Advertensies

Ek sit en kyk na ‘n baie interessante video op my foon. Dan, vir die soveelste keer, verskyn daar uit die niet ‘n advertensie oor swembaddens. ‘n Paar geselekteerde gevleuelde woorde gaan deur my gedagtes, maar ek sê dit darem nie hardop nie, nog nie. Dink hulle regtig ek gaan, as ek ooit weer iets met ‘n swembad wil doen, van hulle gebruik maak. Net uit ‘n beginselhoek sal ek juis die teenoorgestelde doen.

Dis heerlik om na ‘n opgeneemde program op TV te kyk en met ‘n byna selfbehaaglike uitdrukking op my gesig, die vorentoe knoppie te druk om al die advertensies oor te slaan. As ek bietjie jonger was, het ek dalk tong uitgesteek.

Dit was nie altyd so nie. Dit laat my wonder: Wat het verander? Is dit ek wat ouer is en nie meer onderbrekings wil hê met dit waarmee ek besig nie? Is die advertensies net nie meer relevant vir my leefstyl en demografiese groepering nie? Of het die kwaliteit van advertensies, ten minste hier in Suid-Afrika, dramaties verswak?

Was die advertensies, toe TV op die toneel gekom het, regtig beter as vandag? Het ons nie dalk net genoeg advertensies gesien en nou ‘n versadigingspunt bereik nie?

Jare gelede het ek en vriend Andre, wat meer van bemarking geweet het as ek, selfs moeite gedoen en Sandton toe gery om na die beste advertensies in die wȇreld te gaan kyk. En as ek reg onthou, was daar ook plaaslike advertensies wat hul merk in dié uitgelese geselskap gemaak het.

Navorsing in die VSA het bevind dat humor vir die meeste verbruikers een van die belangrikste elemente is wat hulle van ‘n advertensie laat hou. Ek dink nie dit is veel anders hier nie. Van die suksesvolste advertensies op SA TV was dié met humor, nie net humor nie, maar tipiese Suid-Afrikaanse humor.

Advertensies wat onmiddelik by my opkom is onder andere die Sasol advertensies (“glug, glug” en die ouma se “ag seker nie ver nie”), die karakters van Castrol – Boet, Swaer en Mogae in die Kalahari (“a can of the best”), David Kramer met die Volksiebus, Toyota se honde advertensies (“wat ‘n chop”), Klipdrift (“nog enetjie” en “met eish ja”), Lunch bar (“now you’ve ruined the friendship” en “I’m a Makatini”), Cremora (Jan Spies se “pure plaas, ryk en lekker, koffie kapitaal” en “it’s not inside, it’s on top”), Wimpy (“I love it when you talk foreign”), CTM (“not too shabby Nige”), Douglas Green se toeris advertensie, MNet (diere wat praat en sing, soos die skape wat Barbara Ann sing), Pretoria se bemarking met standbeelde van Jan van Riebeeck, koningin Victoria en Paul Kruger (Carel Trichardt met “dit groei net Viccy, dit groei net”), Chomp se seekoeie (“Ou grootbek”), al Nando’s se advertensies en nog vele meer.

Een van die tekens dat ‘n advertensie die teikenmark bereik het, is wanneer die advertensie se sêgoed deel raak van die volksmond, soos wat gebeur het met die meeste van die voorbeelde hierbo genoem. Ek se nou nog op tye as ons by mense gekuier het en wegry: “Gawe mense, die Jansens”

Ander advertensies wat by my vasgehaak het, is onder andere die een van Volkswagen wat die lewenssiklus van jonkwees, verlief raak, trou, kinders kry, werk druk en stres en verhoudings wat swaarkry uitbeeld todat die sleutels van die Beetle vir die volgende generasie aangegee word (met die Andre de Villiers se Memories as temamusiek), die Sun City advertensie op die musiek van Queen se We will rock you (ek praat onder korreksie, maar dit is steeds die duurste en langste advertensie wat op SA TV verskyn het), dis opgevolg met Carousel se bekendstelling (met You ain’t seen nothing yet van Bachman Turner Overdrive) en IBM se olifante (op die musiek van die Hollies se “He ain’t heavy, he’s my brother”). Ek vermoed daar is ‘n hele generasie wat grootgeword het met die idee dat olifante uit eiers uitbroei.

Dan is daar nostalgiese advertensies, vir my persoonlik. Produkte soos Blue Stratos (wie kan die advertensie vergeet van die blou hang glider). Meeste van ons hoërskool seuns het Blue Stratos of Brut gekoop en so koel soos die manne in die advertensie probeer wees. Die Lion advertensies op radio en later op TV bring ook herinneringe terug (“biermanskap, leeuplesier – met Tito Lupini wat oor die doellyn bars en Paul Mattison van die groep The Mattison Brothers se diep stem wat sê “nothing less than the best”. Ook die Mainstay advertensie wat altyd gespeel het tydens die Top 20 op Springbokradio en later op TV (“you can stay as you are for the rest of your life, or you change to Mainstay”)

Dit bring my terug na my oorspronlike vraag – het ons advertensies verswak, stel ek net nie meer belang nie of is die fokus op ‘n ander teikenmark?

Ek sien hulle adverteer nou ‘n deodorant wat volgens die advertensie 72 uur kan hou, met ander woorde drie dae, en dan is die akteurs nog boonop besig om te oefen, te werk en te sweet. Miskien in ‘n land waar die temperatuur rondom vriespunt bly, nie in Nelspruit, Messina of Garies nie. Heeltemal belaglik en onrealisties. Of die gladde gesig seuntjies wat skeermesse adverteer. Daar is niks om te skeer nie. Gee daai lem vir Victor Matfield of Demis Roussos en ons praat weer. Dit onderskat ‘n mens se intelligensie. Dalk is dit een van die redes waarom ek belangstelling verloor het?

Gee maar liewers weer vir my die dae van braaivleis, rugby, sonskyn en Chevrolet!

1 Comment

  1. woordnoot says:

    Ek haat advertensies….ek dink dis omdat ons toegegooi word daarmee want jy kan nêrens meer iets lees op enige platform sonder dat daar nie advertensies tussen ingegooi word nie. Ek soek op Google die naweek na ‘n gif om krulblaar op my suurlemoenboom te behandel en kom op die webtuiste af van ‘n maatskappy, net om oordonder te word met advertensies van vrouens se anatomie…..dis hoekom ons dik raak daarvoor.

Leave a Comment