeie basiese beginsels.

Op universiteit het hierdie beginsels baie handig te pas gekom. Sport was my lewe, byna 24 uur per dag en akademie het gewoonlik ‘n veraf tweede posisie ingeneem, darem nou nie heeltemal onverantwoordelik nie, maar net genoeg om uit die moeilikheid te bly. Ek was op ‘n stadium by dertien sportsoorte betrokke. Die afwisseling en variasie was vir my ‘n groter plesier, as om in een sport te spesialiseer en om te probeer om provinsiale- of nasionale kleure daarin te verwerf. Niemand kan egter ‘n ekspert met so ‘n verskeidenheid aktiwiteite wees nie en dus het dit gereeld gebeur dat jy maar verlief moet neem dat jy nie ‘n wedstryd kon wen nie. Dis nie lekker nie, maar dan was dit die regte tyd om ‘n goeie verloorder te wees.

Soos mens ouer word en meer verantwoordelikhede kry, soos ‘n vrou en kinders en ‘n beroep, dan raak sport net ‘n gesonde tydverdryf en is mens nie meer so kompeterend nie, of so het ek gedink ….

So vyf jaar gelede het ek een keer per maand by ‘n afgeleë myn in die Richtersveld gaan werk, vir ‘n week op ‘n keer. As ek sê daar gebeur elke halfuur niks en dit hou vir ure aan, oordryf ek gladnie. Daar is na werksure regtig nie veel om te doen nie. ‘n Klein restaurant, met ‘n beperkte spyskaart, ‘n beknopte gimnasium en ‘n muurbalbaan. En sand en nog sand, vir kilometers rondom die dorpie.

Die eerste paar maande het ek maar hoofsaaklik TV gekyk, as die skottel ‘n sein kon optel. Of later het ek maar reekse vooraf op die rekenaar afgelaai om te kyk, as die TV opsie nie beskikbaar was nie. Maar ek het maar altyd die behoefte om aktief te wees. Ek het die Oranjerivier oewer verken sover kon loop, maar kon nie veel verder gaan nie omdat ek nie, met die toestand van die pad, met my kar by die myn kon uitkom nie en ek elke maand by die naaste dorp, met ‘n bakkie opgepik is. Soos ek en die manne van die myn mekaar leer ken het, het ‘n paar van hulle my darem die mooi plekke in die Richterveld gaan wys, soos die skaars Kokerboom “woud” en rotsformasies wat lyk of dit van ‘n ander planeet af kom.

Met al die jare se sport en sportbeserings, is daar ‘n paar spiere en ligamente wat al, met verloop van tyd, van hulle laat hoor het. ‘n Rug wat af en toe in ‘n spasma ingaan (van die rug breek episode jare gelede), ‘n nek wat soms sukkel om te draai en knieë wat nie meer beskryf word as links en regs nie, maar as seer en nie seer nie. En toe meer onlangs, ‘n regterskouer wat op die snaaksste tye begin pyn. Maar ek is nogal geneig om simptome eenvoudig te ignoreer, tot my beter helfte se erge frustrasie.

Een middag toe ek my laaste kliënt sien, vra hy uit die bloute uit of ek kan muurbal speel. Natuurlik kan ek, was die antwoord. Dat ek seker ses jare tevore een wedstryd saam met my seun gespeel het en voor dit seker laas in die tagtigerjare, was nie op die oomblik relevant nie. Dit was juis een van die sportsoorte wat saam met pluimbal, snoeker en rugby, die meeste van my akademiese tyd gesteel het. Ons het afgespreek om mekaar later die middag by die baan te kry.

Die skielike aksie by ‘n dooie myndorp was hemels. Ons het ‘n goeie sarsie aanmekaar gesit en ek was half verbaas hoe vinnig die vaardighede weer teruggekom het. Die spoed en reaksietyd was beslis ‘n trappie stadiger, maar steeds beter as wat ek verwag het. Daar het intussen ‘n paar ander mynmanne bygekom en almal het, meer uit noodsaak as wil, ons wedstryd sit en kyk. Noodsaak, want daar was net een baan en hulle moes wag tot ons klaar gespeel het, voordat hulle sou kon speel.

Dis toe dat iemand die voorstel maak dat dit ‘n goeie idee sou wees as ek en (en kom ons noem hom maar Jorrie) dalk teen mekaar moet speel. Ek kon aan die manne se reaksie sien dat Jorrie nogal hoog deur die groep aangeslaan word. Toe speel ek en Jorrie.

Kom ons sê maar net dit was intens. Ek, wat onder die indruk was dat die kompeterende streep lank reeds dood en begrawe was, het weer gevoel soos daai jong, ratse student wat geen bal los as daar dalk nog ‘n kans was om daarby uit te kom nie. Ons het vyf stelle gespeel en ek was uit op my voete, maar ek het sowaar gewen! Later sou ek verneem hy is die mynklub se beste speler.

Die verrassende uitslag het ongelukkig vir my, nie ‘n goeie einde gehad nie. Toe ek van die baan afstap, sopnat en hygend, besef ek vir die eerste keer dat my regterarm slap langs my lyf hang. En toe, soos die adrenalien afneem en ek begin afkoel, slaan die pyn in sy volle glorie toe.

Ek is die volgende dag terug tot by my kar en moes sonder ‘n werkende regterarm, die 800 kilometer terug Kaap toe aandurf. ‘n Dag of wat later, het die spesialis my vrese bevestig. Ek het die bisep morsaf geskeur by die skouerkop en om dit nog bietjie erger te maak, ook die bisep geskeur in die middel van die bo-arm.

Die operasie was volgens die dokter ‘n sukses, maar die skouer bly maar ‘n probleem. Dit sal my leer om my lyf jonk te wil hou. Maar ek moet sê, vir ‘n breukdeel van ‘n sekonde, was dit lekker om vir ‘n slag nie ‘n goeie verloorder hoef te wees nie.

Jeugdige voortvarendheid of rebelsheid?

Ek het myself nog altyd as ‘n redelik konsensieuse, gehoorsame en “doen–die-regte-ding” tipe mens beskou. As daar reëls bestaan en dit maak vir my sin, dan hou ek by die reëls. As dit nie vir my sin maak nie, bevraagteken ek dit en as ek ‘n sinvolle antwoord kry, is ek gemaklik om die reëls te gehoorsaam. Maar, as dit nie vir my sin maak nie of erger nog, as iemand iets op my probeer afdwing, dan kom daar baie vinnig ‘n erg rebelse sy van my persoonlikheid na vore. Baie van die huidige inperking reëls val vir my in hierdie kategorie. Ook baie van die hedendaagse linkse sienings en veldtogte, wat outomaties verwag dat almal met hul stellings moet saamstem, daarby inval en solidariteit daarmee moet wys, maak die rebelse streep in my wakker. Die reaksie is vir my verklaarbaar en maak vir my sin.

Maar, daar is ‘n paar ander geleenthede, waar dié rebelse streep na vore gekom het, wat terugskouend vir my moeilik is om te verklaar. Nou is dit tyd om te bieg ….

In een van my ander blogstories, “‘n Tiener se wedervaringe op ‘n fifty”, het ek ‘n paar van my ervarings beskryf toe ek as hoërskoolseun ‘n motorfiets gekry het. Daar is egter een gebeurtenis wat nie in die skrywe ingesluit is nie, naamlik die dag toe ek vir ‘n spietkop weggejaag het!

Of dit was as gevolg van die boete wat ek enkele weke tevore gekry het toe ek in Davis drive ‘n nuwe spoedrekord met my 50cc Suzuki opgestel het (en die ongemaklike gesprek met my pa daarna), en of dit net ‘n ingewing van die oomblik rebelsheid was wat ingeskop het, weet ek nie. Ek het al baie daaroor gedink, maar kan tot vandag toe nie met sekerheid sȇ nie.

Ek het van Brakpan se kant af in Hospitaalweg af gery, die pad wat voor Verre Oos-Rand hospitaal verbygaan. Die pad gaan deur ‘n laagte en begin weer styg net voor die hospitaal se ingang. Die afdraande skep natuurlik die geleentheid om ‘n klein enjintjie tot sy uiterstes te toets. Ek was baie naby aan die bogenoemde rekord van Davis drive, met my oë vasgenael op die spoedmeter, toe daar onverwags ‘n gedaante ‘n ent voor my in die pad spring. ‘n Spietkop.

Of hy ‘n spoedlokval gestel het en of hy maar net, soos wat die verkeersdepartement se gewoonte was, voertuie daar voorgekeer het om lisensies na te gaan, weet ek nie. Daar was in elk geval geen tyd om daaraan te dink of betyds te reageer nie. Op die spoed wat ek was en met die kort afstand tussen my en hom, was ek al by hom verby toe ek begin rem het. Net daar het die idee posgevat om aan te hou ry.

Die area agter die hospitaal het ek geken soos die palm van my hand. Dit was nie verniet die speelgrond waar ek en my maters met ons motorfietse in die mynhope rondgejaag het nie. Ek het myself plat oor die tenk gegooi, my voete oor die agterste nommerplaat gehaak en laat waai. ‘n Paar meter verder het ‘n voetpaadjie links uit die teerpad gedraai en dis waarvoor ek gemik het. Ek het die opening gesien en omtrent nie eers spoed verminder nie. Met die laaste terugkyk het ek gesien hoe hy sy splinternuwe, GS850 Suzuki regop pluk en probeer aan die gang kry, om my agterna te sit. Gelukkig vir my was die nuwe Suzuki’s, groot en swaar padfietse. Hy het so honderd meter in die paadjie gevorder en toe besef dié motorfiets en sand in ‘n voetpaadjie, is nie vir mekaar gemaak nie.

Nou moes ek sy gedagtes probeer lees. Gaan hy om die hospitaal ry en kyk of ek by die ou Oos-Geduld gholfbaan uitkom of gaan hy terugry na die plek waar hy my probeer voorkeer het en aangaan met sy werk. Ek het eers ‘n tyd in die mynhope vertoef en toe gereken dat sy ego waarskynlik groter as sy werkywer sou wees en hy my ten alle koste sou wou vastrek. Ek het versigtig teruggery na die hospitaal se ingang. My aanname was in die kol. Daar was geen teken van hom nie. Net om veilig te speel het ek die ompad verby Springs vliegveld gery en deur Geduld terug huis toe. Wat my besiel het, weet ek steeds nie. Gelukkig het die storie daar geëindig.

My swaer was nie so gelukkig nie. Hy het een middag oppad huis toe in Pretoria, met sy motorfiets ‘n voetgangerbrug oor die N1 gebruik om kortpad te vat. Toe ‘n spietkop hom probeer voorkeer, het dieselfde breinprosesse as in my geval waarskynlik na vore gekom en hy het ook weggejaag. By die huis aangekom het hy met jeugdige bravade aangekondig dat hy nou net vir ‘n spietkop weggejaag het. Net om ‘n halfuur later die voordeurklokkie te hoor lui, met die einste wetstoepasser voor die deur. Ek kan nie onthou of hy as gevolg van die voortvarendheid van die jeug, met ‘n boete of net ‘n waarskuwing daarvan afgekom het nie, maar die skrik was dalk alreeds ‘n groot genoeg straf.

My rebelse streep word darem steeds goed in toom gehou, maar toe hulle onlangs sȇ jy mag taxi’s 100% volmaak, maar nie op die strand loop of vir vriende en familie gaan kuier nie, het die jong mannetjie op die fifty weer na vore gekom en sy reaksie was:

Wie gaan my keer?

In die tuimeldroeër, met net ‘n roeispaan

Vandat ek meer as ‘n dekade gelede die korporatiewe wêreld vaarwel toegeroep het en my eie potjie begin krap het, was daar en is daar vele uitdagings wat op ‘n daaglikse basis hanteer moet word. Maar een ding wat soos ‘n paal bo water staan, is die wonderlike geleenthede wat dit aan my gebied het om uitsonderlike plekke te sien en avonture te beleef.

Ek het in vorige blog inskrywings na ‘n paar van hulle verwys. Geleenthede om Abu Dhabi en Dubai te verken, Tanzanië se natuurskoon (en mal verkeer) te beleef, Zimbabwe se weggesteekte mooi in ‘n verwoeste land te ontdek en Namibië se fantastiese mense en omgewing te ervaar. Maar ook om Suid-Afrika van hoek tot kant te herontdek.

Maar dis veral die Namibië besoeke wat altyd ‘n spesiale plek in my geheue sal hê. Ons het spansessies en opleiding gedoen in Langstrand (tussen Swakopmund en Walvisbaai), met quadfietse in die woestyn rondgejaag, vroegoggend die duine uitgeklim en die son sien opkom met die Namib aan die een kant en die Atlantiese oseaan aan die ander kant. Ons was op ‘n eksklusiewe wildplaas noord van Windhoek, waar ons laatnag op ‘n stoep gesit en luister het na die naggeluide van jakkalse, leeus en ‘n legio ander diere. Sielservarings wat nie met geld gekoop kan word nie.

En dan was daar die week se roei op die Oranjerivier. Ek het baie laat die aand in Onsseepkans aangekom, na ‘n middagvlug van Kaapstad na Upington. Die volgende oggend het begin met ontbyt, ‘n inligting sessie wat al die moets en moenies verduidelik het om veilig by die eindbestemming uit te kom en toe ‘n indeling van twee mense per kano om min of meer ‘n gelyke verdeling van krag, gewig, ervaring en geslagte te verkry. My kano buddy was ‘n jongerige dame, wat op sig redelik skadeloos en onskuldig voorgekom het. Maar min het ek geweet van haar neiging om sonder waarskuwing haar eie kop te volg, soms links en regs om te ruil en gereeld te vergeet wat haar rol en funksie in die roeivennootskap is. As ek reg onthou is dit die voorste roeier se taak om op die uitkyk te wees vir enige hindernisse in die rivier. Vir ons groep was dit nogal belangrik, aangesien die rivier se watervlak redelik laag op plekke was en daar elke nou en dan ‘n klip of rots bo die water uitgesteek het. Die voorste roeier moet dan die agterste roeier, wat verantwoordelik is vir die stuur van die kano, betyds inlig om van koers te verander, na links of regs, om die hindernis te vermy. Eenvoudig. Toe nie.

Ons het al vroeg op dag een verskeie klippe raakgeroei, hoog en droog op een of twee rotse geëindig en by ‘n paar geleenthede links in plaas van regs uitgeswaai. Darem niks dramaties in ‘n stadig vloeiende rivier wat min inspanning vereis nie. Maar hef aan het voorgelê.

Intussen het ons die middag laat by die uitspanplek aangekom, tentjies opgeslaan en lekker gekuier. Die gidse doen al die werk wat kos aanbetref. Dan in die aand, rondom die kampvuur het ons ‘n uur of twee aan die kursusinhoud spandeer en dan verder gekuier. In die oggend terwyl die gidse met ontbyt besig was, het ons nog ‘n uur se opleiding ingepas en na ete weer in die kano’s geklim. My indruk was dat die span baie meer van die inhoud ingeneem het, as wat hulle ooit in ‘n lesinglokaal sou doen. Dit is agterna deur die spanlede beaam.

Een van die oornagplekke was teen ‘n sandduin langs die rivier, met geen ander lewende siel vir kilometers in enige rigting nie. Die totale stilte, met miljoene sterre wat lyk of jy hulle uit die lug kan pluk, is onbeskryflik. Die enigste ander plekke waar ek dit so naby en intens ervaar het, was in die Karoo en in Gamkaskloof.

Die volgende dag het ons skaars ‘n uur geroei toe die gids vir ons beduie om teen die regteroewer te parkeer teen ‘n groot ruigte riete. Dit was duidelik dat die rivier nou vinniger begin vloei het en veel dieper was as voorheen. Hier het hy in ‘n meer ernstige stemtoon as tot dusver, vir ons die plan van aksie vir die volgende been van die roeitog verduidelik. Dit het kortliks daarop neergekom dat ons hier sou wag, die twee gidse vooruit sou roei en wanneer hulle gereed is, hulle sou laat weet wanneer ons, een kano op slag, moet volg. Hulle sou dan van ‘n rots af vir ons beduie waar om te roei. Die rede vir die versigtigheid was nogal ernstig. Net om die draai, van waar ons hier aan die riete vasgehou het om nie in die stroomversnelling stroomaf te dryf nie, het die rivier in twee strome verdeel. Links was daar ‘n redelike hoë waterval, ‘n area wat ons ten alle koste moes vermy. Die opdrag was duidelik: Bly hier, wag vir die teken en kom dan een-een. En bo alles, roei so ver moontlik regs in die stroom om nie links by die waterval af te stort nie. Duidelik en eenvoudig. Volg net die opdrag.

Maar my roeibuddy het ander planne gehad. Ek het nog lekker agteroor gelê in die kano met ‘n verwagting dat ons omtrent eers derde of vierde in die tou was om die gidse te volg en dat dit seker eers oor 10 of 15 minute sou gebeur, toe ek skielik besef dat hier iets aan die gang was. Teen die tyd wat ek my oë kon oopmaak en regop kom in die kano, was ons al tien meter van die riete af met my mede-vaarder wat roei vir al wat sy werd is, met die stuurman (ek), wat al in my geestesoog sien hoe ons oor die waterval tuimel. Ek het geen ander keuse gehad as om ook vir ‘n vale te roei, net om ons in die regterkanste stroom te hou nie. Die gids het amper uit sy kano geval toe hy omkyk en die spektakel kort agter hom waarneem. Al wat hy kon doen was om te skree: Hou regs! Hou regs!. Ons is met ‘n spoed by hom verby en het genadiglik op ‘n sandbank ‘n ent verder gestrand.

Die volgende dag sou die hoogtepunt wees, volgens die gids. ‘n Stroomversnelling met die naam Big Bunny. Blybaar kom die naam van ‘n roeier wat nie van ‘n “rapid” gepraat het nie, maar van ‘n “rabbit”. Hierdie was die groot haas! Ons het voor die versnelling langs die rivier uitgeklim en al langs die rivier afgestap, waar ons sou roei. Die gids het verduidelik dat jy ‘n spesifieke roete MOET volg. Die ingang na die versnelling het twee strome gehad wat weerskante van ‘n groot ronde klip verbygegaan het. Jy moes ten alle koste by die linkerkantste stroom ingaan en dan, wanneer jy by die klip verby is, roei soos jy nog nooit geroei het nie, om deur die vernelling te gaan tot waar die water bietjie bedaar. Hy het ook verduidelik dat, sou jy dalk uit die kano val, dit belangrik is dat jy ‘n regop sittende posisie moet inneem, met jou voete voor jou om enige klippe en rotse af te weer wat jy in jou pad deur die versnelling sou teëkom, om ernstige beserings te voorkom.

Ek en my kreatiewe spanmaat is gewaarsku om solank gereed te maak, want ons sou volgende wees. Ek was nog besig om deur al die inligting in my kop te werk, toe ons soos voorheen, reeds halfpad na die groot klip oppad was voordat ek tot verhaal kon kom. Ek het alles probeer om ons in die linker stroom te kry, terwyl my vennoot dié oomblik gekies het om weer links en regs om te ruil en alles wat ek probeer vermag het, met teenoorgestelde aksies te neutraliseer. Ons het nie links of regs verbygegaan nie, maar presies in die middel van die klip geëindig. Ek wou nog aan plan B dink, toe die stroom ons stadig begin roteer en toe agterkant eerste in die versnelling losgelaat het. Ek het fanaties begin roei om ons kano se neus weer in die regte rigting te draai en het byna-byna geslaag, toe juffrou Onskuldig besluit dis nou ‘n goeie tyd om op te staan. Dit was die einde van die pad, of liewer die einde van die pad in die kano. Ek is nou met my roeispaan in die hand, sonder ‘n kano, gat oor kop in die tuimeldroeër af. Geen sprake van regop sit met my voete voor my nie. Dit was ‘n gemaal en ‘n gerol, sonder om enige idee te hê van voor of agter, bo of onder of wanneer die spinsiklus sou klaarmaak nie. Ek kon dit byna nie glo toe ek die kalm water tref sonder enige gebreekte bene, snye of bloed nie, net ‘n paar blou kolle en kneusings, die grootste een natuurlik aan my ego.

Die laaste dag was idillies, ook maar gelukkig so, want ek weet nie of ek nog ‘n Big Bunny sou oorleef nie. Almal het nou plekke uitgeruil of sommer net langs die kano’s in die water gedryf. Daar was geen inspanning nodig nie, net die rivier wat jou rustig stroomaf vat en al wat nodig is, is om net af en toe ‘n spaan in die water te druk om die rigting effens te verander. Terwyl ek en die span se bestuurder op ons rûe lê in die kano’s en oor hierdie ongelooflike ervaring gesels, gaan ons in ‘n kloof met hoë kranse in. Op dié oomblik verskyn daar bokant ons ‘n visarend met haar kleintjie, wat sy besig is om te leer vlieg. Elke keer as hy moeg word en op die krans wil gaan sit, dwing sy hom terug om weer te vlieg. En elke keer met daai kenmerkende Afrika klank, wat net ‘n visarend kan maak. Meer perfek kon ons die week nie afgesluit het nie.

Die huidige grendeltyd het nie alleen die meeste klein besighede tot stilstand gedwing nie, dit het ongelukkig ook ‘n langtermyn effek op besighede soos myne. Maatskappye stel opleiding en soortgelyke intervensies uit, om eers op kernbesigheid te fokus. Coaching, mentorskap en opleiding is noodsaaklik, maar die impak daarvan as dit gestaak word, is nie dadelik sigbaar nie. Mens sien dit eers maande later.

Ons bly hoopvol dat dinge gou sal stabiliseer. Nie alleen omdat die inkomste noodsaaklik is nie, maar ook omdat ek hierdie aktiwiteite, kliënte en omgewings mis. Ek wil weer die adrenalien voel, die water sien spat en hopelik dié keer, met ‘n kano deur die stroomversnelling kom.